Toe hulle naby Jerusalem kom, by Betfage en Betanië teen die Olyfberg, stuur Jesus twee van sy dissipels met die opdrag: “Gaan na die dorpie daar voor julle, en sodra julle in die dorpie ingaan, sal julle 'n vasgemaakte donkievul vind waarop niemand nog ooit gesit het nie. Maak hom los en bring hom. As iemand julle vra, ‘Waarom doen julle dit?’ sê dan, ‘Die Here het hom nodig, en Hy sal hom dadelik hierheen terugstuur.’ ” Hulle het gegaan en 'n donkievul gevind, vasgemaak by 'n deur buite op die straat, en hom losgemaak. Van die mense wat daar gestaan het, het vir hulle gevra: “Waarom maak julle die donkievul los?” Hulle het hulle toe geantwoord soos Jesus beveel het, en die mense het hulle laat begaan. Hulle bring toe die donkievul na Jesus en gooi hulle boklere oor hom, en Jesus het op hom gaan sit. Baie mense het hulle boklere op die pad oopgesprei, en ander weer takke met blare wat hulle in die veld afgekap het. Dié wat voor geloop het en dié wat gevolg het, het uitgeroep:
“Hosanna!
Geseënd is Hy wat kom
in die Naam van die Here!
Geseënd is die koninkryk wat kom,
dié van ons vader Dawid!
Hosanna in die hoogste!”
Jesus het in Jerusalem die tempelterrein binnegegaan. En nadat Hy na alles rondom Hom gekyk het, het Hy, omdat dit reeds aand was, na Betanië vertrek met die twaalf.
Toe hulle die volgende dag van Betanië af vertrek, het Hy honger geword. Hy het van ver af 'n vyeboom met blare gesien, en gaan kyk of Hy nie miskien iets daaraan sou vind nie. Toe Hy by die boom kom, het Hy niks gevind nie, net blare, want dit was nie tyd vir vye nie. Hy sê toe vir die vyeboom: “Mag niemand tot in ewigheid ooit weer 'n vrug van jou af eet nie!” Sy dissipels het dit gehoor.
Hulle het in Jerusalem aangekom. Jesus het toe die tempelterrein binnegegaan en die mense wat op die tempelterrein aan die koop en verkoop was, begin uitjaag. Hy het ook die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers omgegooi, en niemand toegelaat om enige voorwerp oor die tempelterrein te dra nie. Hy het hulle geleer en gesê: “Staan daar nie geskryf nie,
“ ‘My huis sal 'n huis van gebed
vir al die nasies genoem word’?
Maar julle het daarvan
'n rowerspelonk gemaak.”
Die leierpriesters en die skrifkenners het dit gehoor en wou Hom om die lewe bring; want hulle was bang vir Hom, omdat die hele skare verwonderd was oor sy lering. Toe dit aand geword het, het Jesus en sy dissipels uit die stad uitgegaan.