Toemaar, Jesus is daar.Voorbeeld

Toemaar, Jesus is daar.

DAG 3 VAN 7

Dag 3:

Kinders is ‘n geskenk van God

"Kinders is ‘n wonderlike geskenk van die Here, hulle kom direk uit die Here se hand" (Psalm 127:3 DB).

Ons lees in Markus 9 hoe Jesus die dissipels nader roep. Hy het gehoor hoe hulle stry oor wie nou eintlik onder hulle die belangrikste is. Jesus was altyd prakties in sy onderrig en Hy verduidelik dit toe so aan hulle: Hy roep ‘n kind nader en laat hom tussen hulle staan. Onthou, in daardie tyd was kinders slegs as ‘n besitting beskou. Met ander woorde, hulle was as’t ware gesien, maar nie gehoor nie. Jesus hou die kind vas en sê in vers 37 die volgende: “Elkeen wat so ‘n kindjie in my Naam ontvang, ontvang My; en elkeen wat My ontvang, ontvang nie net vir My nie, maar ook vir Hom wat My gestuur het.”

Met ander woorde, Jesus wou hulle leer dat as hulle mooi en respekvol teenoor kinders (ja, en ook jong gelowiges en enige ander mense in nederige posisies) optree, dan tree hulle eintlik mooi en goed teenoor Jesus self op. En as jy reg teenoor Jesus optree, dan staan jy in die regte verhouding met God.

Psalm 127:4-5 DB sê: “Kinders in ‘n huis maak dit vol vreugde, dit maak ouerharte vol blydskap! Hoe gelukkig is elke pa en ma wie se huis die vrolikheid van kinderstemme ken! Hulle hoef nooit bang te wees vir hulle vyande nie.”

Ons moet onthou: Kinders is ‘n wonderlike geskenk van die Here. Dis nie iets wat ons verdien nie. Waardeer jou kind. Pas hom mooi op. Moenie die tyd verby wens wat jy vir hulle vroeg moet opstaan, of gedurig agter hul verpligtinge aan moet rondry nie. Koester elke fase van jou kind se lewe, want dit gaan eintlik so gou verby. Die tyd om hulle dus geestelik voor te berei vir die lewe en om te verseker dat hul ‘n ware verhouding met Jesus het, voordat hulle jou huis verlaat, is werklik in ‘n oogwink verby. Koop die tyd uit. Maak seker jou kind nooi Jesus in sy hart in. Hulle is nooit te klein om van Jesus te leer nie, hoor!

In 3 Johannes 1:4 sê Jesus: “Niks verskaf my groter vreugde nie as om te hoor dat my kinders in die waarheid lewe.”

Leef jou kinders in die waarheid van God?

Gebed:

Here, baie dankie vir my kinders. Help my asseblief om alle mense met respek te behandel en help my kinders om vir U lief te wees. Amen.

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Toemaar, Jesus is daar.

Dis ‘n groot troos om Hebreërs 7:25 te lees. Of jy nou ‘n baba of kleuter is; of jy skoolgaan, ‘n tiener of student is; of jy getroud of in jou ouderdom is: As jy jou hart vir Jesus Christus gegee het, is Hy daar om vir jou in te tree by God die Vader, want Hy leef vir altyd.

More

Ons wil graag Sonja Goldberg bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.sonjagoldberg.co.za/