AfgesonderVoorbeeld
Oordink die Woord van God
Lees Psalm 1:1–6
SOAP Psalm 1:1–3
Oordenking
Om ‘n vrou te wees wat afgesonder leef, beteken dat ons keuses en lewe anders as dié van die wêreld gaan lyk — en dit is goed. Ek hou daarvan dat die Woord van God direk tot ons harte spreek en vir ons die hoop, aanmoediging en wysheid gee wat ons nodig het om afgesonder vir Hom te leef. In Psalm 1:1 skets die psalmis ‘n prentjie van ‘n geseënde lewe, een wat vir God afgesonder is. Hy begin met hierdie kragtige woorde: “Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van goddeloses volg nie, nie met sondaars omgaan en met ligsinniges saamspan nie!” Dit is ‘n ernstige vermaning aan ons as vroue wat daarna streef om in die Here se weë te wandel en om vriende en invloede te kies wat ons help om in ons geloof te groei eerder as om ons te laat afdwaal.
Ek is egter oortuig dat die sleutel tot ‘n lewe wat vir God afgesonder is, nie lê in wat ons moet vermy nie, maar eerder in wat ons moet nastreef. Vers 2 sê: “Maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink.” Liewe vriendin, wanneer ons ons in die Woord van God verdiep, vind ons vreugde én rigting vir ons lewens. Die Woord van God word ons kompas wat ons gedagtes, dade en keuses rig.
Wanneer ons sy Woord oordink, word ons herinner aan wie God is, hoe lief Hy ons het en die wonderlike planne wat Hy vir ons lewens het. Die eindresultaat? ‘n Lewe wat floreer: “Hy is soos 'n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak” (Psalm 1:3).
Watter wonderlike belofte! Net soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is, sal ons ook gevoed word en sterk groei, wanneer ons diep uit die put van die Woord van God drink. Ons lewens sal vrugte dra en ons geloof sal standvastig bly.
Gebed
Dierbare Jesus, help ons om voortdurend u Woord te bepeins en vir U afgesonder te wees, sodat ons soos ‘n boom by waterstrome kan floreer en in elke seisoen van die lewe vrugte dra. Amen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Voel dit asof die wêreld al verder weg van God af beweeg? Is dit vir jou moeilik om te weet hoe om die mense in jou lewe lief te hê sonder om beïnvloed te word deur die veranderinge in 'n wêreld wat uit pas is met God?
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://liefgodgrootliks.wordpress.com/