Sy liefde red onsVoorbeeld

Sy liefde red ons

DAG 5 VAN 7

Pyn en lyding

Geen ander hoofstuk in die Ou Testament beskryf die koms van die Messias beter as Jesaja 53 nie. Weergaloos in profetiese besonderhede rakende die lewe, dood en opstanding van Jesus, is die profeet so merkwaardig spesifiek dat dit voel asof Jesaja daardie dag self by die kruis gestaan het. Terselfdertyd is ons maar alte bewus daarvan dat ons nooit die volle betekenis van Christus se lyding aan hierdie kant van die ewigheid sal begryp nie.

Dit is genoeg om te weet dat Hy ons pyn, teleurstelling en lyding in sy liggaam gedra het. Dit maak nie saak of dit herlei kan word na siekte, slegte besluite, ’n medegelowige of ’n vreemdeling, self gebroke deur die sonde nie. Die heel belangrikste is dat ons as Christene nie ons pyn alleen hoef te dra nie. Jesus het dit alles op Hom geneem — daardie dag toe Hy onder die gewig van die kruis gestruikel het op pad na Golgota.

Wanneer ons na Jesus toe kom, koop Hy ons voetstoots met sy bloed, absoluut daaraan toegewy om elke seerkry en beproewing te genees en volkome herstel te bring. Alhoewel dit onmoontlik klink, het ons die troos en belofte dat God ons hartseer in vreugde kan verander. Kom ons glo dit!

Jesus, U het eerstehandse kennis van my pyn, want elke hou en die bespotting wat U moes verduur, het U namens my verdra. Dit sluit in elke terugslag, teleurstelling of mislukking wat ooit oor my pad gekom het, elke siekte – of dit nou fisieke pyn, emosionele angs of geestelike ongesteldheid was. Here, vandag loof ek U, want ek is heel en ek is vry, en daarvoor is ek U ewig dankbaar! Amen
Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Sy liefde red ons

God het sy liefde gedemonstreer deur sy enigste Seun te stuur om as offer in ons plek aan die kruis te sterf. As vlekkelose Lam van God het Jesus die ganse mensdom met sy bloed vrygekoop. In Hom staan ons voor God die Vader, volmaak, vergewe en vrygespreek, ons foute vir ewig uitgewis. Daarom kan ons Hom vandag loof en die kruis aangryp en weet: Sy liefde red ons!

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://cumbooks.co.za/