MARKUS 13:14-37

MARKUS 13:14-37 NLV

“Die tyd kom wanneer julle die afskuwelike voorwerp wat verontheiliging veroorsaak op ’n ontoelaatbare plek sal sien staan” – my leser, gee nou spesiale aandag! – “dan moet die mense van Judea na die heuwels toe vlug. As jy op jou dakstoep sit, moet jy nie eers ondertoe gaan en in jou huis gaan om in te pak nie. As jy buite op die land is, moet jy nie eers omdraai om jou bo-kleed te gryp nie. Hoe erg sal dit nie in daardie tyd wees vir vroue wat verwag of wat nog hulle kinders laat drink nie! En bid dat dit nie vir julle nodig sal wees om in die winter te vlug nie. Dit sal ’n tyd van swaarkry wees, erger as enigiets wat gebeur het sedert God die wêreld gemaak het of wat hierna sal gebeur. Om die waarheid te sê, as God nie ingryp en daardie tyd van swaarkry verkort nie, sal niemand dit oorleef nie. Maar ter wille van sy uitverkore mense het Hy die tyd wel verkort. “As iemand in daardie tyd vir julle sê: ‘Kyk, hiér is die Messias,’ of: ‘Dáár is Hy,’ moenie dit glo nie. Daar sal baie vals messiasse en profete na vore kom. Hulle sal tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, selfs God se uitverkorenes te probeer mislei. Wees op julle hoede. Ek het julle vooraf oor alles gewaarsku. “In daardie tyd, wanneer die groot swaarkry verby is, sal die son donker word en die maan sal nie meer lig gee nie. Die sterre sal van die hemel val en die kragte wat die hemelruim saambind, sal geskud word. “En dan sal die mense vir My, die Seun van die Mens, in geweldige krag en heerlikheid op die wolke sien kom. Dan sal Ek my engele uitstuur om my uitverkorenes uit al vier windstreke bymekaar te maak – ja, vanaf die verste uithoeke van die aarde. “Leer van die vyeboom hierdie les. Wanneer sy lote reeds begin sag word en sy blare begin stoot, weet julle dat die somer naby is. Net so kan julle, wanneer julle hierdie dinge wat Ek beskryf het, sien gebeur, weet dat die einde naby is, voor die deur. Ek verseker julle, die mense wat vandag leef, sal nog nie uitgesterf het wanneer al hierdie dinge gebeur nie. Selfs al sou die hemel en die aarde ophou bestaan, sal my woorde nog vir altyd vas bly staan. “Tog ken niemand die presiese datum en tyd wanneer hierdie dinge sal gebeur nie – ook nie die engele in die hemel of selfs die Seun nie. Dit weet net die Vader. Omdat julle dan nie weet wanneer die tyd daar is nie, wees oplettend en voortdurend waaksaam. “Die koms van die Seun van die Mens kan vergelyk word met ’n man wat van sy huis vertrek om op reis te gaan. Hy vertrou sy eiendom aan sy werksmense toe. Vir elkeen het hy instruksies gegee oor die werk wat hy moes doen, maar vir die deurwagter het hy opdrag gegee om noulettend wag te hou. Waak julle dan voortdurend, want julle weet nie wanneer die baas van die huis terugkom nie – teen die aand of teen middernag of met hanekraai of vroegdag. Moenie dat hy julle aan die slaap kry as hy onverwags opdaag nie. Wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: ‘Bly voortdurend waaksaam!’”