“As enigiemand, of dit nou ’n man of vrou is, ’n seerplek aan die kop of ken het, moet die priester die ontsteking ondersoek. As dit lyk na iets meer as net veldiep, en fyn, geel hare word op die aangetaste deel gevind, moet die priester so ’n persoon onrein verklaar. Die ontsteking is ’n aansteeklike velsiekte van die kop of ken. As die priester se ondersoek egter wys dat die ontsteking net veldiep is sonder enige swart hare op die aangetaste deel, moet so ’n persoon onder kwarantyn geplaas word vir sewe dae. As die aangetaste deel nie versprei het nie, daar nie geel hare verskyn het nie, en as die infeksie nie lyk na iets meer as net veldiep nie, moet die besmette persoon alle hare afskeer, behalwe die hare op die aangetaste gedeeltes. Die priester moet dan die persoon vir nog sewe dae onder kwarantyn plaas. Hy moet dan die infeksie weer op die sewende dag ondersoek. As dit nie versprei het nie en dit lyk nie na iets meer as net veldiep nie, moet die priester die persoon rein verklaar. Nadat sy klere gewas is, sal hy rein wees. As die infeksie begin versprei nadat die persoon rein verklaar is, moet die priester nog ’n ondersoek doen. As die infeksie versprei het, moet hy die persoon onrein verklaar, selfs sonder om te kyk of daar geel hare is. As dit lyk of die infeksie nie meer versprei nie en swart hare begin groei op die aangetaste deel, het die infeksie gesond geword. Die priester sal dan die besmette persoon rein verklaar.
“As enigiemand, ’n man of vrou, wit vlekke op die vel het, moet die priester die aangetaste deel ondersoek. As die plek net bleek-wit lyk, is dit ’n skadelose veluitslag en is die persoon rein.
“As ’n man sy hare verloor en hy word bles, is hy nog steeds rein. As hy sy hare op sy voorkop verloor, het hy net ’n bles voorkop, maar is hy steeds rein. As daar egter ’n rooi-wit ontsteking op die voor- of agterkop ontstaan, is dit ’n aansteeklike velsiekte. Die priester moet hom ondersoek en as hy ’n swelsel ontdek rondom die rooi-wit seer, het die man ’n aansteeklike velsiekte en is hy onrein. Die priester moet hom dan as gevolg van die ontsteking onrein verklaar.
“Mense wat aan enige aansteeklike velsiekte ly, moet hulle klere skeur en hulle hare laat los hang. Soos wat hulle van plek tot plek gaan, moet hulle hulle monde bedek en uitroep: ‘Onrein! Onrein!’ So lank as wat die siekte aanhou, is hulle onrein en moet hulle buite die kamp in afsondering leef.”
“As ’n skimmel op ’n kledingstuk verskyn, of op wol- of linnemateriaal, of op die vel van ’n dier of enigiets wat van leer gemaak is, en die skimmel het ’n groenerige en rooierige kleur aan die klere, of die dierevel, of die materiaal of die leer, is dit besmet met ’n aansteeklike soort skimmel. Dit moet na die priester toe geneem word om ondersoek te word. Ná die ondersoek van die priester moet hy dit vir sewe dae lank eenkant wegbêre. Op die sewende dag moet die priester dit weer ondersoek. As die besmette deel verder versprei het, is die materiaal duidelik besmet met ’n aansteeklike skimmel en is dit onrein. Die priester moet die linne of wolklere of die stuk leer verbrand, want dit is besmet met ’n aansteeklike skimmel. Dit moet heeltemal verbrand word.
“As die priester dit egter weer ondersoek en die besmette deel het nie versprei in die klere, die materiaal of die leer nie, sal die priester aanbeveel dat dit gewas moet word en vir nog sewe dae eenkant gehou moet word. Dan moet die priester dit weer ondersoek. As hy sien dat die besmette deel nie verander het nadat dit gewas is nie, selfs al het dit nie verander nie, is dit nog onrein. Dit moet heeltemal verbrand word of dit nou aan die binne- of aan die buitekant besmet is. As die priester sien dat die besmette deel ná die was verbleik het, moet hy die kol van die klere, die materiaal of die leer uitsny. As die kol weer na ’n ruk verskyn, is die skimmel duidelik aan die versprei en moet die besmette artikel verbrand word. As die kol verdwyn nadat dit gewas is, moet dit weer gewas word en dan sal dit rein wees.
“Dit is die instruksie wat geld vir wol- of linneklere of materiaal of iets wat met leer gemaak is en wat met aansteeklike skimmel besmet is. Dit is hoe die priester sal bepaal of hierdie dinge rein of onrein is.”