Jy Kán Verander Deur Gerdi van den BergVoorbeeld

Jy Kán Verander Deur Gerdi van den Berg

DAG 2 VAN 5

Die deurdring van die Woord

Ons lees in Hebreërs 4:12: “Want die Woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ’n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.” Twee dinge val ’n mens dadelik op: dat die Woord van God sny en dat daar iets is wat gesny word.

Ons is daardie iets. Ons is die voorwerp wat deur die swaard van die Woord gesny en binnegedring word, soms wetend en soms onwetend. Ons binnekant word oopgekloof. ’n Pad word oopgebaan vir verandering. In vers 13 stel die skrywer dit onomwonde dat geen wese iets van die lewende God kan wegsteek nie. Hy sien alles en Hy weet hoe gesny moet word sodat ons binnekant oopgemaak word vir sy lig en sy genesingswerk om te begin. Die gedeelte herinner ons ook dat Jesus ons Hoëpriester is wat vir ons intree en groot simpatie het met ons swakhede. Hy doen vir ons wat ons nie self kan regkry nie.

Hy maak vir ons ’n pad oop waar geen pad moontlik was nie, ’n pad van hoop en vryheid, maar veral ’n pad na ’n ewigheid saam met Hom, ons Voorbidder en Verlosser.

Dit is een van die kern-aspekte wat permanente verandering moet voorafgaan: Wie Jesus vir ons is. Slegs wanneer ons vir seker weet dat Hy ons Voorbidder en Verlosser is, kan ons by Hom veilig voel. Ons moet veilig voel voordat ons ons innerlike kapasiteit sal kan vergroot.

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Jy Kán Verander Deur Gerdi van den Berg

Hierdie 5-dag-leesplan sal lesers aanmoedig om ’n verandering in hul lewe te maak. Elke dag bevat gedagtes rondom die temas van gedagtes en verandering, en eindig met ’n Bybelvers. Die inhoud vir hierdie leesplan is gebaseer op Gerdi van den Berg se boek "Jy kán verander".

More

Ons wil graag Struik Christian Media bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: http://www.struikchristianmedia.co.za/