MARKUS 11:1-19

MARKUS 11:1-19 NLV

Toe hulle naby Jerusalem kom, het Jesus en sy dissipels eers die dorpies Betfage en Betanië, wat teen die Olyfberg lê, bereik. Daarop het Hy twee van sy dissipels vooruit gestuur met die opdrag: “Gaan na die dorpie hier reg voor julle en nes julle daar ingaan, sal julle ’n jong donkie wat nog nooit gery is nie, vasgemaak sien staan. Maak dit los en bring dit hierheen. As iemand vir julle sê: ‘Wat maak julle daar?’ sê dan: ‘Die Here het die donkie nodig; Hy sal hom nou-nou terugstuur.’” Die twee dissipels het toe vertrek en hulle het ’n jong donkie gekry wat buite in die straat by die ingang van ’n huis vasgemaak staan. Terwyl hulle hom losmaak, het van die omstanders beswaar gemaak en vir hulle gesê: “Wat dink julle doen julle? Hoe kan julle die donkie sommerso losmaak?” Hulle het toe geantwoord soos Jesus hulle beveel het, en die mense het hulle toe laat begaan. Daarna bring hulle die jong donkie na Jesus toe. Hulle sit toe hulle bo-klere op die donkie en Jesus gaan sit op hom. Baie van die skare het toe hulle bo-klere op die pad voor Jesus oopgegooi, ander weer groen takkies wat hulle in die veld gekap het. Met Jesus in die middel van die optog het hulle uitgeroep: “Prys God! Geseënd is die Een wat kom in die Here se Naam! Geseënd is die koningsheerskappy van ons voorvader Dawid wat aan die kom is! Prys God in die hoogste hemel!” So het Jesus toe in Jerusalem aangekom en na die tempel toe gegaan waar Hy alles rondom bekyk het. Omdat dit alreeds laat was, het Hy toe saam met die twaalf dissipels uitgegaan na Betanië toe. Toe hulle die volgende dag uit Betanië vertrek, het Jesus honger geword. Toe Hy in die verte ’n vyeboom met blare sien, het Hy daarheen gegaan om te kyk of Hy enige vye daaraan sou kry. Maar toe Hy by die boom kom, kry Hy niks meer as blare nie omdat dit nog te vroeg in die seisoen vir vye was. Hy sê toe vir die boom: “Mag niemand ooit weer ’n vrug van jou eet nie!” Sy dissipels het gehoor wat Hy sê. Hulle kom toe in Jerusalem. Jesus het die tempelterrein binnegegaan en die handelaars en hulle kliënte begin uitjaag. Hy het die tafels van die geldwisselaars en die stalletjies van die duiweverkopers omgegooi en gekeer dat iemand ’n voorwerp oor die tempelarea ronddra. Hy onderrig hulle toe: “Staan daar nie in die Skrif geskryf nie ‘My tempel sal ’n huis van gebed wees vir al die nasies’? “Maar julle het daarvan ’n rowersnes gemaak!” Die priesterhoofde en skrifkenners het hiervan gehoor en allerhande planne begin oorweeg om Jesus uit die weg te ruim. Hulle was immers bang vir Hom en moes daarmee rekening hou dat die massa gaande was oor sy lering. Teen die aand het Jesus en sy dissipels die stad verlaat.