God is aan jou kant deur Nina SmitVoorbeeld

God is aan jou kant deur Nina Smit

DAG 5 VAN 5

God sal jou lei  

In Jesaja 58 belowe God sy volk wat uit ballingskap teruggekeer het dat Hy hulle weer sal seën as hulle hulle oor mense ontferm wat minder het as hulle. Vir die mense wat aan hierdie bevel gehoorsaam is, beloof God dat Hy hul gebede sal verhoor en hulle sal help, dat Hy self voor hulle sal uitgaan en hulle van agter sal beskerm, dat Hy hulle altyd sal lei. In die verlede het hierdie volk hul Verbondsgod so dikwels teleurgestel dat God se geduld opgeraak het en Hy hulle in ballingskap laat wegvoer het. Maar nou wil Hy hê dat hulle na Hom terugkeer. Vir dié mense wat na Hom terugkom, beloof God om hul omstandighede te verander.

Hy sal sy volk weer seën en in elkeen van hul behoeftes voorsien. Die toekoms is vir almal van ons ’n geslote boek en nie een van ons kan ons foute van die verlede tot niet maak nie. Tog geld God se genade-aanbod aan sy volk steeds vandag vir jou: As jy bereid is om na Hom terug te keer, om mense te help wat minder het as jy, sál God jou weer seën en in elkeen van jou behoeftes voorsien.

Maar dan moet jy bereid wees om God se voorwaardes na te kom. Daar is ’n Engelse aanhaling wat vir my baie kosbaar is: “Yesterday is history, tomorrow is a mystery. Today is a gift, that’s why we call it the present.” Nee, jy kan niks doen aan al die baie foute wat jy gister en eergister begaan het nie – dit is vir altyd verby. Jy weet ook nie wat môre vir jou voorlê nie, maar jy het vandag; God se geskenk aan jou! Neem hierdie geskenk vir jou en bid dat God jou elke oomblik sal lei.

Gebed:

Hemelse Vader, dankie vir vandag! Dankie dat ek nog ’n kans het om na U terug te keer, om ander te help en die tyd wat ek van U kry ten beste te gebruik. Ek bid dat U my in die toekoms elke oomblik sal lei. Amen. 

Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

God is aan jou kant deur Nina Smit

Hierdie 5-dag-leesplan sal lesers herinner aan God se blywende liefde, en sal hulle bemoedig om hul seënings te tel en elke dag voluit te leef. Elkeen van die vyf dae handel oor ’n spesifieke tema (soos om te fokus op die positiewe en om altyd dankbaar te lewe) en sluit ’n toepaslike gebed en Bybelvers in. Die inhoud vir hierdie leesplan is gebaseer op Nina Smit se “God is aan jou kant”. 

More

Baie dankie aan Struik Christian Media en Nina Smit dat hulle hierdie plan beskikbaar gestel het. Vir meer inligting oor die boek, "God is aan jou kant", besoek: https: / / www.cumbooks.co.za/god-is-aan-jou-kant-sagteband en [Oor die uitgewer] http: // www. struikchristianmedia.co.za