2 SAMUEL 5
5
Dawid word koning van die hele Israel
1Toe het al die stamme van Israel na Dawid in Hebron gegaan en gesê: “Ons is tog almal bloedverwante. 2’n Lang tyd al, selfs destyds toe Saul ons koning was, was u eintlik maar die een wat Israel in gevegte gelei het. En die Here het vir u gesê: ‘Jy sal die herder van my volk Israel wees. Jy sal heerser oor Israel wees.’”
3Dawid het toe daar in Hebron voor die Here ’n ooreenkoms met die leiers van Israel gesluit, en hulle het hom as koning van Israel gesalf.
4Dawid was 30 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het altesaam 40 jaar lank regeer. 5Hy het sewe en ’n half jaar in Hebron oor Juda regeer, en in Jerusalem 33 jaar oor Israel en Juda saam.
Dawid verower Jerusalem
6Dawid en sy persoonlike leër het teen Jerusalem opgeruk waar die Jebusiete gewoon het. “Jy sal nooit hier inkom nie,” tart die Jebusiete hom en sê: “Selfs die blindes en die lammes sal julle hier uit hou!” Hulle het gedink: “Dawid sal nooit hier kan inkom nie.” 7Nogtans het Dawid die Sionsvesting verower. Dit word nou genoem die Stad van Dawid.
8Daardie dag het Dawid gesê: “Elkeen wat ’n Jebusiet wil verslaan, moet die watertonnel gebruik om daardie sogenaamde lammes en blindes te bereik, want ek, Dawid, het ’n afsku aan hulle.” Dit is die oorsprong van die spreekwoord: “Die lammes en die blindes mag nie in die tempel ingaan nie.”#5:8 Die betekenis van hierdie spreekwoord is onduidelik. Vgl egter Lev 21:16-23; Deut 23:1. 9Dawid het toe die vesting sy tuiste gemaak en dit die Stad van Dawid genoem. Hy het verdere versterkings rondom gebou. Dit was vanaf die Milloterras#5:9 Die betekenis van die grondteks is onduidelik. Dit kan dui op terrasse. in die rigting van die paleis. 10Dawid het al sterker geword, want die Here, die Almagtige, was met hom.
11Koning Hiram van Tirus het boodskappers na Dawid toe gestuur. Hy het ook sederhout, skrynwerkers en messelaars gestuur om vir Dawid ’n paleis te bou. 12Dawid het besef dat die Here hom as koning oor Israel bevestig het en sy koninkryk aansien gegee het ter wille van sy volk Israel.
13Nadat Dawid van Hebron af na Jerusalem toe verhuis het, het hy meer vroue en byvroue geneem. Daar is nog seuns en dogters vir hom gebore. 14Dit is die name van Dawid se seuns wat in Jerusalem gebore is: Sammua#5:14 1 Kron 3:5 lui Sima., Sobab, Natan, Salomo, 15Jibgar, Elisua, Nefeg, Jafia, 16Elisama, Eljada en Elifelet.
Dawid oorwin die Filistyne in Spooklaagte
17Toe die Filistyne hoor dat Dawid as koning oor Israel gesalf is, het hulle almal opgetrek om hom te vang. Dawid het dit gehoor en afgegaan na ’n skuilplek toe. 18Die Filistynse leër het oor die hele Spooklaagte#5:18 Grondteks Refajimvallei. uitgesprei. 19Dawid raadpleeg toe die Here: “Moet ek teen die Filistyne optrek? Sal U hulle in my mag oorgee?”
En die Here het geantwoord: “Ja, trek op. Ek sal verseker die oorwinning aan jou gee.”
20Dawid het toe na Baäl-Perasim#5:20 Ook vertaal as deur ’n groot kloof. gegaan en die Filistyne daar verslaan. Toe roep Dawid uit: “Die Here het soos ’n verwoestende stroom water deur my vyande gebreek!” Daarom het Dawid die plek Baäl-Perasim (Grootkloof) genoem. 21Die Filistyne het selfs hulle afgode net daar laat lê sodat Dawid en sy soldate dit kon wegdra.
22Maar na ’n tyd het die Filistyne teruggekom en weer oor die Spooklaagte versprei. 23Weereens raadpleeg Dawid die Here. “Moenie hulle van voor af aanval nie,” antwoord die Here. “Julle moet eerder óm hulle trek en hulle daar by die bome van agter af aanval. 24Wanneer julle in die toppe van die bome ’n geruis hoor soos mense wat marsjeer, moet julle toeslaan. Dit is die teken dat die Here voor julle uit gaan om die Filistyne te tref.” 25Dawid het gedoen soos die Here beveel het. Hy het die Filistyne verslaan vanaf Geba#5:25 Die Griekse vertaling Gibeon. tot by Geser.
Tans Gekies:
2 SAMUEL 5: NLV
Kleurmerk
Deel
Kopieer
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011