Die Sewe Huisraadstukke Van Die TabernakelVoorbeeld
DIE BRANDOFFERALTAAR OF KOPERALTAAR
Die brandofferaltaar was die enigste, maar enigste, plek waar offers aan God toegelaat is. Daar was net een tabernakel (tent van samekoms), en slegs een plek van offerandes.
Voordat iemand gered kan word, moet hy eers leer dat hy homself nie kan red nie. Adam was die eerste wat hierdie waarheid moes leer. Nadat hy gesondig het, het hy gedink hy kon sy sonde bedek of daarvan ontslae raak deur sy eiegemaakte bekleding. Toe die Here aan hom verskyn, het Hy Adam se vyeblare geïgnoreer en ’n vloek uitgespreek oor Adam, sy vrou, hul nageslag, die slang en die aarde. Daarna het God voorsien deur aan Adam die enigste weg te toon, deurdat God self die oplossing voorsien, toe Hy ’n dier geslag en die vel van die bloedige slagoffer geneem en daarvan vir Adam en sy vrou klere gemaak het, met die plaasvervangende dierevelle (Gen 3: 21).
Toe die tabernakel opgerig is, is daar net een offerplek toegelaat, en dit was by die altaar aan die binnekant van die poort van die tabernakel, wanneer die voorhof betree is. Daar is vandag steeds net een weg na God, die enigste plek waar God die sondaar ontmoet. Die tabernakel in die woestyn het dit vooruit gesien, en dit is die Here Jesus Christus, die Lam van God (Joh 1:29), dit wys na die kruis van Golgota. Daarom kan Jesus Christus sê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh 14:6). Ook kon Petrus verklaar: “En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie” (Hand 4:12). Sonder geloof in Hom, sonder sy bloed, is al ons beste pogings maar dooie werke.
In die prosedure wat in Levitikus uiteengegesit word, word ’n heiligdom, ’n altaar en ’n priesterdom (Lev 1-7) veronderstel. Voorts sien ons dat, wat die brandofferaltaar betref, die voorskrif opgeteken is in: Exodus 27: 1-8; 38:1
Die altaar was die middelpunt en die fondament van Israel se godsdiens. Alles het inderwaarheid om die altaar gedraai. Daar was geen toegang tot God nie, en geen godsdiens was ook vir God aanneemlik nie, anders as langs die weg van die altaar.
God wil onder sy mense woon. Hoe gaan ’n heilige God onder sondige mense woon? God se vereiste was dat die mens ’n offer vir sy sondes moet bring. Volgens God se bepaling sal die bloed van die offerdier die sonde bedek wat dit vir die offeraar moontlik maak om in God se teenwoordigheid te staan; versoening is dus deur die bloed.
Die brandofferaltaar was ’n groot, vierkantige voorwerp. Dit was van akasiahout gemaak. Die akasia is ’n boom wat in ’n geharde klimaat soos in die woestyn kan groei. Dit het ’n besonder lang penwortel wat diep afreik om die nodige vog te kry. Ons het voorheen gesien die profeet Jesaja het profeties aangaande Jesus Christus se mensheid geskryf: “Hy tog het soos ’n loot voor sy aangesig opgespruit en soos ’n wortel uit droë grond . . .” (Jes 53:2). Die hout was met koper oorgetrek. Die altaar was sterk genoeg om enige offer te dra. Die koper wys op Goddelike oordeel. Diere is hier geoffer vir die sondes van die volk. Dit was ’n plek van lyding en het gedurig die merk van sonde gedra. Christus het in sy mensheid God se straf van ons sondes op Hom geneem: “Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom” . . . (Jes 53:5).
Ons lees voorts dat die Here Moses beveel: “En jy moet sy horings op die vier hoeke maak” (Ex 27:2). Die offer was met toue aan die horings van die altaar vasgemaak, en sodra die offeraar sy hande op die dier gelê het, het sy sonde na die offer oorgegaan. Daarna het die priester die dier geslag, die bloed opgevang en langs die altaar uitgegooi, waarna die offerdier se liggaam op die vuur van die altaar verteer is. Die stygende vlam vertel aan die offeraar dat sy offer aangeneem is. Die vuur het alles wat verteer kan word, verteer; gevolglik is die offeraar vrygespreek van die vuur van God se oordeel, want hy het ’n plaasvervanger gehad wat aan die eise van ’n gebroke wet voldoen het.
Die altaar was daar om versoening by te doen (Lev 8:15). So het ons in die koperaltaar ’n tipe van Christus se kruis. Op die koperaltaar is die bloedige offers vir die sondes van die volk geoffer. Net soos die koperaltaar die enigste plek was waarna die kinders van Israel kon gaan om versoening vir hulle sondes te ontvang, só is die kruis van Christus ook die enigste plek waar die sondaarmens vandag vergifnis van sy sondes kan kry. Só kan die sondige mens vandag alleen tot die Here kom deur Christus as sy plaasvervanger aan te neem (Joh 1:12). Hierdie brandoffers was ’n “vuuroffer van lieflike geur aan die Here” (Lev 1:9). So het Christus Homself “vir ons oorgegee . . . as ’n gawe en offer aan God tot ’n lieflike geur” (Ef 5:2).
Die vuur was ’n onlosmaaklike deel van die koperaltaar. Só het die Here bevel gegee: “Vuur moet gedurigdeur op die altaar aan die brand gehou word; dit mag nie doodgaan nie” (Lev 6:13). Ons lees dan ook dat toe die eerste offerandes deur Aäron gebring is, het “vuur van die aangesig van die Here uitgegaan en op die altaar die brandoffer en die stukke vet verteer. Toe die hele volk dit sien, het hulle gejuig en op hulle aangesig geval” (Lev 9:24). Die oordeel van God oor sonde het soos ’n verterende vuur die offer verslind.
Die Here het die priesters beveel dat hulle die as van die brandoffer op ’n rein plek buite die laer moes uitbring (Lev 6:11). Die Nuwe Testament bevestig dan ook in Hebreërs 13:11-13 “want die diere waarvan die bloed vir die sonde deur die hoëpriester in die heiligdom ingedra word – hulle liggame word buitekant die laer verbrand. Daarom het Jesus ook, om die volk deur sy eie bloed te heilig, buitekant die poort gely. Laat ons dan uitgaan na Hom toe buitekant die laer en sy smaad dra.”
Die koperaltaar het twee draaghoute gehad waarmee dit van een plek na die ander gedra is (Ex 27:6-7). Só word die boodskap van die kruisdood van Christus na die hele wêreld uitgedra – die boodskap dat Hy die offerlam (Joh 1:29) is wat vir ons gesterf (1 Kor 5:7) en uit die dood opgestaan het (Hand 2:23-24).
Laastens dien daarop gelet te word dat die brandofferaltaar/koperaltaar aan die oostekant van die tabernakel was, terwyl die ark aan die westekant van die tabernakel gestaan het. Die oostekant van die altaar was die verste plek weg van die ark af. Koning Dawid bevestig dan ook in Psalm 103:12: “So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons.”
Aangaande hierdie leesplan
Ons vind twee dinge in die voorhof waarop ons aandag gevestig word, naamlik die koperaltaar en die koperwaskom. Altesame was daar sewe items of stukke huisraad rakende die tabernakel. Twee in die voorhof, drie in die Heiligdom en twee in die Allerheiligste. Ons kyk na al sewe items in hierdie plan.
More
Ons wil graag Raymond D. Lombard Ministries bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://www.raymondlombard.com/