DIE OPENBARING 4:1-11 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion
DIE OPENBARING 4:1-11 AFR83 (Afrikaans 1983)
Hierna het ek, Johannes, in die hemel 'n deur gesien wat oopgemaak is, en die stem, soos die geluid van 'n trompet, wat ek die eerste keer met my hoor praat het, het gesê: “Kom op hierheen, en Ek sal vir jou wys wat hierna moet gebeur.” Onmiddellik is ek deur die Gees meegevoer. Ek het gesien daar staan 'n troon in die hemel en op die troon sit daar Iemand. Sy voorkoms was soos opaal en karneool. Om die troon was daar 'n reënboog met die glans van smarag. Reg rondom die troon was daar vier en twintig ander trone, en op die trone het daar vier en twintig ouderlinge gesit. Hulle het wit klere aangehad, en op hulle koppe was daar goue krone. Daar het weerligstrale, dreunings en donderslae van die troon af gekom. Vlak voor die troon het sewe fakkels helder gebrand. Dit is die sewe Geeste van God. Voor die troon was dit soos 'n spieëlgladde see, helder soos kristal. Naby, rondom die troon, was daar vier lewende wesens, vol oë van voor en van agter. Die eerste lewende wese het soos 'n leeu gelyk en die tweede soos 'n bul; die derde het 'n gesig soos dié van 'n mens gehad en die vierde het gelyk soos 'n arend wat vlieg. Elkeen van die vier lewende wesens het ses vlerke gehad, wat aan die bokant en aan die onderkant vol oë was. Hulle het dag en nag sonder om te rus, gesê: “Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, Hy wat was en wat is en wat kom.” Elke keer wanneer die lewende wesens heerlikheid, eer en dank toebring aan Hom wat op die troon sit, wat tot in alle ewigheid lewe, kniel die vier en twintig ouderlinge voor Hom wat op die troon sit, en aanbid Hom wat tot in alle ewigheid lewe. Hulle sit dan hulle krone voor die troon neer en sê: “Here, ons God, U is waardig om die heerlikheid en die eer en die mag te ontvang omdat U alles geskep het; deur u wil het alles ontstaan en is dit geskep.”
DIE OPENBARING 4:1-11 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
NÁ hierdie dinge het ek gesien — kyk, 'n geopende deur in die hemel, en die eerste stem wat ek soos 'n basuin met my hoor spreek het, het gesê: Kom op hierheen, en Ek sal jou toon wat ná hierdie dinge moet gebeur. En dadelik was ek in die Gees, en kyk, daar staan 'n troon in die hemel en Een sit op die troon. En Hy wat daarop sit, het in sy voorkoms gelyk soos die steen jaspis en sardius; en rondom die troon was 'n reënboog wat in sy voorkoms gelyk het soos 'n smarag. En rondom die troon was daar vier-en-twintig trone, en op die trone het ek die vier-en-twintig ouderlinge sien sit, bekleed met wit klere; en hulle het goue krone op hulle hoofde gehad. En daar het weerligte en donderslae en stemme uit die troon uitgegaan, en sewe vuurfakkels wat die sewe Geeste van God is, het voor die troon gebrand; en voor die troon was daar 'n see van glas soos kristal, en in die middel van die troon en rondom die troon vier lewende wesens vol oë van voor en van agter. En die eerste lewende wese was soos 'n leeu, en die tweede lewende wese was soos 'n kalf, en die derde lewende wese het 'n gesig gehad soos 'n mens, en die vierde lewende wese was soos 'n arend wat vlieg. En die vier lewende wesens het elkeen vir homself ses vlerke gehad, en hulle was rondom en van binne vol oë; en hulle het sonder ophou dag en nag gesê: Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, wat was en wat is en wat kom! En elke keer as die lewende wesens heerlikheid en eer en danksegging gee aan Hom wat op die troon sit, wat tot in alle ewigheid lewe, val die vier-en-twintig ouderlinge neer voor Hom wat op die troon sit, en aanbid Hom wat tot in alle ewigheid lewe, en werp hulle krone voor die troon en sê: U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape.
DIE OPENBARING 4:1-11 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Hierna het ek gekyk, en werklikwaar, ’n deur is oopgemaak in die hemel, en ’n stem wat ek vantevore al hard soos ’n trompet met my hoor praat het, het gesê: “Kom op hierheen, en Ek sal aan jou wys wat hierna moet gebeur.” Onmiddellik was ek in die greep van die Gees. Ek het ’n troon in die hemel sien staan met Iemand wat daarop sit. En die Een wat sit, se voorkoms was net soos jaspis en karneool, terwyl daar ’n reënboog met die glans van smarag om die troon gehang het. Rondom die troon was daar 24 trone en op die trone het 24 ouderlinge gesit. Hulle het wit klere aangehad, met goue krone op hulle koppe. Van die troon se kant af het daar weerligstrale, rammelings en donderslae gekom. Reg voor die troon het sewe vlammende fakkels gebrand; dit is die sewe Geeste van God. Vlak voor die troon het dit gelyk soos ’n spieëlgladde see, soos kristal. In die middel en rondom die troon het daar vier lewende wesens gestaan, met oë aan die voor- en agterkant. Die eerste lewende wese het soos ’n leeu gelyk, die tweede soos ’n bul, die derde het ’n gesig soos dié van ’n mens gehad, en die vierde het gelyk soos ’n vlieënde arend. Die vier lewende wesens het elkeen ses vlerke gehad wat rondom en aan die binnekant vol oë was. Hulle het dag en nag, sonder enige ruspouse, aanhou sê: “Heilig, heilig, heilig is die Here God die Almagtige, Hy wat was en wat is en wat kom.” Elke keer wanneer die lewende wesens heerlikheid, eer en dank toebring aan Hom wat op die troon sit, Hy wat vir altyd lewe, val die 24 ouderlinge in aanbidding neer voor Hom wat op die troon sit. Hulle aanbid Hom wat vir altyd lewe en sit hulle krone voor die troon neer en sê: “U is waardig, Here ons God, om die heerlikheid en die eer en die mag te ontvang omdat U alle dinge geskape het; deur u wil is alles wat bestaan, geskape.”
DIE OPENBARING 4:1-11 DB (Die Boodskap)
Ek kyk toe op en wat sien ek daar? Soos dit vir my gelyk het, was daar aan die blou koepel van die hemel ’n deur wat oopgestaan het. Ek hoor toe Iemand met my praat. Dit was dieselfde stem wat ek die heel eerste keer gehoor het. Dit was mos so hard soos ’n trompet wat in my oor geblaas word. Hy sê toe vir my: “Kom op hierheen. Dan sal Ek jou wys hoe alles van hier af gaan gebeur.” Die Heilige Gees het met my laat gebeur wat die stem gevra het. Ek is deur die deur in die hemel in. Daar, in die hemel, het ’n troon gestaan. Iemand, God self, het op die troon gesit. Toe ek na Hom kyk, was dit of ek na edelgesteentes kyk wat wit en rooi lig weerkaats. Dit het my daaraan laat dink hoe groot God is, maar ook laat besef dat Hy goddeloses gaan oordeel. ’n Pragtige reënboog het ook God se troon omraam. Dit het geskitter soos ’n groen edelsteen. Dit het my laat besef dat God wat op die troon sit, altyd getrou is. Rondom hierdie groot troon in die middel het daar nog 24 trone gestaan. Op elkeen van hierdie trone het ’n leier van die kerk gesit, 24 van hulle. Hulle het duur, wit klere aangehad en soos konings het elkeen met ’n goue kroon op sy kop gesit. Hulle het saam met God geheers. Blitse het geslaan en die donder het uit die rigting van die troon gerommel. Die Gees van God het voor God se troon gestaan, gereed om sy werk te gaan doen. Dit het kompleet gelyk soos ’n klomp helder ligte wat gelyk brand. Voor die troon was dit of daar ’n see van glas was, glad en stil. Dit het my laat besef dat niks van Satan se bose onrustigheid God se kalmte ooit sal kan versteur nie. Aan elkeen van die vier kante van die troon het ’n lewende wese gestaan. Hulle het baie besonders gelyk. Hulle het niks misgekyk nie, want hulle was oortrek van die oë. Die eerste een het soos ’n leeu gelyk en die tweede een soos ’n os. Die derde een het ’n gesig soos ’n mens s’n gehad en die vierde een het gelyk soos ’n arend wat vlieg. Hierdie vier wesens het die skepping verteenwoordig: die arend het die vlieënde diere, die leeu die wilde diere en die os die mak diere verteenwoordig en die een met die gesig van ’n mens het al die mense verteenwoordig. Elkeen van die vier diere het ook ses vlerke gehad. Niks in die skepping was dus buite hulle bereik nie, want met hulle vlerke kon hulle oral vlieg. Die vlerke was ook oortrek met oë wat alles sien. Dag en nag, sonder ophou, het hulle bly sê: “Heilig, heilig, heilig is God die Here, die Een wat mag oor alles het. Hy was nog altyd daar, Hy is nou steeds by ons, en Hy sal in die toekoms nog altyd by ons wees.” Die vier lewende wesens maak geen geheim daarvan hoe groot God is nie. Hulle basuin oral uit hoe belangrik Hy is. Hy is daar en leef vir ewig en altyd. Hulle hou nie op om vir God wat op sy troon sit vir alles en nogmaals alles dankie te sê nie. Wanneer die 24 leiers van die kerk dit hoor, val hulle uit eerbied voor God neer wat op die troon sit. Hulle aanbid Hom wat vir ewig en altyd leef. Hulle sit die krone voor God neer om te wys dat Hy die enigste werklike heerser is. Dan sê hulle in ’n koor: “Here, ons God, wie kan so belangrik wees soos U? Na U sien almal op; U is sterker as die sterkstes. En dit is ook reg so, want dit is hoe U is. Ja, U het alles gemaak. Alles in die skepping is daar omdat U dit so wou gehad het.”
DIE OPENBARING 4:1-11 ABA (Bybel vir almal)
Nadat hierdie dinge gebeur het, het ek gekyk en ek het gesien 'n deur in die hemel is oop. Die Persoon wat voorheen met my gepraat het, het vir my gesê: “Kom op hiernatoe, dan sal Ek vir jou wys wat ná hierdie dinge moet gebeur.” Die Persoon se stem was so hard soos 'n trompet. Die Gees het in my gekom, en toe sien ek in die hemel 'n troon en ek sien Iemand sit op die troon. Die Persoon op die troon het gelyk soos jaspis en karneool. Rondom die troon was 'n reënboog wat soos smarag gelyk het. Rondom die troon was daar 24 trone. Op die trone het 24 ouderlinge gesit. Hulle het wit klere gedra, en op hulle koppe was daar goue krone. Daar het weerlig en donderweer van die troon gekom en dit het geraas. Sewe fakkels het voor die troon gebrand. Dit was die Sewe Geeste van God. Voor die troon was daar iets wat gelyk het soos 'n see van glas, dit was so helder soos kristal. In die middel, rondom die troon, was daar vier diere. Elke dier se liggaam was vol oë, voor en agter. Die eerste dier het gelyk soos 'n leeu. Die tweede dier het gelyk soos 'n bul. Die derde dier se gesig het gelyk soos 'n mens se gesig. Die vierde dier het gelyk soos 'n arend wat vlieg. Elke dier het ses vlerke gehad, en daar was oë oral op die vlerke, bo en onder. Die vier diere het aangehou sing: “Die Here God, die Almagtige, is heilig, heilig, heilig! Hy was altyd daar, Hy is nou daar en Hy sal weer kom!” Ja, die vier diere het die Persoon wat op die troon sit, geloof en geprys. Hulle het vir Hom dankie gesê, vir Hom wat altyd lewe. Elke maal wanneer hulle dit doen, dan het die 24 ouderlinge op die grond gaan lê voor die Persoon wat op die troon sit. Hulle het tot Hom gebid, tot Hom wat altyd lewe. Hulle het hulle krone voor sy troon neergesit en gesê: “Here, ons God, almal moet U eer en prys en sê hoe sterk U is! Ons wil U eer! Ons wil U prys! Ons wil sê hoe sterk U is! Want U het alles gemaak! Ja, U het so besluit, daarom is alles daar, U het alles gemaak!”
DIE OPENBARING 4:1-11 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Hierna het ek gesien, en kyk, 'n deur wat in die hemel geopen is, en die stem wat ek voorheen so hard soos 'n basuin met my hoor praat het, het gesê: “Kom op hierheen, en Ek sal aan jou wys wat hierna moet gebeur. ” Onmiddellik het die Gees van my besit geneem, en kyk, daar was 'n troon in die hemel, en Iemand wat op die troon sit. Die Een wat daarop sit, se voorkoms was soos •jaspis en •karneool, en rondom die troon was daar 'n reënboog wat net soos •smarag lyk. Rondom die troon was daar vier-en-twintig trone, en op die trone het vier-en-twintig ouderlinge gesit. Hulle het wit klere gedra, met goue krone op hulle koppe. Vanuit die troon het daar weerligstrale, dreunings en donderslae gekom. En voor die troon het sewe vuurfakkels gebrand – die sewe Geeste van God. Voor die troon lyk dit soos 'n see van glas, net soos kristal. In die middel van die troon en rondom die troon staan daar vier lewende wesens, vol oë aan die voorkant en agterkant. Die eerste lewende wese lyk net soos 'n leeu; die tweede lewende wese net soos 'n kalf; die derde lewende wese het 'n gesig net soos 'n mens, en die vierde lewende wese lyk net soos 'n arend wat vlieg. Die vier lewende wesens het elkeen ses vlerke, wat reg rondom en aan die binnekant vol oë is. Sonder om te rus, herhaal hulle dag en nag: “Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, Hy wat was en wat is en wat kom. ” En telkens wanneer die lewende wesens heerlikheid en eer en dank bring aan Hom wat op die troon sit, aan Hom wat vir ewig en ewig leef, val die vier-en-twintig ouderlinge in aanbidding neer voor Hom wat op die troon sit. Hulle aanbid Hom wat vir ewig en ewig leef, en sit dan hulle krone voor die troon neer, terwyl hulle sê: “U is waardig, ons Here en God, om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang, omdat U alle dinge geskep het; deur u wil het alles ontstaan, is dit geskep.”
DIE OPENBARING 4:1-11 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Hierna het ek gekyk, en kyk, daar gaan 'n deur in die hemel oop, en die eerste stem wat ek gehoor het, was soos 'n basuin wat met my praat; wat gesê het: Kom op hierheen, en ek sal jou die dinge te kenne gee wat hierna moet gebeur. En dadelik was ek in die gees, en kyk, 'n troon staan in die hemel, en een sit op die troon. En hy wat sit, was om te sien soos 'n jaspis- en 'n sardiensteen, en daar was 'n reënboog rondom die troon, in sig soos 'n smarag. En rondom die troon was vier-en-twintig stoele; en op die stoele het ek vier-en-twintig ouderlinge sien sit, geklee in wit klere; en hulle het goue krone op hulle hoofde gehad. En uit die troon het weerligstrale en donderslae en stemme uitgegaan, en daar het sewe vuurlampe voor die troon gebrand, wat die sewe Geeste van God is. En voor die troon was daar 'n see van glas soos kristal, en in die middel van die troon en rondom die troon was vier diere vol oë voor en van agter. En die eerste dier was soos 'n leeu, en die tweede dier soos 'n kalf, en die derde dier het 'n gesig gehad soos 'n mens, en die vierde dier was soos 'n vlieënde arend. En die vier diere het elkeen ses vlerke om hom gehad; en hulle was van binne vol oë, en hulle het dag en nag nie gerus en gesê: Heilig, heilig, heilig, Here God, die Almagtige, wat was en is en wat kom. En wanneer daardie diere heerlikheid en eer en dank gee aan Hom wat op die troon sit, wat tot in alle ewigheid lewe, Die vier-en-twintig ouderlinge val neer voor Hom wat op die troon sit, en aanbid Hom wat vir ewig en altyd lewe, en hulle werp hulle krone voor die troon en sê: U is waardig, o Here, om heerlikheid en eer en krag te ontvang, want U het alles geskape, en na U welbehae is hulle en is hulle geskape.