DANIËL 4:1-18

DANIËL 4:1-18 NLV

Koning Nebukadnesar het ’n brief uitgestuur aan al die volke, tale en nasies van die wêreld: “Mag dit goed gaan met julle almal. Ek wil graag vir julle vertel van die tekens en wonders wat God die Allerhoogste my laat ervaar het. “Hoe groot is sy tekens en hoe magtig sy wonders! Sy koninkryk hou nooit op nie. Hy heers oor geslag na geslag. “Ek, Nebukadnesar, was gerieflik en voorspoedig in my paleis. Ek het toe ’n droom gehad wat my baie banggemaak het. Ek het daar op my bed dinge gesien wat my onrustig gemaak het. Ek het toe opdrag gegee om al die slim manne van Babel na my toe te bring om vir my te kom sê wat die droom beteken. “Toe al die towenaars, besweerders, voorspellers en sterrekykers gekom het, het ek vir hulle gesê wat ek gedroom het. Hulle kon egter nie vir my sê wat dit beteken nie. “Op die ou einde het Daniël na my toe gekom. Ek het hom na my god Beltsasar vernoem, want die gees van die heilige gode is in hom. Ek het vir hom vertel wat ek gedroom het. Ek het vir hom gesê: ‘Beltsasar, leier van die towenaars, ek weet dat die gees van die heilige gode in jou is. Geen geheim is vir jou te groot nie. Ek sal jou vertel wat ek gedroom het, dan moet jy vir my sê wat dit beteken. “‘Ek het op my bed gelê en in die middel van die wêreld ’n hoë boom gesien. Die boom het groot en sterk geword. Dit was naderhand so hoog soos die wolke. Almal op die wêreld kon dit sien. Dit het groen blare gehad en genoeg vrugte gedra dat almal daarvan kon eet. Die diere van die veld het in sy skaduwee gestaan. Die voëls van die lug het daarin nes gemaak. Almal wat leef, kon van sy vrugte lewe. “‘Terwyl ek op my bed lê en droom, het daar ’n bo-aardse wese uit die hemel uitgekom. Hy het hardop uitgeroep: Kap die boom af! Breek sy takke af! Stroop sy blare af! Skud sy vrugte af! Jaag die diere weg van sy skaduwee! Jaag die voëls uit sy takke! Laat staan net sy stomp en sy wortels tussen die gras in die grond met ’n band van yster en koper om. Die dou uit die lug moet hom natmaak. Hy moet saam met die diere in die oop veld bly. Laat sy geaardheid word soos dié van ’n dier, en laat dit vir sewe tydperke aanhou. “‘Dit was die besluit van die bo-aardse wesens. Dit was wat die heiliges geëis het sodat almal wat leef, kan weet dat God die Allerhoogste regeer oor die koninkryke van mense. Hy gee mag aan mense soos Hy wil. Hy kan selfs die geringste mens aanstel. “‘Dit was die droom wat ek, koning Nebukadnesar, gehad het. Beltsasar, jy moet nou vir my sê wat dit beteken. Nie een van die ander raadgewers in my koninkryk kan dit vir my verklaar nie. Jy kan dit doen, want die gees van die heilige gode is in jou.’”