Die Wapenrusting Van GodVoorbeeld
Ons definieer geloof met hierdie eenvoudige definisie: om te leef asof God die waarheid praat.
Waarheid. Dit is die skarnier waaraan die hele kwessie van ‘n geloofgevulde lewe hang. As jy nie die waarheid ken nie, kan jy nooit werklik weet hoe om daarvolgens te leef en op te tree nie. Die waarheid van God se karakter en Sy Woord voorsien dus die raamwerk wat ons geloof in staat stel om te groei en te ontwikkel.
Die waarheid van God is wat ons geloof in God die moeite werd maak. Sonder waarheid het ons niks standvastig waaraan ons ons skild van geloof kan ophang nie. Om die waarheid van God en die waarheid oor God te ken soos dit in Sy Woord geopenbaar word, is daarom uiters belangrik as ons ons geloof verantwoordelik wil uitleef, as ons die voordeel van die ongelooflike beskerming van ons skild wil ervaar.
Enige gesprekke oor geloof sal onvolledig wees sonder om klem te lê op hoe uiters belangrik dit is om die stem van God duidelik en reg te hoor.
As ons nie oppas nie, kan geloof baie maklik in dwaasheid verander – onverstandige, impulsiewe en selfs roekelose en gevaarlike gedrag in die naam van geloof. Ware geloof moet egter altyd stewig op die fondament van God se geskrewe Woord staan terwyl Sy Gees jou lei om dit in jou lewe toe te pas. Hoe sal jy die verskil tussen geloof en dwaasheid beskryf? Wat keer jou om die grens tussen die twee oor te steek?
As gelowiges het ons die voorreg om Sy leiding vir ons te ontdek wanneer ons dit biddend soek. God sal getrou wees en vir ons die waarheid wys; Hy sal ons lei in die volgende tree wat ons moet gee. Om hierdie volgende tree met vertroue en met God se goedkeuring te gee, sal ons eintlik baie meer help om gebalanseerd te bly terwyl ons bly streef na ‘n leefstyl wat deur die skild van geloof beskerm word.
As jy eers God se waarheid of God se beloftes oor ‘n spesifieke saak goed ken, is dit tyd om vorentoe te beweeg op ‘n manier wat in pas is daarmee. Luister mooi, jou gevoelens durf nooit die finale sê oor jou optrede te hê nie. Gevoelens verander en is aan prikkels van buite onderworpe. Wanneer ons in geloof optree, moet ons dade geanker wees in iets wat baie stewiger is en vas staan.
Ons God is waarheid en Hy verdien om gevolg te word.
Hy is altyd daar – en baie, baie sterker as Satan – om ons bekommerde gebede te hoor, Sy vreeslose beloftes te herbevestig en die volgende lamp aan te steek wat ons nodig het om vas en seker in Sy koers te bly voortstap. Skilde op soldate! Ons leef in geloof.
Hierdie 5 dag oordenking is geneem uit DIE WAPENRUSTING VAN GOD deur Priscilla Shirer © Christelike Uitgewersmaatskappy.
https://www.cumbooks.co.za/die-wapenrusting-van-god-sagteband
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Daar woed elke dag, die hele dag lank, ’n onsigbare oorlog om vroue. Dit kan nie gesien of gehoor word nie, maar dit kan in elke aspek van ’n mens se lewe gevoel word. ’n Toegewyde, bose vyand wil chaos veroorsaak in alles wat vir ’n vrou saak maak: haar hart, gedagtes, huwelik, kinders, verhoudings, drome en toekoms. Maar sy oorlogsplan behels dat hy haar onverhoeds en ongewapen moet vang.
More
Ons wil graag Christelike Uitgewersmaatskappy bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://www.cumbooks.co.za