Kom Saam, Inspirasie vir jou LewensreisVoorbeeld
EK PRAAT MET MYSELF
"Sy het vir haarself gesê: ‘As ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word’" (Matteus 9:21).
Ek: “Mompel ... mompel ... mompel ... ”
My man: “Wat sê jy?”
Ek: “Nee, niks. Ek praat sommer met myself.”
My man: “O. Dis goed so. Onthou net dat jy jouself ook antwoord, hoor!”
Ons lag lekker hieroor, maar ek dink almal praat maar soms met hulleself. Dis mos eers wanneer jy jouself hoor dat jy beter perspektief op ‘n saak kry. Dit help ook as jy wil stoom afblaas sonder om iemand te na te kom.
Ons lees ook in Die Bybel van mense wat met hulleself gepraat het. Ongelukkig is nie alle selfpraatjies positief nie. Esau het met homself gepraat toe hy daaraan gedink het om sy broer te vermoor (Genesis 27:41). Die Fariseërs het met hulleself gepraat en besluit dat Jesus teen God laster (Matteus 9:34).
Maar dan lees ons ook van die vrou wat twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het (Markus 5:28). Sy het vir haarself gesê wat sy dink en dit toe gewaag om aan Jesus se kleed te raak sodat sy gesond kon word. Jesus het onmiddellik daarvan geweet! Hy het omgedraai en haar gerusgestel. Sy het gesond geword.
Praat hardop. God hoor jou! Hy hoor jou roep as jy bang is of sukkel om moed bymekaar te skraap. Hy weet van jou en sal ook na jou toe omdraai en jou gerusstel. Hy bring genesing en uitkoms!
Hoor hoe praat die Psalmdigter met homself in Psalm 42:6a: “Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God!”
Laat dit ook vandag jou leuse wees: Vertrou op God!
GEBED: My Here God, U is wonderlik! Dankie dat ek met myself kan praat en dat U dit ook hoor! Dankie dat U my raaksien en gesond maak. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
Kom sit jou bagasie by Jesus Christus se voete neer en toer sewe dae lank saam met my deur herinneringe van seerkry en vreugde. Mag jy saam met my uitsien na 'n hemelse paradys saam met Jesus.
More
Ons wil graag Sonja Goldberg bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.sonjagoldberg.co.za