Herwin Jou Vertroue in GodVoorbeeld
Keer terug na God toe.
Ons het almal al die gesegde gehoor: "Dit is maklik om God te vertrou wanneer dit goed gaan, maar nie wanneer dit moeilik raak nie." Die teenoorgestelde is egter dikwels waar. Wanneer alles goed gaan, is juis wanneer mense geneig is om van God te vergeet! Dit is wanneer die moeilike tye kom dat mense skielik besef dat net God hulle kan help.
Die wonderlike waarheid is dat God jou so liefgehad het dat Hy sy enigste Seun gegee het om jou lewe vir ewig te red (Johannes 3:16). God begeer om 'n persoonlike verhouding met jou te hê, jou te beskerm, en elke oomblik van die dag te lei.
Die eerste leuen wat die Satan vir Eva in die tuin vertel het, het God se goeie bedoeling teenoor haar en Adam verdag gemaak. Dit het haar laat glo dat dit beter sou wees as hulle sake oor hulle toekoms in hul eie hande neem (Genesis 3:4). Hierdie oortreding het daartoe gelei dat hulle uiteindelik uit die tuin van Eden weggestuur is (Genesis 3:23-24).
Miskien bevind jy jouself op 'n plek waar jy in die strik van die vyand se leuens beland het en nou is jy in die pekel. Jy kan – soos Adam en Eva – bang en skaam teenoor God voel.
Moenie langer wegkruip nie. Moenie meer huiwerig, bang, skaam of ontsteld wees nie. Besluit om jou vandag weer na die Here te keer. Plaas jou vertroue weer in Hom. Hy is getrou en opreg, Hy verander nooit nie. Hy beplan voorspoed vir jou en Hy wil jou seën vir 'n spesiale werk in sy koninkryk (Jeremia 29:11-14).
Sal jy nie sommer nou oor alles bid wat jy weet jou van die Here skei nie? Vertel Hom van al die eensaamheid en swaarkry. Vra Hom om jou te help om na Hom terug te keer om Hom heelhartig te vertrou en te volg.
Aangaande hierdie leesplan
Voel jy dat jou vertroue in die Here werklik die afgelope tyd uitgedaag is? Miskien het 'n geliefde gesterf wat jy geglo het volkome sou genees? Jy mag dalk wonder – kan ek Hom nog vertrou? Hierdie leesplan sal jou help om jou vertroue in die Here te herwin en jou geloof versterk in die wete dat die Here jou werklik liefhet.
More
Ons wil graag Jericho Walls International Prayer Network bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.jwipn.com