Tydige DankbaarheidVoorbeeld
Dankie vir lewe
“Laat ek saamvat: Jesus moet uit julle hele lewe straal. Of julle praat of iets anders doen, Jesus moet daarin gesien kan word. Julle lewe moet een groot dankie vir God wees. En dit kan alleen so wees as julle alles doen asof Jesus elke tree saam met jul gee" (Kolossense 3:17 DB).
Die teksvers sê baie duidelik hoe God wil hê ons moet lyk en leef. Vra vir jouself: “Hoe lyk ek vir ander? Kan mense sién dat ek iets van binne af saamdra en uitstraal?”
Ek het al so baie gesien dat mense wat elke Sondag in die kerk sit maar weer met ‘n vaal gesigsuitdrukking huiswaarts keer. Daar is nie lewe in hul oë of postuur nie. Natuurlik wys ek nie vingers nie; ons almal voel soms so.
Die feit dat ons lewe is ‘n wonderwerk! Ons longe en hart is in ritme met mekaar sonder dat ons daaroor hoef te dink. Jou bloed vloei aanhoudend deur jou are om jou organe te voed en jou lyf te mobiliseer. Ek het vroeër vanjaar ‘n vriendin besoek wat ‘n beroerte gehad het. Dit het my diep ontstig om haar so in die bed te sien lê. Sy kan baie motoriese aksies nie meer uitvoer nie, maar tog getuig sy van God se goedheid ten spyte van haar omstandighede.
"Dankie" is ‘n klein kort woordjie met ‘n reuse-impak. Dink vir ‘n oomblik aan iets wat jy vir iemand gedoen of beteken het en die "dankie" wat jy ontvang het. Hoe het dit jou laat voel? Sekerlik was dit ‘n gevoel van vreugde en dankbaarheid dat jy iets vir iemand anders kon beteken. Dit is ook hoe 'n mens tot die eer van God leef.
Gebed: Dankie, Here, vir die voorreg om te leef, impak te maak in die wêreld, u naam te dra en u liefde uit te straal. Dankie vir alles wat ek wel het en dat ek U kan volg op die pad vorentoe.
Skryf die teksvers hierbo neer en plak dit op ‘n plek waar jy dit daagliks kan sien. Dit is voedsel vir jou siel en 'n herinnering aan die pad wat jy saam met Jesus stap! Jou lewe dra ‘n boodskap van hoop en geloof. Kan ander mense hierdie boodskap sien wanneer hulle jou ontmoet?
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Ons almal word op ‘n daaglikse basis gekonfronteer met negatiewe gesprekke, ontstellende nuusberigte, persoonlike uitdagings en vele ander situasies. Realiteite kan jou opslurp in ‘n maalkolk van negatiwiteit en depressie. Opgee is nie ‘n opsie nie. Maar jou daaglikse 24-uur-pakkie bevat beslis iets om voor dankbaar te wees!
More
Ons wil graag Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.felicia-lategan.com/