Landbouweekblad Hart tot hartVoorbeeld

Landbouweekblad Hart tot hart

DAG 3 VAN 7

Van kop tot tone 

Laat ons maar eerlik wees en erken dat al die Bybelboeke nie by alle Bybellesers dieselfde belangstelling ontlok nie. Levitikus is een van daardie boeke wat die leser in ’n drukgang plaas as jy die godsdienstige handelinge — die betekenis van die offerdiens en die simboliek daarvan — wil verstaan. Eers dan kan jy ’n toepassing op jou eie lewe waag.

Kom ek vertel jou iets wat my as jongman diep aangegryp het. Wanneer jy gehoor gegee het aan die roeping om heeltyds in die evangeliebediening te staan, volg daar ná jou opleiding die bevestiging met handoplegging deur medebroeders in die bediening. Dit is ’n groot oomblik wat jy nooit vergeet nie. Jou roeping en afsondering in sy diens is jou paspoort; jou arbeidsveld is die bediening van die evangelie.

En nou is dit by hierdie punt waar ons die blommetjie uit Levitikus gaan pluk het. Aäron en sy seuns word op ’n aangrypende wyse vir die priestersdiens voorberei. Die bloed van ’n offerdier wat eers aan die Here gewy is, word aan die regteroorlel, die regterduim en die regtergroottoon gesmeer (Lev 8:23-25).

Dit simboliseer nie net die versoening met God nie, maar ook die toewyding aan die diens van die Here. In ons eie, mooi taal kan ons sê: Van kop tot tone, van oorlel tot groottoon is hulle aan die Here gewy. Hulle behoort nou volledig aan die Here en sy diens.

Jare later sou die bloed van Christus hierdie simboliek bevestig. Nie net vir sommiges nie, maar vir almal wat in Hom sou glo. Dit is dan die juweelgedagte uit Levitikus. Ons is versoen met God en in die totaliteit van ons menswees in diens van God – van kop tot tone! Van oorlel tot groottoon!

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Landbouweekblad Hart tot hart

Vir die afgelope 49 jaar skryf ds. Kobus van der Westhuysen al die Hart tot hart-rubriek vir Landbouweekblad. Ds. van der Westhuysen skryf in gewone taal vir gewone mense. Hy verstaan die hart van ’n boer en weet dat boere uitgelewer is aan die nukke en grille van die natuur waaroor hulle geen beheer het nie.

More

Ons wil graag NB Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.luxverbi.co.za