1 KONINGS 19:3-12

1 KONINGS 19:3-12 NLV

Elia het baie bang geword en vir sy lewe gevlug. Hy het na Berseba, ’n dorp in Juda, gegaan en sy dienaar daar agtergelaat. Hy self het die woestyn ’n dagreis ver binnegegaan. Hy het toe onder ’n besembos gaan sit en gewens dat hy liewer maar moet sterf. “Ek het nou genoeg gehad, HERE,” het hy gesê. “Neem nou maar my lewe, want ek is niks beter as my voorouers nie.” Hy het gaan lê en onder die besembos aan die slaap geraak. Maar ’n engel het hom wakker geskud en vir hom gesê: “Staan op en eet!” Hy kyk op en dáár sien hy by sy kop ’n roosterkoek wat op warm klippe gebak is en ’n kruik vol water. Hy het geëet en gedrink en weer gaan lê. Die engel het weer gekom, aan hom geskud en gesê: “Staan op en eet weer, anders sal die pad vir jou te lank wees.” Hy het toe opgestaan, geëet en gedrink. Die kos het hom genoeg krag gegee sodat hy 40 dae en 40 nagte lank tot by Horeb, die berg van God, kon loop. Daar het hy by ’n grot ingegaan en die nag daar deurgebring. HERE Maar die HERE het met hom gepraat: “Wat maak jy hier, Elia?” Elia antwoord: “Ek het U met toewyding gedien, HERE God Almagtig. Maar die Israeliete het die verbond met U verbreek, u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek alleen het oorgebly, en nou probeer hulle my ook doodmaak.” “Kom buitekant toe en gaan staan voor My by die berg,” sê die HERE vir hom. Terwyl Elia daar staan, het die HERE by hom verbygegaan en ’n geweldige rukwind het die berg uitmekaargeruk en die rotse gebreek voor die HERE. Tog was die HERE nie in die wind nie. Na die wind was daar ’n aardbewing, maar die HERE was nie in die aardbewing nie. Na die aardbewing was daar ’n vuur, maar die HERE was nie in die vuur nie. Na die vuur was daar die geluid van ’n sagte gesuis.