Maak My 'n RivierVoorbeeld

Maak My 'n Rivier

DAG 2 VAN 5

Die Rivier Van Die Lewe

In beide die laaste hoofstuk van die Bybel en in die boek Esegiël hoofstuk 47 lees ons van die rivier van lewe wat uit die troon van God vloei: “Aan elke kant van die rivier het die boom van die lewe gestaan wat twaalf oeste vrugte gedra het en elke maand sy vrugte oplewer. En die blare van die boom is tot genesing van die nasies.” Ons sien dus dat hierdie rivier nie net ‘n bron van lewe en onderhouding is nie, maar dat die rimpeling van die rivier selfs sover strek as die blare van bome wat genesing vir die nasies bring.

Die mensdom is blootgestel aan ’n gebroke stelsel op aarde, en een van die resultate van hierdie gebroke stelsel is siekte. Siekte is een van daardie dinge wat ons vandag al as vanselfsprekend aanvaar, en ons het al so gevorder in medisyne en tegnologie, dat ons amper vir elke kwaal ’n oplossing het. Meer as al die fisieke siektes wat ons vandag in die oë staar, is mense diep in hul siele siek, en die rede van hierdie siektes is dinge soos vrees, angs en depressie wat soveel mense boelie, frustreer en in slawerny hou.

Ons lees in Kronieke dat God vir Israel ’n voorwaarde gee. Hy sê die volgende: “as my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees“ (2 Kronieke 7:14). Wanneer ons na die evangelies kyk, sien ons hoeveel mense Jesus tydens sy openbare bediening gesond gemaak het met die krag van die Heilige Gees wat op Hom gerus het. Wanneer ons na die rivier kyk, spesifiek in Openbaring en in Esegiël, verwys die water na die Heilige Gees. ’n Ander element wat ook na die Gees verwys is olie, en olie word onder andere van die blare van sekere bome verkry. In die teks in Openbaring sien ons dat die blare van hierdie boom spesifiek vir genesing bedoel is. Jakobus, moedig siek mense aan om die ouderlinge te roep om hulle te salf met olie en te bid dat genesing kan kom (Jakobus 5:14-15). Dit is my oortuiging dat Jesus nie net gekom het om mense gesond te maak nie, maar om dissipels te hê wat saam met Hom werk sodat nasies gesond kan word. Miskien sukkel jy vandag met een of ander siekte, wat jou frustreer of keer om ten volle te leef. Kom ons vra God, ons groot Geneesheer, om jou vandag opnuut aan te raak, sodat jou lewe ook ’n rivier van sy genesing vir nasies sal wees.

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Maak My 'n Rivier

Jesus nooi ons uit om by Hom te kom drink en om in Hom te glo sodat riviere lewende water uit ons binneste kan vloei (Joh. 7:37-38) In hierdie 5-dag leesplan gaan ons op 'n reis om die betekenisvolheid van God se rivier te ontdek en ook hoe ons in die stroom van sy Gees kan leef sodat ons Hom op die beste manier kan verteenwoordig.

More

Ons wil graag Worship Awake bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://worshipawake.com/