Ons het hierdie skat egter maar net in breekbare kleipotte – die allesoortreffende krag kom van God en nie van ons nie. Op elke manier word ons onder druk geplaas, maar ons is nie verpletter nie; ons is verward, maar nie wanhopig nie; ons word vervolg, maar nie in die steek gelaat nie; platgeslaan, maar nie vernietig nie. Ons dra altyd die sterwe van Jesus in ons liggaam saam sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam. Gedurig word ons wat nog lewe, ter wille van Jesus aan die dood uitgelewer sodat die lewe van Jesus ook in ons sterflike liggaam sigbaar kan word. Gevolglik is die dood in ons aan die werk, maar in julle die lewe. Omdat ons dieselfde geloofsgesindheid het as waarvan daar geskryf staan: “Ek het geglo; daarom het ek gepraat,” glo ons steeds en daarom hou ons ook aan met preek. Ons weet dat Hy wat die Here Jesus opgewek het, ons ook saam met Jesus sal opwek om ons saam met julle voor Hom te stel. Ons doen dit alles ter wille van julle sodat die genade van God, soos dit oor meer en meer mense spoel, ook die dankbetuiging al hoe meer kan laat word, en God se heerlikheid so erken kan word. Om hierdie rede gee ons nie moed op nie. Al is ons uiterlike mens besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry op die oomblik is gering en tydelik, maar dit bewerk vir ons ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en vir altyd vas sal staan. Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare, want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare vir altyd.
Lees 2 KORINTIËRS 4
Luister na 2 KORINTIËRS 4
Deel
Vergelyk alle weergawes: 2 KORINTIËRS 4:7-18
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's