Lei Jy of Laat Jy Ander Ly?Voorbeeld

Lei Jy of Laat Jy Ander Ly?

DAG 3 VAN 7

Dien met jou gawes

Die Here seën elkeen van ons met gawes. En as jy dink dit maak dat jy gesien en gehoor word, verstaan jy gawes verkeerd. Gawes is nie ter wille van jou nie. Die Here het nog nooit ’n gawe vir jou gegee ter wille van jou beeld of posisie nie. Ons kan die woord gawe met ’n ander woord vertaal: geskenke. “Gifts” soos die Engels dit vir ons vertaal. En wat doen jy met ’n geskenk? Jy gee ’n geskenk weg. Jy deel ’n geskenk uit. So wat is die doel van ’n geskenk? Dis nie vir jou om gesien en gehoor te word nie. Dit is sodat ander verbeter kan word. 

Petrus verduidelik dit so mooi in 1 Petrus 4:10: “As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy ’n genadegawe ontvang het, die ander dien.” Daar het jy die geheim van gawes. Hoekom gee die Here hierdie geskenk vir jou? Dis sy geskenk, in jou hande, vir iemand anders. En jy moet dit mooi hoor en verstaan. In leierskap is dit ontsettend belangrik. Dis sy geskenk, in jou hande, vir iemand anders.

En daardie uitdeel van die geskenk vra opoffering. Daardie uitdeel van die geskenk vra om jou hande vuil te maak. Dit vra harde werk – nie vir jou om gesien of gehoor te word nie, maar om iemand anders se lewe te verbeter.

Een van die beste voorbeelde wat ek hier met jou kan deel, is die bekende dokter Ben Carson, ’n neurochirurg wat op kinders gespesialiseer het. Hy het op ’n keer ’n belangrike operasie in Suid-Afrika gedoen – ’n suksesvolle operasie waarin hy ’n Siamese tweeling geskei het. Onmiddellik ná die operasie het hy die eer vir die Here gegee. Hy laat speel ’n stuk musiek, die Halleluja Koor van Handel, en hy sê: “Die eer kom my nie toe nie ... ” Hy noem sy hande “gifted hands” – God se geskenke om ander mense te seën. God se geskenke om pyn van ander weg te vat. God se geskenke om vreugde in iemand anders se lewe te bring. 

Dis ware leierskap. Om dit wat God vir jóú gegee het tot voordeel van ander te gebruik. 

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Lei Jy of Laat Jy Ander Ly?

Johan Smith vra jou om te evalueer of jy lei of ander laat ly ... In hierdie 7-dag leesplan praat Johan oor leierseienskappe soos invloed, opoffering, self-leierskap, sensitiwiteit en verhoudingsfokus. Alles wat jy nodig het om ’n passievolle leier te wees wat op ander fokus, vir hulle omgee en hulle verbeter om saam nuwe hoogtes te bereik.

More

Ons wil RightNow Media Suid -Afrika bedank vir die verstrek van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://www.rightnowmedia.org/za