Dit Het Gebeur (Waardig, Waardig) Uit "Vertical Worship" Voorbeeld
Wyse Manne
Ja, Ek Sal My Tot Christus Wend.
Kersfees is die besigste tyd van die jaar vir lugrederye, spoorweë en snelweë. Mense seil deur die lug in vliegmasjiene, gly in metaalhouers oor ysterstawe en ry in die hitte op paaie, terwyl hulle vol afwagting, opwinding of sommer 'n kombinasie van albei is.
Hierdie vakansiereise is op 'n manier deur die eerste Kersfeesreis vooruitgegaan en ingewy: 'n lang, gevaarlike pad na Jerusalem toe.
Matteus 2:1-2:
"Jesus is in Betlehem in Judea gebore tydens die regering van koning Herodes. Na Jesus se geboorte het daar sterrekykers uit die ooste in Jerusalem aangekom en gevra: 'Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is? Ons het sy ster sien opkom en ons het gekom om aan Hom hulde te bewys'."
Die wyse manne kon van enige land oos van Israel, wat aan Matteus bekend was, gekom het: Irak, Iran, Saudi Arabië, of Jemen. Ons weet nie presies watter land nie, maar dit maak nie saak nie. Wat wel saak maak, is dat die wyse manne die gerief van hul huise en families verlaat het en hierdie lang tog onderneem het, deur die woestyn, waar baie min natuurlike waterbronne was, moontlik op kamele (onthou dit tog die volgende keer wat 'n Kersfeesvlug vertraag word).
In daardie dae het oosterlinge geglo dat die verskyning van 'n nuwe ster in die nagruim of gebeurtenis in die hemelruim, soos 'n komeet of supernova uitbarsting, die geboorte van 'n koning voorspel het. Dus, toe die wyse manne 'n ster oor Israel gesien het, het hulle aanvaar dat 'n nuwe koning van die Jode daar gebore is. Met hul aankoms in Jerusalem, het dinge egter skeef geloop:
Matteus 2:7-8:
"Daarna het Herodes die sterrekykers in die geheim ontbied en noukeurig by hulle vasgestel wanneer die ster verskyn het. Hy het hulle na Betlehem toe gestuur met die woorde: 'Gaan doen noukeurig ondersoek na die Kindjie, en as julle Hom kry, laat my weet, sodat ek ook aan Hom hulde kan gaan bewys'."
Wanneer mense hulle in hul harte voorneem om Christus te soek, ontdek en te aanbid, word hulle dikwels onderbreek en ondervra deur ander wat voel dat hul onafhanklikheid en selfbeskikking deur Jesus bedreig word. Net so het Herodes jaloers, onseker en bedreigd gevoel toe ryk, geleerde wetenskaplikes uit die ooste na Israel gekom het om 'n nuwe koning — nie hom nie — te soek en te aanbid. Hy betrek die wyse manne deur voor te gee dat hy in hul navorsing belangstel, maar eintlik kommandeer hy hulle op as sy spioene, terwyl hy sy bedrog met vleiery en oneerlike praatjies verberg.
Matteus 2:9-12:
"Nadat hulle die koning aangehoor het, het hulle vertrek; en kyk, die ster wat hulle sien opkom het, het hulle begelei totdat dit gaan staan het bo die plek waar die Kindjie was. Toe hulle die ster sien, was hulle baie bly. Hulle het die huis ingegaan en die Kindjie saam met Maria, sy moeder, gesien, en hulle het gekniel en aan Hom hulde bewys. Daarna het hulle hulle reissakke oopgemaak en vir Hom geskenke uitgehaal: goud, wierook en mirre. En omdat God hulle in 'n droom gewaarsku het om nie na Herodes toe terug te gaan nie, het hulle met 'n ander pad na hul land toe teruggegaan."
Wanneer ons in aanbidding en verwondering voor Christus die Verlosser neerval, kanselleer sy glansrykheid al die wêreld se aanbiedinge. Om in die teenwoordigheid van Jesus te wees en na Hom as Opperwese te kyk, verdof alles wat in hierdie wêreld blink. Dit werp die lig op dít wat waarlik belangrik is. Die wyse manne is in 'n droom gewaarsku om nie na Herodes terug te gaan nie, maar hulle het nog steeds 'n keuse gehad. Hulle kon die droom ignoreer, uit vrees vir die gevolge as hulle net wegglip, en hul bevindinge aan Herodes gaan rapporteer. Herodes se mag was indrukwekkend, verreikend en genadeloos. Dit het egter net een kyk na Jesus geneem om hulle te laat besluit om nie na Herodes terug te gaan nie.
Waar jou reise jou ook al gedurende hierdie Kersfees mag neem, watter angstighede of onderbrekings of afleidings jou fokus van die Christuskind mag weglei — of dit nou 'n familiedrama of beplanning of finansies of enigiets anders is — plaas jou hart en jou denke ten volle op die genade wat aan jou deur Jesus in die krip gegee is. Deur jou oë op Jesus te rig, sal al die lief en leed van die Kersfeestyd in onweerlegbare perspektief stel, dié soort wat vryheid en vreugde bring.
Gebed en Oefening:
Skryf die vyf dinge neer wat in hierdie Kersfeestyd jou aandag die meeste van Jesus aftrek, dit waaraan jy die meeste dink en wat al jou energie dreineer. Bid oor elkeen, vra vir God om Homself as die Almagtige oor hierdie omstandighede te bewys en om vir Christus as die Oppermagtige daaroor te verhef.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Die Kersverhaal is oorbekend. Baie mense het dit al van kleins af op die een of ander manier gehoor. Die kriptonele, die herders en die wyse manne is almal deel van die kulturele verhaal wat oor die afgelope tweeduisend jaar vertel en oorvertel is. Met so 'n bekende verhaal is dit maklik om te dink dat daar niks nuuts is om te leer nie. Tog, die Woord van God is lewend en aktief — wat beteken dit werk in ons op nuwe maniere, elke keer wat ons dit deurdink.
More