En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Spreek met die kinders van Israel en sê: In die sewende maand, op die eerste van die maand, moet dit vir julle 'n rusdag wees, 'n gedenkdag deur basuingeklank, 'n heilige vierdag. Géén beroepswerk mag julle doen nie; maar julle moet aan die HERE 'n vuuroffer bring. Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: Maar op die tiende van hierdie sewende maand is dit die versoendag. 'n Heilige vierdag moet dit vir julle wees; dan moet julle jul verootmoedig en aan die HERE 'n vuuroffer bring. En op daardie selfde dag mag julle géén werk doen nie, want dit is 'n versoendag om vir julle versoening te doen voor die aangesig van die HERE julle God. Want elkeen wat hom op daardie selfde dag nie verootmoedig nie, moet uit sy volksgenote uitgeroei word. Ook elkeen wat op daardie selfde dag enige werk doen, dié siel sal Ek uitroei onder sy volk uit. Julle mag géén werk doen nie; dit is 'n ewige insetting vir julle geslagte in al julle woonplekke. 'n Dag van volkome rus moet dit vir julle wees, en julle moet jul verootmoedig. Op die negende van die maand in die aand, van aand tot aand, moet julle jul sabbat hou. En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Spreek met die kinders van Israel en sê: Op die vyftiende dag van hierdie sewende maand is dit sewe dae lank die huttefees vir die HERE. Op die eerste dag moet daar 'n heilige vierdag wees; géén beroepswerk mag julle doen nie. Sewe dae lank moet julle aan die HERE 'n vuuroffer bring. Op die agtste dag moet daar vir julle 'n heilige vierdag wees, en julle moet aan die HERE 'n vuuroffer bring. Dit is 'n feestyd; julle mag geen beroepswerk doen nie. Dit is die feestye van die HERE wat julle moet uitroep as heilige vierdae om aan die HERE 'n vuuroffer te bring: 'n brandoffer en spysoffer, 'n slagoffer en drankoffers soos vir elke dag voorgeskrywe; behalwe die sabbatte van die HERE en behalwe julle gawes en behalwe al julle geloftes en behalwe al julle vrywillige offers wat julle aan die HERE gee. Maar op die vyftiende dag van die sewende maand, as julle die opbrings van die land insamel, moet julle die fees van die HERE sewe dae lank vier; op die eerste dag is dit rusdag, en op die agtste dag is dit rusdag. En op die eerste dag moet julle vir julle vrugte neem van sierlike bome, met palmtakke en takke van digte bome en rivierwilgers, en sewe dae lank voor die aangesig van die HERE julle God vrolik wees. En julle moet dit as fees van die HERE sewe dae in die jaar vier. Dit is 'n ewige insetting vir julle geslagte. In die sewende maand moet julle dit vier. Sewe dae lank moet julle in hutte woon; almal wat in Israel gebore is, moet in hutte woon, sodat julle geslagte kan weet dat Ek die kinders van Israel in hutte laat woon het toe Ek hulle uit Egipteland uitgelei het. Ek is die HERE julle God.
Lees LEVÍTIKUS 23
Deel
Vergelyk alle weergawes: LEVÍTIKUS 23:23-43
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's