JEREMIA 6:10-30

JEREMIA 6:10-30 NLV

“Met wie sal Ek praat? Wie sal luister as Ek ’n waarskuwing gee? Hulle ore is toe, hulle kan nie luister nie. Hulle minag die woorde van die HERE, hulle vind geen vreugde daarin nie. Die woede van die HERE brand in my. Ek kan dit nie langer inhou nie! Ek stort dit uit op kinders in die straat en ook jongmense waar hulle bymekaarkom. Sowel mans as vroue en oumense sal getref word. Die vyand sal kom en hierdie mense se huise, landerye en vroue afvat. Ek sal die inwoners van hierdie land straf,” sê die HERE. “Almal, van die eenvoudigste tot die vernaamste mense, probeer rykdom bekom op ’n onregmatige manier. Selfs die profete en priesters doen oneerlike dinge! Hulle probeer om my mense se wonde op ’n oppervlakkige manier gesond te maak. Hulle maak of daar vrede is, terwyl daar eintlik geen vrede is nie. Is hulle enigsins skaam oor die gruwels wat hulle doen? Nee, hoegenaamd nie! Hulle weet nie eers hoe om te bloos nie! Daarom sal hulle tussen die gesneuweldes lê. Hulle sal verneder word wanneer Ek hulle straf,” sê die HERE. HERE Die HERE sê: “Staan by die paaie en kyk. Vra na die ou paaie. Vra na die beste pad en volg dit, want julle sal daar ware rus vind. Maar julle het gesê: ‘Ons sal nie luister nie.’ Ek het mense aangestel om oor julle te waak, en hulle roep: ‘Luister na die trompetgeskal!’ Maar julle sê: ‘Ons sal nie luister nie!’ Luister, al die nasies. Kyk wat met my volk gaan gebeur. Let op wat gaan gebeur, aarde! Ek bring rampe oor my volk. Hulle pluk net die vrug van hulle eie planne, want hulle het hulle nie gesteur aan wat Ek sê nie. Hulle het my opdragte verwerp. Daar is geen nut in om vir My wierook uit Skeba te brand, of kalmoes uit ’n ver land te bring nie. Julle brandoffers aanvaar Ek nie, julle offers verskaf My geen vreugde nie.” Daarom sê die HERE: “Ek bring struikelblokke op die pad van my volk. Pa’s en seuns sal daaroor val. Bure en vriende sal saam omkom.” Die HERE sê: “Kyk, ’n leër kom uit die noorde. Dis ’n sterk nasie uit ’n verafgeleë land. Hulle is gewapen met pyl en boog en spiese. Hulle is wreed en toon geen genade nie. As hulle ruiters optrek, klink dit soos die gedruis van die see. Jerusalem, soldate trek op in formasie, gereed om jou te vernietig.” Ons het berigte gehoor oor die vyand. Dit maak ons lam van vrees. Vrees en pyn oorval ons soos geboortepyne wat ’n vrou ervaar. Moenie waag om in die veld te stap nie! Bly weg van die paaie! Die vyand is gewapen, hulle bring oral vrees. My volk, trek rouklere aan, en gaan sit in sak en as! Rou en huil met stukkende harte asof ’n enigste kind dood is. Die vernietigende vyand gaan julle skielik aanval! “Jeremia, Ek stel jou aan om die gehalte van my volk te toets net soos ’n mens die gehalte van metaal sou toets. Hulle is almal hardkoppig. Hulle loop oral en kwaadpraat. Hulle is soos brons en yster, almal is korrup. Blaas maar die vuur aan om dit witwarm te kry. Maar die suiwering is tevergeefs! Niemand kry dit reg om onreg uit te suiwer nie. Ek noem hulle ‘weggooisilwer’, want die HERE het hulle weggegooi.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor JEREMIA 6:10-30