Levitikus 23:23-43

Levitikus 23:23-43 AFR20

Die HERE het vir Moses gesê: “Sê vir die Israeliete, ‘Die eerste dag van die sewende maand moet vir julle 'n buitengewone Sabbat wees, 'n herdenkingsdag, aangekondig met geskal, 'n heilige byeenkoms. Julle mag geen gewone take verrig nie en julle moet 'n offergawe vir die HERE bring.’ ” Die HERE het vir Moses gesê: “Onthou net, die tiende dag van hierdie sewende maand is die •Dag van Versoening. Julle moet 'n heilige byeenkoms hou. Julle moet julle verootmoedig en vir die HERE 'n offergawe aanbied. Julle mag nie enige werk op dié bepaalde dag doen nie, want dit is die Dag van Versoening om vir julle voor die HERE julle God versoening te doen. Ja, enige persoon wat hom nie op dié bepaalde dag verootmoedig nie, moet uit sy volk verwyder word; en enige persoon wat enige werk doen op dié bepaalde dag – Ek sal daardie persoon uitwis uit die geledere van sy volk. Geen werk mag julle doen nie. Dit is 'n vaste voorskrif wat vir altyd vir julle nageslagte geld, waar julle ook al woon. Vir julle is dit 'n buitengewone Sabbat, en julle moet julle die aand van die negende van die maand verootmoedig. Julle moet van sononder tot sononder julle Sabbat vier.” Die HERE het vir Moses gesê: “Sê vir die Israeliete, ‘Op die vyftiende dag van hierdie sewende maand is dit die Huttefees – sewe dae lank tot eer van die HERE. Op die eerste dag is daar 'n heilige byeenkoms. Julle mag geen gewone take verrig nie. Sewe dae lank moet julle daagliks 'n offergawe vir die HERE bring. Op die agtste dag moet julle 'n heilige byeenkoms hou en ook 'n offergawe vir die HERE bring. Dit is 'n gewyde rusdag, julle mag geen gewone take verrig nie. “ ‘Dit is die feesdae van die HERE wat julle as heilige byeenkomste moet uitroep om offergawes aan die HERE te bring: brandoffers, graanoffers, maaltydoffers en drankoffers soos wat daar vir elke feesdag vereis word, afgesien van die gewone Sabbatte van die HERE, julle gewone gawes, al julle gelofte-offers en al julle vrywillige offers wat julle aan die HERE gee. “ ‘Onthou net, op die vyftiende dag van die sewende maand, wanneer julle die opbrengs van die land insamel, moet julle die fees van die HERE sewe dae lank vier. Die eerste dag van die fees is 'n buitengewone Sabbat en die agtste dag is 'n buitengewone Sabbat. Op die eerste dag moet julle vrugte van lowerryke bome neem saam met palmtakke, die takke van welig groeiende bome en rivierwilgers, en voor die HERE julle God sewe dae lank vrolik wees. Julle moet dit as 'n fees ter ere van die HERE vier sewe dae lank in die jaar. Dit is 'n vaste voorskrif wat vir altyd vir julle nageslagte geld. In die sewende maand moet julle hierdie fees vier. Julle moet in hutte woon sewe dae lank. Al die gebore Israeliete moet in Israel in hutte woon, sodat julle nageslagte kan weet dat Ek die Israeliete in hutte laat woon het toe Ek hulle uit Egipteland laat wegtrek het. Ek is die HERE julle God.’ ”