En Hulle Sal Een Wees …Voorbeeld

En Hulle Sal Een Wees …

DAG 5 VAN 7

SPIRITUELE INTIMITEIT

Intimiteit in die huwelik bestaan uit vyf komponente. Ons het reeds gesels oor intellektuele, emosionele en sosiale intimiteit. Vandag gaan ons kyk na spirituele intimiteit. Ons is spirituele wesens. Antropoloë het ontdek dat verskeie kulture oor die wêreld heen een of ander vorm van geloof aanhang. Ons het dus almal ’n spirituele dimensie. Die vraag is: Is ons gewillig om hierdie deel van ons lewe te deel met die mense wat ons liefhet? Wanneer ons dit doen, ervaar ons spirituele intimiteit.

Dit kan iets so eenvoudigs wees soos om iets wat jy in die Bybel gelees het met jou geliefde te deel. Spirituele intimiteit word ook gevoed deur gedeelde ervarings. Nadat hulle ’n huwelikseminaar bygewoon het, het ’n vrou gesê: “Ek kan dit nie verduidelik nie, maar ek voel baie naby aan my man wanneer ek hom hoor sing.” Om saam te bid, is ook ’n manier om spirituele intimiteit te bou. As jy verleë voel om hardop te bid, bid dan in jou gedagtes terwyl julle hande vashou. Julle hoef nie woorde hardop te sê vir julle harte om nader aan mekaar te beweeg nie.

Julle kan dit ook oorweeg om vir mekaar te bid as ’n manier om julle verhouding te verstewig. Baie van Paulus se briewe bevat pragtige gebede vir dié aan wie hy geskryf het. Ons teksgedeelte vir vandag is een van hierdie gebede – hierin vra hy die Here om die gelowiges te versterk en vir hulle geduld, uithouvermoë en vreugde te gee. Om met oorgawe te bid vir jou huweliksmaat se verhouding met God kan ’n baie intieme ervaring wees.

Vader, niks in ons lewe is so belangrik soos ons verhouding met U nie. Help my asseblief om my huweliksmaat in hierdie area te bemoedig. Help ons om gewillig te wees om ons gedagtes en gebede met mekaar te deel. Help ons ook om nader aan mekaar te groei, Here, terwyl ons nader aan U groei.

Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

En Hulle Sal Een Wees …

In God se plan is die huwelik ontwerp dat twee mense, man en vrou, een word. Hulle kies om die lewe op ’n dieper vlak met mekaar te deel as met enigiemand anders. Hierdie intimiteit behels alle aspekte van die lewe. In hierdie sewe oordenkings uit "5 TALE VAN DIE LIEFDE – OORDENKINGS VIR PAARTJIES" help Gary Chapman paartjies om te bou aan die intimiteit in hulle belangrikste verhouding.

More

Ons wil graag Christelike Kunsuitgewers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.cumbooks.co.za/