Every Nation Faith City - InperkingsbrieweVoorbeeld

Every Nation Faith City - Inperkingsbriewe

DAG 3 VAN 5

Dag 3 - Versoening

Wat beteken dit om versoen te wees? Ons lees in Genesis dat God die mens in perfekte eenheid en gemeenskap met Hom gemaak het. Na die sondeval, het sonde die hoofrede geword vir die skeiding tussen ons en God, maar daar is goeie nuus. God, in al sy glorie, krag en mag, het ons nie alleen gelos nie, Hy het ʼn versoeningsplan vir ons gehad, deur sy Seun, Jesus Christus.

God se hart vir ons is om versoen te wees met Hom en dan ook versoen te wees met ander. Is daar iemand wat jou al beledig het? Het julle verhouding nou versoening nodig?

Paulus skryf ʼn brief vir Filemon met die doel om hom met Onesimus te versoen. ʼn Slaaf wat weggeloop het, vir Paulus op pad ontmoet het en nou ʼn Christen is. Hierdie brief teiken verhoudings tussen gelowiges wat versoening nodig het, sodat hulle mekaar weer as broers kan ontvang.

In verhoudings kry ons seer, maar in verhoudings word ons ook genees.

As enigiemand in Christus is, het die nuwe gekom; die oue het verby gegaan, die nuwe is hier! Ons was eers slawe van sonde, vasgevang in die wêreld se patrone, maar nou is ons vrygemaak van sonde en het slawe van geregtigheid geword.

Onvergewensgesindheid belemmer ons om werklik te kan ervaar wat God vir ons het. Paulus het geweet dat vergifnis nodig is om die verhouding tussen Filemon en Onesimus te herstel.

Ons mag dalk vasgevang word in belediging omdat iemand iets aan ons gesê of gedoen het. Filemon kon nog steeds beledig voel as gevolg van dit wat Onesimus aan hom gedoen het, maar hy kies liefde en gee genade. Dit is ʼn mooi verhaal van die bediening van versoening. Ons was verkeerd en in sonde, maar Christus het die prys vir ons verlossing en versoening met God die Vader namens ons betaal.

Terwyl jy deur hierdie dagstuk gewerk het, het jy aan iemand gedink waarmee jy versoen moet word? Dalk is dit met God of ʼn familielid, of selfs ʼn vriend. 

Bid die volgende gebed:

Dankie Here, vir die geskenk van versoening. U het ons gewys hoe om ons naaste lief te hê. Help ons om ander lief te hê en te vergewe soos U dit doen. Gee vir ons wysheid oor hoe ons verhoudings met mense kan bou, soos wat ons ons harte oopmaak om mekaar as broers en susters te ontvang.

In die Naam van Jesus. Amen.


Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Every Nation Faith City - Inperkingsbriewe

Daar is ʼn oomblik in ons almal se lewe waar ʼn aspek van ons lewe, emosioneel of geestelik, onder inperking is. Die Apostel Paulus het briewe geskryf om kerke te bemoedig wat hulself vind in moeilike tye, terwyl hy self opgesluit was. Sy gevangeskap het hom nie gekeer om die goeie nuus te deel nie. Ons gaan met die dagstukke deur die boeke van Filippense, Filemon en Kolossense werk.

More

Ons wil graag Every Nation Faith City bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.enfc.co.za/