MARKUS 13:14-37

MARKUS 13:14-37 AFR83

“En wanneer julle die ding wat 'n gruwel is vir God en wat verwoesting aanrig, sien staan op die plek waar hy nie moet wees nie – wie dit lees, moet dit goed begryp – dan moet dié wat in Judea is, die berge in vlug. Die man wat op die dakstoep sit, moet nie ingaan om iets in sy huis te gryp nie; en die man wat op die land is, moet nie omdraai om sy klere te gaan haal nie. “Dit sal bitter swaar gaan met die vrouens wat in daardie tyd swanger is en met dié wat nog klein kindertjies het. Bid dat dit nie in die winter moet gebeur nie, want in daardie tyd sal daar so 'n verdrukking wees soos daar van die begin af, vandat God die wêreld geskep het tot nou toe, nog nie was nie en ook nie sal wees nie. En as dit nie was dat die Here daardie tyd ingekort het nie, sou geen mens dit oorleef nie; maar ter wille van die uitverkorenes wat Hy uitverkies het, het Hy daardie tyd ingekort. “As iemand in daardie tyd vir julle sê: ‘Kyk, hier is die Christus!’ of: ‘Kyk, daar is Hy!’ moet julle dit nie glo nie. Daar sal vals christusse en vals profete na vore kom, en hulle sal tekens en wonderwerke doen om, as dit moontlik was, die uitverkorenes te mislei. Julle moet daarvoor op julle hoede wees. Ek het alles vir julle vooruit gesê.” “Maar in daardie tyd, ná daardie verdrukking, sal die son verduister word en die maan sal nie skyn nie; die sterre sal uit die ruimte val en die kragte van die hemelruim sal ontwrig word. “Dan sal die mense die Seun van die mens in die wolke sien kom met groot krag en majesteit. En dan sal Hy die engele uitstuur om sy uitverkorenes bymekaar te bring uit die vier windstreke, van die een kant van die aarde af tot by die ander kant.” “Leer dit van die vyeboom as voorbeeld: wanneer sy takke al sag word en hy blare kry, weet julle die somer is naby. So moet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, weet dat die tyd naby is, voor die deur. Dit verseker Ek julle: Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal dit alles gebeur. Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit.” “Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, selfs nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit. Wees op julle hoede; wees waaksaam, omdat julle nie weet wanneer die tyd daar is nie. Dit is soos 'n man wat ver weggegaan en sy huis onder beheer van sy slawe gelaat het. Hy het vir elkeen sy werk gegee en die deurwagter beveel om waaksaam te bly. Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet wanneer die huiseienaar kom nie, in die aand of middernag of met hanekraai of die môre vroeg nie, sodat wanneer hy onverwags kom, hy julle nie aan die slaap kry nie. En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Bly waaksaam!”