LUKAS 11:1-13

LUKAS 11:1-13 NLV

Eenmaal was Jesus êrens besig om te bid. Toe Hy klaar was, het een van sy dissipels na Hom gekom en gesê: “Here, leer ons om te bid, net soos Johannes sy dissipels geleer het.” Hy het geantwoord: “Dit is hoe julle moet bid: ‘Vader, laat u Naam geheilig word. Laat u koningsheerskappy begin. Gee ons die porsie brood wat ons vir elke dag nodig het. En vergewe ons ons sondes, net soos ons dié wat teen ons gesondig het, vergewe. En bring ons nie in die versoeking nie.’” Toe, om hulle meer van gebed te leer, het Hy hierdie voorbeeld gebruik: “Gestel jy gaan in die middel van die nag na ’n vriend se huis om drie brode te leen en jy sê vir hom: ‘’n Vriend van my het pas aangekom vir ’n besoek, en ek het niks vir hom om te eet nie,’ en hy sou uit sy slaapkamer antwoord: ‘Moet my nie pla nie. Die deur is gesluit vir die nag, en ons is almal in die bed. Ek kan jou nie nou help nie.’ Nee, Ek sê vir julle, al sou hy dit nie as vriend doen nie, as jy net lank genoeg aanhou klop, sal hy vanweë jou onbeskaamdheid opstaan en vir jou gee wat jy nodig het. “En so sê Ek vir julle, hou aan vra, en vir julle sal gegee word wat julle vra. Hou aan soek, en julle sal vind. Hou aan klop, en die deur sal oopgemaak word. Want enigeen wat vra, ontvang. Enigeen wat soek, vind. En die deur word oopgemaak vir enigeen wat klop. “Julle vaders – as julle kinders vir ’n vis vra, gee julle dan vir hulle ’n slang? Of as hulle ’n eier vra, gee julle dan vir hulle ’n skerpioen? Natuurlik nie! As julle sondige mense dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle hemelse Vader die Heilige Gees gee vir hulle wat Hom vra.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor LUKAS 11:1-13