Met wie sal ek praat, wie sal ek waarsku,
wie sal na my luister?
Hulle ore is doof, hulle is nie in staat om te hoor nie.
Hulle praat smalend oor die woord van die Here,
dit kan hulle nie skeel nie.
Die toorn van die Here brand in my,
ek kan dit nie verduur nie!
Giet dit uit op die kinders in die straat
en op die jongmanne waar hulle bymekaarkom;
laat mans én vrouens daardeur verteer word,
selfs mense wat grys is, wat baie oud is.
Hulle huise sal ander mense s'n word,
en ook hulle lande en hulle vrouens,
want Ek gaan die inwoners van die land straf, sê die Here.
Almal, klein en groot, wil hulleself net verryk,
almal, selfs profete en priesters, is uit op bedrog.
Hulle het 'n goedkoop raat vir die wonde van my volk.
Hulle sê net: “Alles is reg! Alles is reg!”
Maar niks is reg nie.
Wanneer hulle aan die kaak gestel word
oor die gruwelike dinge wat hulle gedoen het,
skaam hulle hulle nie eens nie,
hulle weet nie van skaamte nie.
Daarom sal hulle tot 'n val kom soos al die ander voor hulle;
wanneer Ek hulle straf, sal hulle omkom, sê die Here.
So sê die Here:
Staan by die kruispaaie en kyk,
en vra na die ou paaie.
Vra watter pad die beste is en loop dit,
dan sal julle rus vind.
Maar hulle het gesê: “Ons sal nie daardie pad loop nie.”
Toe het Ek wagte oor julle aangestel en gesê:
Luister na die ramshoring!
Maar hulle het geantwoord: “Ons sal nie luister nie.”
Daarom moet julle luister, nasies,
en kyk wat met hulle gaan gebeur.
Luister, aarde! Ek bring onheil oor hierdie volk,
hulle sal die vrugte pluk van hulle planne,
want hulle het hulle nie aan my woorde gesteur nie,
hulle het verwerp wat Ek hulle geleer het.
Waarom sou Ek omgee vir wierook uit Skeba
of kalmoes uit 'n ver land?
Ek aanvaar nie julle brandoffers nie,
Ek hou nie van julle offers nie.
Daarom sê die Here:
Kyk, Ek lê in die pad van hierdie volk struikelblokke
dat hulle daaroor kan val;
vaders en kinders, vriende en bure sal omkom.
So het die Here gesê:
Kyk, 'n volk kom uit 'n land in die noorde,
'n groot nasie staan op in 'n uithoek van die aarde.
Hulle is gewapen met pyl en boog en swaard,
hulle is wreed en hulle spaar niemand nie.
Hulle krygsgeskreeu dreun soos die see,
hulle kom aan op hulle perde,
hulle soldate is reg vir die aanval op jou, Sion.
Ons het die gerug oor hulle gehoor,
ons hande hang slap,
angs het ons beetgepak,
benoudheid soos die pyn van 'n vrou
wat 'n kind in die wêreld bring.
Moenie in die veld ingaan nie,
moet ook nie met die pad langs loop nie,
want die wapens van die vyand jaag oral skrik aan.
My volk, trek rouklere aan, rol in die as,
treur soos oor die dood van 'n enigste kind,
huil bittere trane, want die verwoester is op ons.
Ek stel jou aan om my volk te toets,
Ek maak jou sterk; ondersoek en toets wat hulle doen.
Hulle is almal hardkoppige rebelle,
hard soos brons en yster;
hulle loop mekaar en beswadder,
hulle is almal korrup.
Die blaasbalk blaas,
maar die vuur kry nie die lood afgeskei nie;
die smelter smelt verniet,
hy kry die afvalstowwe nie uitgesmelt nie.
Hulle bly weggooisilwer;
dit is wat hulle genoem word,
want die Here het hulle verwerp.