JEREMIA 20
20
Jeremia en Pasgur
1Pasgur, die seun van Immer, was die priester in beheer by die tempel van die Here. Hy het die boodskap gehoor wat Jeremia geprofeteer het. 2Pasgur het Jeremia gearresteer en hom laat slaan en in ’n voetblok vasgemaak by die boonste Benjaminingang van die tempel.
3Die volgende dag het Pasgur Jeremia vrygelaat. Toe het Jeremia vir hom gesê: “Pasgur, die Here het jou naam verander. Hy noem jou nou: ‘Verskrikking rondom,’ 4want dit is wat die Here sê: Ek sal sorg dat jy en jou vriende verskrik is van vrees. Jou vyand sal jou vriende voor jou oë met die swaard doodmaak. Ek gee die hele bevolking van Juda oor in die hande van die koning van Babel. Hy sal die mense in ballingskap wegvoer na Babel of met die swaard doodmaak. 5Ek sal toelaat dat jou vyande hierdie stad kaalstroop. Hulle sal al die rykdom in die stad – die kosbare juwele van goud en silwer van jou konings – na Babel toe neem. 6Pasgur, hulle sal jou en ook jou familie as gevangenes na Babel toe wegvoer. Daar sal jy doodgaan en sal hulle jou begrawe. Dieselfde sal ook gebeur met al jou vriende vir wie jy geprofeteer het dat alles reg sal wees.”
Jeremia se klagte
7 Here, U het my omgepraat
en ek het my laat ompraat.
U is baie sterker as ek,
U het my oorweldig.
Nou bespot hulle my heeldag,
almal lag vir my.
8As ek praat,
moet ek elke keer net uitroep:
“Geweld en vernietiging!”
Die boodskap wat die Here
vir my gegee het,
veroorsaak dat almal my
aanhoudend spot.
9Ek het al gesê
ek sal niks van die Here sê
of namens Hom praat nie.
Maar dan is dit soos ’n vuur
wat in my hart brand!
Ek is moeg daarvan
om weerstand te bied;
trouens, ek kan nie meer nie.
10Ek hoor hoe hulle spot:
“Oral is groot gevaar!”
Dan sê hulle:
“As jy iets sê,
gaan ons dit rapporteer!”
Selfs my ou vriende
hou my dop.
Hulle sit en wag vir my
om ’n fout te maak.
Hulle sê:
“Miskien kan hy verlei word,
dan sal ons ons kans kry
om ons op hom te wreek.”
11Maar die Here is by my,
soos ’n sterk soldaat.
My vervolgers sal ondergaan!
Hulle sal my nie oorwin nie.
Hulle sal rooi in die gesig staan
omdat
hulle niks reggekry het nie.
Niemand sal hulle vernedering
ooit vergeet nie.
12 Here, Almagtige,
U weet wie tree reg op.
U sien presies wat aangaan
in mense se harte
en gedagtes.
Ek wil graag sien
hoe U U op hulle wreek.
Ek het my saak
in u hande gelaat.
13Daarom sing ek
tot eer van die Here!
Prys die Here!
Want Hy red arm,
behoeftige mense soos ek
van kwaaddoeners.
14Ek verwens die dag
wat ek gebore is!
Mag niemand my geboortedag
ooit as gelukkig beskou nie.
15Ek verwens die dag
toe iemand vir my pa
die nuus gebring het:
“Geluk, jy het ’n seun!”
16Mag dié man wees
soos die dorpe
wat die Here
sonder genade vernietig het.
Mag hy in die oggend
weeklag hoor,
en in die middag
oorlogsgeskreeu
17omdat hy my nie
voor my geboorte
doodgemaak het nie.
Ag, kon my ma se liggaam
vir ewig my graf gewees het!
18Hoekom is ek ooit gebore
om al die swaarkry en pyn
te sien?
Moet ek my lewe lank
vernedering ervaar?
Tans Gekies:
JEREMIA 20: NLV
Kleurmerk
Deel
Kopieer
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011