Die Lig Op My PadVoorbeeld
Vertrou op God
Die komponis, Felix Mendelssohn, het die pragtige lied van Psalm 55:7-9 gekomponeer. Die lied word dikwels in Engelse kerke gesing: “Oh, for the wings of a dove.” Vir Dawid was dit egter ’n saak van dodelike erns. Hy wou nie sing nie, hy wou wegkom! Van alle kante is hy bedreig. En dié wat nog vriendelik met hom gepraat het, het agter die sagte en strelende woorde ’n vlymskerp swaard gereed gehad. Dit help ook nie om op mense te vertrou nie, hulle laat jou te maklik in die steek! Wie ken nie die gevoel nie? Jy wil wegvlieg soos ’n duif.
’n Mens kan wel op God vertrou – dit het Dawid elke dag van sy lewe ervaar. Daarom skryf hy in vers 23: “Laat jou sorge aan die Here oor, Hy sal vir jou sorg.” Baie jare nadat Dawid die psalm gedig het, het Jesus sy dissipels om Hom laat sit, aan die oewer van die See van Galilea. Met ’n mooi veldblommetjie in sy hand het Hy begin praat: “Moet julle nie bekommer nie … let op hoe groei die veldlelies … as God die veld so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie” (Matt 6:25-30). Wanneer spanning en krisisse om jou aan die oplaai is, is ’n mens se eerste reaksie om soos ’n duif weg te vlieg, so ver as wat jy kan. Dis egter nie altyd moontlik nie. Dis ook nie altyd reg nie! Jy moet die krisisse vierkant in die oë kyk. Maar een ding mag jy weet – God staan langs jou. Hy hou jou styf vas.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Om ’n Christen te wees, is ’n avontuur. Elke dag wag daar nuwe geleenthede én uitdagings, vreugdes én teleurstellings. Genadiglik hoef ons die reis nie alleen aan te pak nie. God het sy Woord aan ons gegee – as lig op ons pad! Meer nog, Jesus self stap saam. Stap saam met Piet Meiring deur 7 oordenkings oor vertroue uit sy dagboek DIE LIG OP MY PAD.
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.cumbooks.co.za/