LEVITIKUS 23:23-43

LEVITIKUS 23:23-43 Bybel vir almal (ABA)

Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet vir die Israeliete sê: Julle moet op die eerste dag van die sewende maand 'n spesiale Sabbatdag vier. Julle moet bymekaarkom en julle moet julleself wy. Julle moet ramshorings blaas en julle moet skree. Julle mag nie die werk doen wat julle altyd doen nie en julle moet vir die Here 'n vuur-offer bring.” Die Here het vir Moses gesê: “Op die tiende dag van hierdie sewende maand, is dit Versoendag, dit is net op hierdie een dag. Julle moet bymekaarkom en julle moet julleself wy. Julle moet vas en julle moet vir die Here 'n vuur-offer bring. Julle mag nie op hierdie dag die werk doen wat julle altyd doen nie, want dit is die Versoendag om vir julle versoening te doen voor julle God die Here. As iemand nie op hierdie dag vas nie, dan moet julle hom afsny van sy volk. En wanneer iemand op hierdie dag werk doen wat hy altyd doen, dan sal Ek self hom wegvat van sy volk en Ek sal hom laat sterf. Julle mag nie werk doen wat julle altyd doen nie. Julle en julle nageslag moet hierdie dag altyd vier, oral waar julle woon. Dit is vir julle 'n baie spesiale Sabbatdag. Julle moet begin vas op die aand van die negende dag en julle moet die Sabbatdag tot die volgende aand vier.” Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet vir die Israeliete sê: Die Hutte-fees moet begin op die vyftiende dag van die sewende maand, en dit moet sewe dae lank aanhou. Op die eerste dag moet julle bymekaarkom en julle moet julleself wy. Julle mag nie die werk doen wat julle altyd doen nie. Julle moet sewe dae lank elke dag vir die Here 'n vuur-offer bring. Op die agste dag moet julle bymekaarkom en julle moet julleself wy en vir die Here 'n vuur-offer bring. Dit is 'n gewyde feesdag, en julle mag nie die werk doen wat julle altyd doen nie. “Dit is die feeste van die Here wat julle moet vier. Julle moet bymekaarkom en julle moet julleself wy. Julle moet 'n vuur-offer vir die Here bring, 'n brand-offer en 'n koring-offer en drank-offers, julle moet elke dag die offers bring wat die Here gesê het. Julle moet ook die Sabbatdae van die Here vier en julle moet julle presente en julle gelofte-offers bring en ook al die offers wat julle self graag vir die Here wil gee. “Op die vyftiende dag van die sewende maand moet julle begin om die fees van die Here te vier. Julle moet dit net op hierdie dag vier wanneer julle klaar die koring en die gars afgesny het en die vrugte gepluk het. Julle moet die fees sewe dae lank vier. Die eerste en die agste dag is spesiale Sabbatdae. Op die eerste dag moet julle sitrusvrugte neem en palmtakke en takke van bome wat baie blare het en bome wat langs water groei. Julle moet sewe dae lank feesvier voor julle God die Here. Julle moet die fees elke jaar sewe dae lank vier. Julle en julle nageslag moet die fees altyd in die sewende maand vier. Julle moet sewe dae lank in hutte woon. Elke Israeliet moet dit doen, sodat julle nageslag sal weet dat Ek die Israeliete in hutte laat woon het toe Ek hulle uit die land Egipte gebring het. Ek is julle God die Here.”

LEVITIKUS 23:23-43 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Spreek met die kinders van Israel en sê: In die sewende maand, op die eerste van die maand, moet dit vir julle 'n rusdag wees, 'n gedenkdag deur basuingeklank, 'n heilige vierdag. Géén beroepswerk mag julle doen nie; maar julle moet aan die HERE 'n vuuroffer bring. Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: Maar op die tiende van hierdie sewende maand is dit die versoendag. 'n Heilige vierdag moet dit vir julle wees; dan moet julle jul verootmoedig en aan die HERE 'n vuuroffer bring. En op daardie selfde dag mag julle géén werk doen nie, want dit is 'n versoendag om vir julle versoening te doen voor die aangesig van die HERE julle God. Want elkeen wat hom op daardie selfde dag nie verootmoedig nie, moet uit sy volksgenote uitgeroei word. Ook elkeen wat op daardie selfde dag enige werk doen, dié siel sal Ek uitroei onder sy volk uit. Julle mag géén werk doen nie; dit is 'n ewige insetting vir julle geslagte in al julle woonplekke. 'n Dag van volkome rus moet dit vir julle wees, en julle moet jul verootmoedig. Op die negende van die maand in die aand, van aand tot aand, moet julle jul sabbat hou. En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Spreek met die kinders van Israel en sê: Op die vyftiende dag van hierdie sewende maand is dit sewe dae lank die huttefees vir die HERE. Op die eerste dag moet daar 'n heilige vierdag wees; géén beroepswerk mag julle doen nie. Sewe dae lank moet julle aan die HERE 'n vuuroffer bring. Op die agtste dag moet daar vir julle 'n heilige vierdag wees, en julle moet aan die HERE 'n vuuroffer bring. Dit is 'n feestyd; julle mag geen beroepswerk doen nie. Dit is die feestye van die HERE wat julle moet uitroep as heilige vierdae om aan die HERE 'n vuuroffer te bring: 'n brandoffer en spysoffer, 'n slagoffer en drankoffers soos vir elke dag voorgeskrywe; behalwe die sabbatte van die HERE en behalwe julle gawes en behalwe al julle geloftes en behalwe al julle vrywillige offers wat julle aan die HERE gee. Maar op die vyftiende dag van die sewende maand, as julle die opbrings van die land insamel, moet julle die fees van die HERE sewe dae lank vier; op die eerste dag is dit rusdag, en op die agtste dag is dit rusdag. En op die eerste dag moet julle vir julle vrugte neem van sierlike bome, met palmtakke en takke van digte bome en rivierwilgers, en sewe dae lank voor die aangesig van die HERE julle God vrolik wees. En julle moet dit as fees van die HERE sewe dae in die jaar vier. Dit is 'n ewige insetting vir julle geslagte. In die sewende maand moet julle dit vier. Sewe dae lank moet julle in hutte woon; almal wat in Israel gebore is, moet in hutte woon, sodat julle geslagte kan weet dat Ek die kinders van Israel in hutte laat woon het toe Ek hulle uit Egipteland uitgelei het. Ek is die HERE julle God.

LEVITIKUS 23:23-43 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die Here het vir Moses gesê: “Sê vir die Israeliete: Die eerste dag van die sewende maand moet 'n rusdag wees, 'n gedenkdag wat met die blaas van ramshorings aangekondig word, 'n gewyde byeenkoms. Niemand mag dan werk nie en julle moet offers aan die Here bring.” Die Here het vir Moses gesê: “Op die tiende van die sewende maand is dit die versoendag. Julle moet dan 'n gewyde byeenkoms hou, en julle moet vas en aan die Here offers bring. Niemand mag op dié dag werk nie, want dit is die versoendag waarop daar vir julle versoening gedoen word by die Here julle God. Enigiemand wat nie vas op hierdie dag nie, moet van sy volksgenote afgesny word en Ek sal elkeen wat op hierdie dag werk, om die lewe bring. Julle mag geen werk doen nie. Hierdie dag moet vir altyd 'n vaste instelling wees, waar julle of julle nageslag ook al woon. Dit moet vir julle 'n plegtige rusdag wees waarop julle vas. Julle moet rus van sononder af op die negende van die maand tot sononder op die tiende.” Die Here het vir Moses gesê: “Sê vir die Israeliete: Van die vyftiende van die sewende maand af moet julle sewe dae lank die huttefees vier tot eer van die Here. Op die eerste dag van die fees moet julle 'n gewyde byeenkoms hou. Niemand mag dan werk nie. Sewe dae lank moet julle offers aan die Here bring. Op die agste dag moet julle weer 'n gewyde byeenkoms hou en offers aan die Here bring. Dit moet 'n besondere feesdag wees. Niemand mag dan werk nie. “Dit is die feestye wat deur die Here bepaal is, die tye waarop julle gewyde byeenkomste moet hou om offers aan die Here te bring: brandoffers en graanoffers, maaltydoffers en drankoffers soos vir elke feesdag voorgeskryf. Daarnaas is daar nog die gewone sabbatte van die Here, die gewone geskenke aan die heiligdom en al die offers wat julle bring om geloftes na te kom of wat julle vrywillig aan die Here gee. “Julle moet dus op die vyftiende van die sewende maand wanneer julle die vrugteoes insamel, sewe dae lank die fees van die Here vier. Die eerste en die agste dag moet rusdae wees. Op die eerste dag moet julle sitrusvrugte neem saam met palmblare en takke van digte bome en rivierwilgers, en dan moet julle sewe dae lank met vreugde feesvier by die heiligdom van die Here julle God. Julle moet hierdie fees van die Here elke jaar sewe dae lank vier. Dit moet 'n vaste instelling wees vir julle nageslag. Julle moet dit in die sewende maand vier. Sewe dae lank moet julle in hutte woon, alle gebore Israeliete moet dan in hutte woon. Die doel daarmee is dat julle nageslag moet weet dat Ek die Israeliete in hutte laat woon het toe Ek hulle uit Egipte laat trek het. Ek is die Here julle God.”

LEVITIKUS 23:23-43 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die HERE het vir Moses gesê: “Sê vir die Israeliete, ‘Die eerste dag van die sewende maand moet vir julle 'n buitengewone Sabbat wees, 'n herdenkingsdag, aangekondig met geskal, 'n heilige byeenkoms. Julle mag geen gewone take verrig nie en julle moet 'n offergawe vir die HERE bring.’ ” Die HERE het vir Moses gesê: “Onthou net, die tiende dag van hierdie sewende maand is die •Dag van Versoening. Julle moet 'n heilige byeenkoms hou. Julle moet julle verootmoedig en vir die HERE 'n offergawe aanbied. Julle mag nie enige werk op dié bepaalde dag doen nie, want dit is die Dag van Versoening om vir julle voor die HERE julle God versoening te doen. Ja, enige persoon wat hom nie op dié bepaalde dag verootmoedig nie, moet uit sy volk verwyder word; en enige persoon wat enige werk doen op dié bepaalde dag – Ek sal daardie persoon uitwis uit die geledere van sy volk. Geen werk mag julle doen nie. Dit is 'n vaste voorskrif wat vir altyd vir julle nageslagte geld, waar julle ook al woon. Vir julle is dit 'n buitengewone Sabbat, en julle moet julle die aand van die negende van die maand verootmoedig. Julle moet van sononder tot sononder julle Sabbat vier.” Die HERE het vir Moses gesê: “Sê vir die Israeliete, ‘Op die vyftiende dag van hierdie sewende maand is dit die Huttefees – sewe dae lank tot eer van die HERE. Op die eerste dag is daar 'n heilige byeenkoms. Julle mag geen gewone take verrig nie. Sewe dae lank moet julle daagliks 'n offergawe vir die HERE bring. Op die agtste dag moet julle 'n heilige byeenkoms hou en ook 'n offergawe vir die HERE bring. Dit is 'n gewyde rusdag, julle mag geen gewone take verrig nie. “ ‘Dit is die feesdae van die HERE wat julle as heilige byeenkomste moet uitroep om offergawes aan die HERE te bring: brandoffers, graanoffers, maaltydoffers en drankoffers soos wat daar vir elke feesdag vereis word, afgesien van die gewone Sabbatte van die HERE, julle gewone gawes, al julle gelofte-offers en al julle vrywillige offers wat julle aan die HERE gee. “ ‘Onthou net, op die vyftiende dag van die sewende maand, wanneer julle die opbrengs van die land insamel, moet julle die fees van die HERE sewe dae lank vier. Die eerste dag van die fees is 'n buitengewone Sabbat en die agtste dag is 'n buitengewone Sabbat. Op die eerste dag moet julle vrugte van lowerryke bome neem saam met palmtakke, die takke van welig groeiende bome en rivierwilgers, en voor die HERE julle God sewe dae lank vrolik wees. Julle moet dit as 'n fees ter ere van die HERE vier sewe dae lank in die jaar. Dit is 'n vaste voorskrif wat vir altyd vir julle nageslagte geld. In die sewende maand moet julle hierdie fees vier. Julle moet in hutte woon sewe dae lank. Al die gebore Israeliete moet in Israel in hutte woon, sodat julle nageslagte kan weet dat Ek die Israeliete in hutte laat woon het toe Ek hulle uit Egipteland laat wegtrek het. Ek is die HERE julle God.’ ”

LEVITIKUS 23:23-43 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Spreek met die kinders van Israel en sê: In die sewende maand, op die eerste dag van die maand, moet vir julle 'n sabbat wees, 'n gedenkteken van die blaas van basuine, 'n heilige samekoms. Julle mag geen dienswerk daarin doen nie, maar julle moet 'n vuuroffer aan die HERE bring. En die HERE het met Moses gespreek en gesê: En op die tiende dag van hierdie sewende maand moet daar 'n versoendag wees; 'n heilige samekoms moet dit vir julle wees; en julle moet julle siele verdruk en 'n vuuroffer aan die HERE bring. En op daardie selfde dag mag julle geen werk doen nie, want dit is 'n versoendag om vir julle versoening te doen voor die aangesig van die HERE julle God. Want elkeen wat op daardie selfde dag nie verdruk word nie, hy sal onder sy volk uitgeroei word. En elke siel wat op daardie selfde dag enige werk doen, dié siel sal Ek uitroei onder sy volk uit. Julle mag geen werk doen nie: dit moet 'n ewige insetting wees vir julle geslagte in al julle woonplekke. Dit moet vir julle 'n sabbat van rus wees, en julle moet julle siele verdruk; op die negende dag van die maand in die aand, van aand tot aand, moet julle jul sabbat vier. En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Spreek met die kinders van Israel en sê: Op die vyftiende dag van hierdie sewende maand moet die huttefees sewe dae lank tot eer van die HERE wees. Op die eerste dag moet daar 'n heilige samekoms wees; geen dienswerk mag julle daarin doen nie. Sewe dae lank moet julle 'n vuuroffer aan die HERE bring; op die agtste dag moet dit vir julle 'n heilige samekoms wees; en julle moet 'n vuuroffer aan die HERE bring. Dit is 'n feestyd; en julle mag geen dienswerk daarin doen nie. Dit is die feestye van die HERE wat julle moet uitroep as heilige samekomste, om 'n vuuroffer aan die HERE te bring, 'n brandoffer en 'n spysoffer, 'n slagoffer en drankoffers, alles op sy dag. Behalwe die sabbatte van die HERE en behalwe julle gawes en behalwe al julle geloftes en behalwe al julle vrywillige offers wat julle aan die HERE gee. Ook op die vyftiende dag van die sewende maand, as julle die vrugte van die land insamel, moet julle sewe dae lank 'n fees tot eer van die HERE vier. En julle moet op die eerste dag vir julle die takke van pragtige bome, palmtakke en die takke van digte bome en wilgers van die spruit neem; en julle moet sewe dae lank vrolik wees voor die aangesig van die HERE julle God. En julle moet dit sewe dae in die jaar 'n fees tot eer van die HERE hou. Dit moet 'n ewige insetting wees in julle geslagte; in die sewende maand moet julle dit vier. Sewe dae lank moet julle in hutte woon; almal wat Israeliete gebore is, moet in hutte woon; sodat julle geslagte kan weet dat Ek die kinders van Israel in hutte laat woon het toe Ek hulle uit Egipteland uitgelei het: Ek is die HERE julle God.

LEVITIKUS 23:23-43 Die Boodskap (DB)

Die Here het verder deur Moses vir die Israeliete gesê: “Die eerste dag van die sewende maand is die feesdag van herinnering. Die trompet sal blaas en dan moet julle vir die Here bymekaarkom. Julle mag nie op daardie dag met julle gewone werk aangaan nie. Julle moet vir die Here ’n offer bring wat verbrand kan word.” Die Here het verder ook nog vir Moses gesê: “Die jaarlikse dag waarop daar vrede tussen My en julle kom, is op die tiende dag van dieselfde sewende maand. Julle moet dan weer vir My bymekaarkom. Julle moet op daardie dag niks eet nie en oor julleself nadink. Julle moet ook weer offers vir die Here bring wat op die altaar verbrand word. Op hierdie spesifieke dag moet julle ook julle werk laat staan, want dit is ’n dag van vrede waarop julle sonde vergewe word en julle vrede kry by die Here. Enige persoon wat op hierdie bepaalde dag nie ophou eet en voor God kom buig nie, hoort nie langer by my volk nie. Ek sal enigiemand wat op daardie dag aangaan met sy werk uit my volk verwyder. Dit moet ’n vaste reël vir julle en julle nageslag wees, waar julle ook al bly, dat daar op dié bepaalde dag glad nie gewerk mag word nie. Die dag van vrede moet ’n dag wees waarop julle julleself van alles losmaak en voor God kom neerbuig. Dit moet begin op die aand van die negende dag en aangaan tot die aand van die tiende dag.” Die Here het ook nog verder deur Moses vir die Israeliete gesê: “Die fees van die hutte is op die vyftiende dag van dieselfde sewende maand. Julle moet dit sewe dae lank tot eer van die Here vier. Julle moet op die eerste dag vir die Here saamkom. Julle moet op daardie dag ook al julle werk laat staan. Vir die volgende sewe dae moet julle elke dag vir die Here ’n offer bring. Die agtste dag is ’n besondere feesdag. Julle moet op daardie dag weer bymekaarkom en vir die Here nog ’n offer bring. Julle moet ook op hierdie dag julle werk laat staan.” “Dit is dan al die feesdae van die Here. Op hierdie dae moet julle byeenkomste hou. Bring vir die Here offers wat verbrand word, offers wat op die altaar gebring word, offers wat julle saam met die Here eet en ook offers van wyn soos dit vir elkeen van die feesdae bepaal is. Die dae moet gevier word bo en behalwe die gereelde rusdae van die Here op elke sewende dag. Die offers wat julle by die feeste bring, kom nog by die geskenke en die offers wat julle vir die Here belowe het en by die vrywillige offers wat julle uit julle eie vir die Here bring. Wanneer die fees van die hutte op die vyftiende van die sewende maand begin, is dit ook die tyd dat julle die vrugte van die land begin oes. Dit is dan dat julle sewe dae lank die fees van die Here vier. Die eerste en die agtste dag is rusdae. Op die eerste dag moet julle takke van vrugtebome, palmtakke, takke van bome met digte blare en takke van rivierwilgers afpluk. Dan moet julle sewe dae lank feesvier voor die Here julle God. Dit moet vir julle en julle nageslag ’n vaste gebruik wees dat julle elke jaar in die sewende maand sewe dae lank hierdie fees vir die Here vier. Elke gebore Israeliet bly dan sewe dae lank in die hutte wat julle met die takke gebou het. Dit sal julle nageslag daaraan herinner dat Ek die Israeliete in hutte laat bly het toe Ek hulle uit Egipte uit weggevat het. Ek is die Here julle God.”

LEVITIKUS 23:23-43 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die HERE het vir Moses beveel om hierdie instruksies vir die Israeliete te gee: “Op die eerste dag van die sewende maand in die vroegherfs moet julle ’n dag van rus vier. Alle werk moet op dié dag tot stilstand kom. Die volk word met die harde geblaas van ’n trompet opgeroep tot ’n heilige byeenkoms, die Fees van die Trompette. Julle mag geen werk doen op dié dag nie. Julle moet eerder vuuroffers vir die HERE bring.” Toe het die HERE vir Moses gesê: “Onthou om die Dag van Versoening te vier op die negende dag ná die Fees van die Trompette. Op dié dag moet julle julleself verootmoedig, ’n heilige byeenkoms hou en vuuroffers vir die HERE bring. Julle mag die hele dag lank nie werk nie, want dit is die Dag van Versoening wanneer daar vir julle voor die HERE julle God versoening gedoen word. Enige persoon wat homself nie op dié dag verootmoedig nie, sal uit die gemeenskap verwyder word. Ek sal ook enige persoon wat op dié dag werk, om die lewe bring. Julle mag hoegenaamd geen werk doen nie. Dit is ’n permanente reël en moet nagekom word waar julle ook al woon. Dit sal ’n Sabbat van rus vir julle wees, ’n dag waarop julle julleself moet verneder. Die tyd van rus en vas sal die aand voor die Dag van Versoening begin en dit sal duur tot die aand van daardie dag.” Die HERE het vir Moses gesê: “Die Israeliete moet op die vyfde dag ná die Dag van Versoening begin met die Huttefees. Hierdie fees vir die HERE duur sewe dae. “Dit begin met ’n heilige byeenkoms en al julle werk moet tot stilstand kom. Op elk van die sewe feesdae moet julle vuuroffers vir die HERE bring. Op die agtste dag moet julle weer bymekaarkom vir ’n heilige byeenkoms en nog ’n vuuroffer vir die HERE bring. Dit moet ’n plegtige byeenkoms wees en geen werk mag op dié dag gedoen word nie. “Dit is al die HERE se jaarlikse feeste, die feeste met heilige byeenkomste, en bring al die verskillende vuuroffers vir die HERE: brandoffers, graanoffers, offermaaltye, drankoffers, elkeen op die gepaste dag. Hierdie feeste moet gehou word bo en behalwe die Sabbatdae van die HERE. Die offers wat gebring word, word gegee naas julle persoonlike gawes en die offers wat julle maak om ’n gelofte na te kom of enige vrywillige offer wat julle vir die HERE bring. “Die Huttefees val op die vyftiende dag van die sewende maand nadat julle die opbrengs van die land geoes het. Dit duur sewe dae lank. Onthou dat die eerste en die agtste dag van die fees rusdae sal wees. Op die eerste dag moet julle sitrusvrugte neem en ook palmblare en ander takke waaraan daar blare is en ook wilgers wat by riviere groei, bymekaarmaak. Vier dan sewe dae lank met blydskap fees in die teenwoordigheid van die HERE. Julle moet hierdie fees van sewe dae vir die HERE elke jaar vier. Dit is ’n permanente reëling vir julle en moet ook deur toekomstige geslagte nagekom word. Vir sewe dae lank moet alle gebore Israeliete in hutte woon wat van hierdie takke gemaak is. Dit sal elke nuwe geslag Israeliete herinner aan hulle voorouers wat so in hutte moes leef toe Ek hulle uit Egipte gered het. Ek, die HERE, is julle God.”