Die HERE het vir Moses beveel om hierdie instruksies vir die Israeliete te gee: “Op die eerste dag van die sewende maand in die vroegherfs moet julle ’n dag van rus vier. Alle werk moet op dié dag tot stilstand kom. Die volk word met die harde geblaas van ’n trompet opgeroep tot ’n heilige byeenkoms, die Fees van die Trompette. Julle mag geen werk doen op dié dag nie. Julle moet eerder vuuroffers vir die HERE bring.” Toe het die HERE vir Moses gesê: “Onthou om die Dag van Versoening te vier op die negende dag ná die Fees van die Trompette. Op dié dag moet julle julleself verootmoedig, ’n heilige byeenkoms hou en vuuroffers vir die HERE bring. Julle mag die hele dag lank nie werk nie, want dit is die Dag van Versoening wanneer daar vir julle voor die HERE julle God versoening gedoen word. Enige persoon wat homself nie op dié dag verootmoedig nie, sal uit die gemeenskap verwyder word. Ek sal ook enige persoon wat op dié dag werk, om die lewe bring. Julle mag hoegenaamd geen werk doen nie. Dit is ’n permanente reël en moet nagekom word waar julle ook al woon. Dit sal ’n Sabbat van rus vir julle wees, ’n dag waarop julle julleself moet verneder. Die tyd van rus en vas sal die aand voor die Dag van Versoening begin en dit sal duur tot die aand van daardie dag.” Die HERE het vir Moses gesê: “Die Israeliete moet op die vyfde dag ná die Dag van Versoening begin met die Huttefees. Hierdie fees vir die HERE duur sewe dae. “Dit begin met ’n heilige byeenkoms en al julle werk moet tot stilstand kom. Op elk van die sewe feesdae moet julle vuuroffers vir die HERE bring. Op die agtste dag moet julle weer bymekaarkom vir ’n heilige byeenkoms en nog ’n vuuroffer vir die HERE bring. Dit moet ’n plegtige byeenkoms wees en geen werk mag op dié dag gedoen word nie. “Dit is al die HERE se jaarlikse feeste, die feeste met heilige byeenkomste, en bring al die verskillende vuuroffers vir die HERE: brandoffers, graanoffers, offermaaltye, drankoffers, elkeen op die gepaste dag. Hierdie feeste moet gehou word bo en behalwe die Sabbatdae van die HERE. Die offers wat gebring word, word gegee naas julle persoonlike gawes en die offers wat julle maak om ’n gelofte na te kom of enige vrywillige offer wat julle vir die HERE bring. “Die Huttefees val op die vyftiende dag van die sewende maand nadat julle die opbrengs van die land geoes het. Dit duur sewe dae lank. Onthou dat die eerste en die agtste dag van die fees rusdae sal wees. Op die eerste dag moet julle sitrusvrugte neem en ook palmblare en ander takke waaraan daar blare is en ook wilgers wat by riviere groei, bymekaarmaak. Vier dan sewe dae lank met blydskap fees in die teenwoordigheid van die HERE. Julle moet hierdie fees van sewe dae vir die HERE elke jaar vier. Dit is ’n permanente reëling vir julle en moet ook deur toekomstige geslagte nagekom word. Vir sewe dae lank moet alle gebore Israeliete in hutte woon wat van hierdie takke gemaak is. Dit sal elke nuwe geslag Israeliete herinner aan hulle voorouers wat so in hutte moes leef toe Ek hulle uit Egipte gered het. Ek, die HERE, is julle God.”
Lees LEVITIKUS 23
Deel
Vergelyk alle weergawes: LEVITIKUS 23:23-43
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's