SuurlemoenseisoenVoorbeeld
Dankbaarheid
Dankbaarheid in ’n suur seisoen is ’n uitdaging. Jubel en juig is maklik wanneer alles klopdisselboom verloop, maar dit kan bitter moeilik wees wanneer jy werkloos is, jou kar of huis verloor het, ’n geliefde aan die dood afgestaan het, deur ’n egskeiding is, beroof is of ander ellendes oorgekom het.
Ons moet dankbaarheid reg verstaan. Die Here vra nie dankbaarheid vír die slegte dinge nie. Hy vra dankbaarheid te midde daarvan.
Dankbaarheid is baie kragtig. Dit verander die hele perspektief op jou lewe. Dit bemagtig jou om deur moeilike uitdagings te vlieg op die vlerke van genade, geborge in die wete dat God by jou is en jou dra.
’n Dankbare hart ontsluit iets in die geestelike sfeer wat op geen ander manier kan loskom nie. Dit gooi die tronkdeure oop en laat die bonatuurlike werk van die Here oor jou los.
Dit verskuif jou perspektief van selfbejammering na die grootsheid van God.
Ek was nie altyd die dankbaarste mens nie. Ek het dikwels gekla oor dít wat ek nie gehad het nie, terwyl ek blind was vir dít wat ek wel gehad het. Sulke ondankbaarheid messel ’n mens vas op ’n plek waar dit bykans onmoontlik is om deur die Here geseën te word – nie omdat Hy jou nie wíl seën nie, maar omdat jy glo Hy seën jou net wanneer dit volgens jou voorskrifte gebeur.
Gelukkig is God se liefde vir ons só groot dat Hy ons nie los om in sak en as te bly sit sodat ons onsself met die potskerwe van selfbejammering kan stukkend krap nie. Hy moedig ons aan om ons gesindheid te verander sodat ons kies om te leef volgens wat sy Woord ons leer: Ps 100:4-5, Fil 4:4-6.
Dit is net enkele van talle sulke verse in die Bybel. Ons is geroep tot ’n lewe van dankbaarheid. Daar is altyd iets om voor dankbaar te wees, selfs in die donkerste omstandighede. Dit is ’n besluit, ’n keuse wat ons deurentyd moet maak sodat ons nie in ou gewoontes verval nie. Ons rig elke dag ons oë op God, want Hy is groter as die situasie of omstandighede waarin ons staan.
Wanneer ons só kies, kan ons werklik opreg saam met Habakuk verklaar: “Tog, ten spyte van alles, sal ek my verbly in die Here! Ek sal juig oor God wat my verlos! Die oppermagtige Here is my krag! Hy maak my voete soos dié van ’n ribbok; op hoë plekke laat Hy my veilig loop” (Hab 3:18-19, NLV).
Aangaande hierdie leesplan
Kyk anders na jou lewe en dink in terme van die liefde en goedheid van God as ’n Vader, Verlosser en Vertrooster. Besef dat daar in Hóm altyd ’n oplossing is vir selfs die suurste suur wat die lewe kan opdis.
More
Ons wil graag NB Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.luxverbi.co.za