Dis Tyd!Voorbeeld
DAG 4 Spieëlbeeld
Psalm 23:4: “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig."
Meeste van ons kyk hopelik daagliks in ‘n spieël. Het jy al voor die spieël gestaan en hardop vir jouself gevra: “Wat maak ek met die onbeantwoorde vrae in my hart?” Dalk het jy al dikwels so gevoel of miskien is jy nóú op 'n vreemde plek.
Ek was al op daardie plek — ontnugter as gevolg van teleurgestelde hoop.
Toe ek hierdie waarheid besef, het ek besluit om eers halt te roep en die gedagtes in my kop te hergroepeer sonder om daaroor te redeneer. Kan ek iets aan die magdom vraagtekens in my prentjie verander? Dalk nie letterlik nie, maar ek kan ‘n wilsbesluit neem om daar waar die wasigheid my oorweldig, blindelings te vertrou.
Iemand het gesê: “Om te glo beteken soms om onbeantwoorde vrae te hê." Aanvaarding van dít wat ek nie kan verander nie, is nooit maklik nie, maar tog ook op ‘n manier bevrydend. Hoekom? Want ek het met my eie oë, wat vir 'n oomblik uit 'n wasige spieël na my teruggestaar het, gesien waarvoor Jesus gesterf het: ‘n onvolmaakte self wat deur genade omvou en bewaar word.
Ek is nog hier en dit alleen bevestig dat daar ‘n rede is!
Vader, my spieëlbeeld kan soms verwronge wees, maar ek weet dit is‘n leuen. U waarheid alleen is kragtig en wis alle donker en mismoedigheid uit deur wat U ons leer in die handboek van die lewe — die Bybel. Help my om dit te soek en te vind.
Mag jy, wanneer jy weer in die spieël kyk, jouself sien as 'n wonderwerk wat nog 'n dag vol genade ontvang het. Lees gerus ook Psalm 139 wat beskryf hoe God jou sien!
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Die lewe bied talle uitdagings wat 'n mens nie aldag verstaan nie. Maar om heeltyd daarop te fokus, is nie gesond nie. Ons kan vorentoe beweeg, tree vir tree - dis tyd!
More
Ons wil graag Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://whitevapor.wordpress.com/