Toegang Tot Die TabernakelVoorbeeld

Toegang Tot Die Tabernakel

DAG 2 VAN 5

DIE OMHEINING VAN DIE TABERNAKEL

Die omheining spreek van Jesus as die Middelaar tussen God en die mens (1 Tim 2:5; Heb 8:6). Geen mens kan regstreeks tot God gaan nie, behalwe deur Jesus as die Middelaar (Joh 14:6). Die wit linne spreek van Christus in sy absolute reinheid en geregtigheid (Heb 7:26). Die linne, gemaak van vlas wat uit die aarde kom, spreek van Christus se sondelose mensheid en aardse bediening – die Een wat mens geword het sodat Hy ons tot God kan bring (Heb 2:14-15). So sal ook die Kerk eendag met wit linne beklee word (Op 19:8).

Die pilare van akasiahout spreek van die volmaakte mensheid van Christus. Die pilare het in voetstukke van koper gestaan. Koper verwys na oordeel. Toe God se Seun aan ’n kruishout gesterf het, was dit om die oordeel van sonde op Homself te neem. Ná sy opstanding het die apostel Johannes Hom op die eiland Patmos gesien “en sy voete is soos blink koper”. Die koper spreek van die regverdige oordeel van God oor sonde. Hy kan sonde nie verdra nie en moet dit onder sy voete (koper) vertrap (Rom 8:1, 3).

Die silwertoppe van die pilare was gegiet van ’n halwe sikkel silwer wat elke man van 20 jaar en ouer aan die Here moes betaal (Ex 30:12-16). Dit is ook “versoeningsgeld” genoem (Ex 30:16); ook was dit bekend as “losgeld” (Ex 30:12), voorts as “die silwer van die geteldes” (Ex 38:25). Die boodskap van die silwer is dus baie duidelik: versoening, of verlossing. Die Here spreek van sy verlostes as silwer (Mal 3:3). Die pilare spreek dus van: verlossing (silwer) uit die oordeel (koper) deur Jesus Christus se kruisdood (hout).

Die omheining is deur die tentpenne en lyne geanker. Wat God beloof het, is die hoop van die gelowige en ons het dit as ’n anker van die siel wat veilig en vas is en ingaan tot in die binnekant van die voorhangsel waar Jesus as voorloper vir ons ingegaan het (Heb 6:18-20). Christus se ganse verlossingswerk verseker die standvastigheid van sy doel (tentpenne), en sy oneindige liefde (tentlyne) vir ons (Hosea 11:4).

Die poort in die omheining was geleë aan die oostekant – sonop. Die poort was gevestig tussen vier pilare. So is Christus ook ons enigste toegang (Ef 2:18; 3:12) na die regte verhouding met God (Joh 14:6). Die behangsel van die poort, anders as dié van die omheining, was van pers (bloupurper), purperrooi en bloedrooi stowwe, wat van Christus spreek. Die kleure van die bedekking herinner ons aan die hemel (die heerlikheid) van Christus, sy lydingsdood en Koningskap.

Wanneer ons na die omheining van die tabernakel kyk, word ons elke keer opnuut herinner aan die feit dat God met heilige jaloesie vir sy Naam ’n heining van waarheid en heiligheid rondom sy heilige dinge gespan het. Onteenseglik is daar ’n skeidsmuur tussen ’n heilige God en ’n sondige mens. Soos die tabernakel die woonplek van God was en die kamp van Israel die aangewese woonplek van die volk, só het die voorhof-omheining ’n definitiewe posisie tussen die twee woonplekke ingeneem.

Christus is ons Middelaar (1 Tim 2:5; Heb 8:6) van die Nuwe Verbond (Heb 12:24). Hy staan tussen God en die mens en is as Middelaar daarvoor verantwoordelik om albei tevrede te stel en versoening te bewerk. Dit het Jesus Christus dan ook op ’n volmaakte wyse bewerkstellig.

Daar was drie toegangsplekke om die Allerheiligste plek in die tabernakel te bereik: ten eerste, die poort aan die oostekant in die omheining van die voorhof; ten tweede, die ingang (Engels: door) aan die oostekant van die tabernakel wat tot die heiligdom gelei het; ten derde, die voorhangsel wat aan die oostelike kant van die Allerheiligste gehang het. Die voorhangsel het die heiligdom (Heilige) en Allerheiligste van mekaar geskei.

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Toegang Tot Die Tabernakel

In hierdie plan sal ons die omheining en die hek deeglik ondersoek, asook die ingangsdeur en die sluier van die Tabernakel. Die omheining het gedien as ’n skeiding tussen die kamp van Israel en die tabernakel. Dit het die mense verhinder om regstreeks toe te tree tot die tabernakel, waar God gewoon het.

More

Ons bedank Raymond D. Lombard Ministries vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://www.raymondlombard.com/