MARKUS 13:14-37

MARKUS 13:14-37 Afrikaans 1983 (AFR83)

“En wanneer julle die ding wat 'n gruwel is vir God en wat verwoesting aanrig, sien staan op die plek waar hy nie moet wees nie – wie dit lees, moet dit goed begryp – dan moet dié wat in Judea is, die berge in vlug. Die man wat op die dakstoep sit, moet nie ingaan om iets in sy huis te gryp nie; en die man wat op die land is, moet nie omdraai om sy klere te gaan haal nie. “Dit sal bitter swaar gaan met die vrouens wat in daardie tyd swanger is en met dié wat nog klein kindertjies het. Bid dat dit nie in die winter moet gebeur nie, want in daardie tyd sal daar so 'n verdrukking wees soos daar van die begin af, vandat God die wêreld geskep het tot nou toe, nog nie was nie en ook nie sal wees nie. En as dit nie was dat die Here daardie tyd ingekort het nie, sou geen mens dit oorleef nie; maar ter wille van die uitverkorenes wat Hy uitverkies het, het Hy daardie tyd ingekort. “As iemand in daardie tyd vir julle sê: ‘Kyk, hier is die Christus!’ of: ‘Kyk, daar is Hy!’ moet julle dit nie glo nie. Daar sal vals christusse en vals profete na vore kom, en hulle sal tekens en wonderwerke doen om, as dit moontlik was, die uitverkorenes te mislei. Julle moet daarvoor op julle hoede wees. Ek het alles vir julle vooruit gesê.” “Maar in daardie tyd, ná daardie verdrukking, sal die son verduister word en die maan sal nie skyn nie; die sterre sal uit die ruimte val en die kragte van die hemelruim sal ontwrig word. “Dan sal die mense die Seun van die mens in die wolke sien kom met groot krag en majesteit. En dan sal Hy die engele uitstuur om sy uitverkorenes bymekaar te bring uit die vier windstreke, van die een kant van die aarde af tot by die ander kant.” “Leer dit van die vyeboom as voorbeeld: wanneer sy takke al sag word en hy blare kry, weet julle die somer is naby. So moet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, weet dat die tyd naby is, voor die deur. Dit verseker Ek julle: Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal dit alles gebeur. Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit.” “Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, selfs nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit. Wees op julle hoede; wees waaksaam, omdat julle nie weet wanneer die tyd daar is nie. Dit is soos 'n man wat ver weggegaan en sy huis onder beheer van sy slawe gelaat het. Hy het vir elkeen sy werk gegee en die deurwagter beveel om waaksaam te bly. Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet wanneer die huiseienaar kom nie, in die aand of middernag of met hanekraai of die môre vroeg nie, sodat wanneer hy onverwags kom, hy julle nie aan die slaap kry nie. En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Bly waaksaam!”

MARKUS 13:14-37 Bybel vir almal (ABA)

Jesus het gesê: “Julle sal iets sien wat vir God baie kwaad maak en wat alles verwoes. Dit sal staan op 'n plek waar dit nie moet wees nie. Almal wat hierdie woorde lees, moet goed dink wat dit beteken. Wanneer dit gebeur, dan moet die mense wat in Judea is, na die berge vlug. Iemand wat dan op die dak van sy huis is, moenie wanneer hy afklim, eers in die huis ingaan om iets te gaan haal nie. En iemand wat op die koringland werk, moenie eers omdraai huis toe om sy klere te gaan haal nie. Dit sal in daardie tyd sleg gaan met vroue wat 'n baba verwag of wat kinders het wat nog aan hulle drink. Julle moet bid dat hierdie dinge nie in die winter gebeur nie. In daardie dae sal mense baie swaar kry. Tot nou toe het niemand so swaar gekry nie, van die begin af toe God alles gemaak het, tot nou toe. Niemand sal weer so swaar kry nie. In daardie tyd sal die mense swaarkry, maar die Here het besluit om daardie tyd korter te maak. As Hy dit nie besluit het nie, dan sal niemand in daardie tyd kan aanhou lewe nie. Maar die Here het besluit om daardie tyd korter te maak om die mense te help wat Hy gekies het. Wanneer iemand in daardie tyd vir julle sê: ‘Kyk, hier is die Christus!’ of ‘Kyk, daar is Hy!’ dan moet julle hom nie glo nie, want daar sal mense kom wat vals is en wat sê hulle is die Christus. Daar sal ook vals profete kom en hulle sal tekens wys en wonderwerke doen. Hulle sal probeer om die mense van God verkeerd te laat doen. Maar God het hulle gekies, daarom sal die vals profete dit nie regkry nie. “Julle moet oppas! Ek het dit alles vir julle gesê voordat dit gebeur.” “In daardie tyd, nadat die ander mense die gelowiges verdruk het, “ sal die son donker word en die maan sal nie skyn nie. Die sterre sal uit die lug val en alles in die lug sal skud. “Dan sal almal My, die Seun van die mens, sien. Ek sal op die wolke kom en Ek sal alles kan doen wat Ek wil doen. Ek sal die Groot Koning wees. Dan sal Ek my engele stuur en Ek sal al die mense bymekaarmaak wat Ek gekies het. Ek sal hulle bymekaarmaak van die ooste, die weste, die noorde en die suide, van die een kant van die aarde tot by die ander kant.” Jesus het ook gesê: “Julle moet hierdie les leer van die vyeboom: Wanneer 'n vyeboom se takke sag word en die blare begin groei, dan weet julle die somer is naby. So ook: Wanneer julle al hierdie dinge sien gebeur, dan moet julle weet die Here is naby, Hy sal gou kom. Ek sê vir julle, en dit is seker: Party mense wat nou lewe, sal nog lewe wanneer al hierdie dinge gebeur. Die hemel en die aarde sal eendag verdwyn, maar my woorde sal altyd waar wees.” “Niemand weet op watter dag en hoe laat in die dag Ek sal kom nie. Die engele in die hemel weet nie, ook nie Ek, die Seun, nie. Net die Vader weet dit. Julle moet wakker en gereed wees, want julle weet nie wanneer daardie dag sal kom nie. “Dit is soos 'n man wat 'n tyd lank weggaan van sy huis. Hy het vir sy slawe gesê hulle moet al sy goed oppas. Hy het ook vir elkeen sy werk gegee wat hy moes doen. Hy het vir die deurwagter gesê hy moet wakker wees. Julle moet ook wakker wees, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis sal terugkom nie. Julle weet nie of dit laat in die aand sal wees of in die middel van die nag of wanneer die haan begin kraai of vroeg in die oggend nie. Wanneer die eienaar skielik terugkom, dan moet julle nie slaap nie. Ek sê dit vir julle en Ek sê dit vir almal: Julle moet wakker bly!”

MARKUS 13:14-37 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN wanneer julle die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan waar dit nie behoort nie — laat hom wat lees, oplet — dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug; en wie op die dak is, moet nie afkom in die huis en ook nie ingaan om iets uit sy huis weg te neem nie; en wie op die land is, moet nie omdraai na wat agter is om sy kleed weg te neem nie. Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog, in daardie dae! En bid dat julle vlug nie in die winter mag plaasvind nie. Want daardie dae sal daar 'n verdrukking wees soos daar nie gewees het van die begin van die skepping af wat God geskape het tot nou toe, en ook nooit sal wees nie. En as die Here dié dae nie verkort het nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes wat Hy uitverkies het, het Hy dié dae verkort. En as iemand dán vir julle sê: Kyk, hier is die Christus! of: Kyk, daar! — moet dit nie glo nie. Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei. Maar julle moet op jul hoede wees. Kyk, Ek het alles vir julle vooruit gesê. MAAR in daardie dae, ná dié verdrukking, sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre van die hemel sal val, en die kragte wat in die hemele is, sal geskud word. En dan sal hulle die Seun van die mens op die wolke sien kom met groot krag en heerlikheid. En dan sal Hy sy engele uitstuur, en Hy sal sy uitverkorenes uit die vier windstreke versamel, van die einde van die aarde af tot by die einde van die hemel. En leer van die vyeboom hierdie gelykenis: Wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is. So weet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, dat dit naby is, voor die deur. Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie. Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie. Maar van daardie dag en dié uur weet niemand nie, ook nie die engele in die hemel of die Seun nie, maar net die Vader. PAS op, waak en bid, want julle weet nie wanneer die tyd daar is nie. Dit is soos 'n man wat op reis is, wat sy huis agtergelaat en sy diensknegte volmag gegee het, en vir elkeen sy werk, en aan die deurwagter bevel gegee het om te waak. Waak dan, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis kom nie: in die aand of middernag of met die haangekraai of vroeg in die môre nie; dat hy nie miskien skielik kom en julle aan die slaap vind nie. En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Waak!

MARKUS 13:14-37 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“Wanneer julle die gruwel van verwoesting sien staan waar dit nie hoort nie – laat dié wat dit lees, goed begryp – dan moet hulle wat in Judea is, na die berge vlug. Wie op die dakstoep is, moet nie ondertoe gaan of ingaan om iets uit sy huis te gaan haal nie; en wie op sy landerye is, moet nie terugdraai om sy bokleed te gaan haal nie. Wee hulle wat in daardie dae swanger is en borsvoed! Bid dat dit nie in die winter gebeur nie. In daardie dae sal daar 'n verdrukking wees soos daar nog nie was sedert die begin van die skepping wat God geskep het, tot nou toe nie, en beslis ook nie sal wees nie. As die Here daardie dae nie ingekort het nie, sou geen mens gered word nie, maar ter wille van die uitverkorenes, wat Hy uitverkies het, het Hy die dae ingekort.” “As iemand dan vir julle sê, ‘Kyk, hier is die Christus!’ of ‘Kyk daar!’ moet julle dit nie glo nie. Want vals christusse en vals profete sal na vore tree, en hulle sal tekens en wonders doen om, indien moontlik, die uitverkorenes te laat afdwaal. Maar wees julle op julle hoede. Ek het alles vir julle vooruit gesê. “Maar in daardie dae, ná daardie verdrukking, “ ‘sal die son verduister word, en die maan sal sy lig nie gee nie; en die sterre sal uit die hemel val, en die kragte in die hemele sal geskud word.’ “Dan sal hulle die •Seun van die Mens met groot krag en heerlikheid op die wolke sien kom. Hy sal dan die engele uitstuur en sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die verste hoek van die aarde tot die verste hoek van die hemel.” “ Leer hierdie les van die vyeboom: Sodra sy takke begin sag word en blare uitstoot, weet julle dat die somer naby is. So moet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, weet dat dit naby is, voor die deur. •Amen, Ek sê vir julle: Hierdie geslag sal beslis nie tot 'n einde kom voordat al hierdie dinge gebeur het nie. Die hemel en die aarde sal tot 'n einde kom, maar my woorde sal beslis nie tot 'n einde kom nie.” “ Van daardie dag en uur dra niemand kennis nie, selfs nie die engele in die hemel nie, en ook nie die •Seun nie – net die Vader. Pasop en wees waaksaam, want julle weet nie wanneer die vasgestelde tyd daar is nie. “ Dit is soos 'n man wat op reis is en sy huis agterlaat en die beheer oordra aan sy slawe, elkeen met sy eie taak, en die deurwag beveel om waaksaam te bly. Bly daarom waaksaam, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis kom nie – teen die aand, om middernag, teen hanekraai of vroegoggend nie. Moenie dat hy, wanneer hy onverwags kom, julle aan die slaap kry nie. Wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal, bly waaksaam!”

MARKUS 13:14-37 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Maar wanneer julle die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan waar dit nie behoort nie, laat hy wat lees dit verstaan, dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug. En laat hom wat op die dak is, nie in die huis afgaan en daarin nie ingaan om iets uit sy huis te neem nie. En laat hom wat in die veld is, nie omdraai om sy kleed op te neem nie. Maar wee die swangeres en die wat soog in daardie dae! En bid dat julle vlug nie in die winter moet wees nie. Want in daardie dae sal verdrukking wees soos daar nie was van die begin van die skepping af wat God geskape het tot nou toe nie, en ook nie sal wees nie. En behalwe dat die Here daardie dae verkort het, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes wat Hy uitverkies het, het Hy die dae verkort. En as iemand dan vir julle sê: Kyk, hier is Christus; of kyk, hy is daar; glo hom nie: Want valse christusse en valse profete sal opstaan en tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te verlei. Maar pas op: kyk, Ek het julle alles voorspel. Maar in daardie dae, ná daardie verdrukking, sal die son verduister word, en die maan sal sy lig nie gee nie, En die sterre van die hemel sal val, en die kragte wat in die hemel is, sal geskud word. En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom op die wolke met groot krag en heerlikheid. En dan sal Hy sy engele uitstuur en sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die uiterste van die aarde af tot aan die einde van die hemel. Leer nou 'n gelykenis van die vyeboom; Wanneer haar tak nog sag is en blare uitspruit, weet julle dat die somer naby is. So weet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, dat dit naby is, ja, voor die deure. Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie. Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nie verbygaan nie. Maar van daardie dag en daardie uur weet niemand nie, ook nie die engele wat in die hemele is nie, ook nie die Seun nie, maar die Vader. Pas op, waak en bid, want julle weet nie wanneer die tyd daar is nie. Want die Seun van die mens is soos 'n man wat ver reis, wat sy huis verlaat het en aan sy diensknegte mag gegee het en aan elkeen sy werk, en die poortwagter beveel het om te waak. Waak dan, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis kom nie, in die aand of middernag of met die hanekraai of in die môre. Om nie skielik te kom vind hy jou aan die slaap nie. En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Waak.

MARKUS 13:14-37 Die Boodskap (DB)

“Julle moet mooi begryp wat Ek vir julle wil sê. As julle daardie veragtelike ‘ding’ wat alles net wil stukkend maak en vernietig in die tempel sien staan waar dit nie eens behoort te kom nie, moet al die mense in Judea sorg dat hulle so gou moontlik in die berge gaan wegkruip. As jy op jou stoep sit, moenie eers in die huis ingaan om enigiets te gaan haal nie. As jy op die lande werk, moenie huis toe gaan om jou eers beter te gaan aantrek nie. Jy moet net maak dat jy wegkom. Ek kry veral vroue jammer wat in daardie stadium babatjies het of verwag. Vra God mooi dat hierdie dinge nie in die koue winter moet gebeur nie. Dit gaan verskriklik wees. Mense gaan ongelooflik swaarkry. Nog nooit in die geskiedenis van hierdie wêreld was daar so iets nie en so iets sal ook nooit weer gebeur nie. As God nie besluit het om die einde gouer te laat aanbreek nie, sou niemand dit gemaak het nie. Maar gelukkig het God die verskriklike tyd kortgeknip ter wille van daardie mense wat Syne is omdat Hy hulle vir Hom gekies het. “As iemand julle in daardie stadium wil wysmaak dat dié of daardie man die verlosser is wat sou kom, moet julle julle glad nie daaraan steur nie. Lag hom uit. Daar gaan mense kom wat sal sê dat hulle spesiale boodskappers van God is of dat hulle die redder is wat God gee, maar alles sal net ’n klomp leuens wees. En dit gaan nie net by praatjies bly nie. O nee, glo My, hulle gaan sulke wonderlike dinge doen dat selfs die mense wat God vir Hom gekies het, sal begin wonder of hulle nie dalk die waarheid praat nie. Hulle sal dit oorweeg om die regte pad te los en agter daardie persone aan te gaan - as so iets hoegenaamd denkbaar is. Julle moet asseblief baie daarvoor oppas. Onthou, Ek het julle betyds gewaarsku. “Julle sal al hierdie verskriklike dinge deurmaak: die son sal skielik dowwer word en nie meer mooi skyn nie, en die maan sal glad nie meer opkom nie; die sterre sal uit die hemel val, en die natuurkragte gaan heeltemal deurmekaargekrap word. “Dan sal die groot oomblik aanbreek. Voor die oë van die mense sal die Seun van die mens op die wolke verskyn. Almal sal sy geweldige krag en grootheid sien. Hy sal die mense wat Hy gekies het van elke hoekie van die aarde af bymekaar gaan maak. Daarmee sal sy engele Hom help. “Daar is nog iets anders wat Ek wil hê julle moet weet. Ek gaan dit vir julle verduidelik met die voorbeeld van ’n vyeboom. As ’n vyeboom nuwe, sagte takkies maak en die blaartjies begin uitkom, weet julle dat die somer op pad is. Dieselfde geld vir julle vraag hoe ’n mens kan weet of die einde naby is. As julle hierdie dinge sien gebeur, moet dit vir julle soos die vyetakkies en blare wees: dit moet vir julle sê dat die einde om die draai is. Sowaar, dit gaan nie lank wees nie. Die mense wat ons ouderdom is, sal nog leef wanneer dit gebeur. Daar sal ’n tyd kom wanneer die hemel en die aarde nie meer daar is nie. Maar daar sal nooit ’n tyd kom wanneer my woorde nie meer waar sal wees nie.” “Net God weet die presiese datum en tyd wanneer die einde gaan kom. Die engele weet dit nie en ook nie sy Seun nie, net Hy, want Hy is die Een wat sal besluit wanneer dit sal wees. Wees daarom wakker en op julle hoede sodat julle nie onkant gevang word nie. Julle weet mos nie wanneer die einde gaan kom nie. “Laat Ek dit vir julle verduidelik met ’n storie. Dit is soos ’n man wat vir ’n lang ruk van sy huis af weggaan. Hy reël alles mooi. Sy werkers moet na sy huis kyk en daarom gee hy vir elke werker iets om te doen. Vir een sê hy om by die deur wag te hou. Hou goed wag, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis skielik daar instap nie. Dit kan enige tyd wees: in die middel van die nag, vroeg in die oggend, as die son sak of in die aand, ja, enige tyd. As hy skielik die deur oopstoot, moet hy jou nie lekker opgekrul en vas aan die slaap kry nie. “Laat Ek dit vir elkeen weer sê en mooi beklemtoon: julle moet wakker en op die uitkyk wees, want Ek kom terug.”

MARKUS 13:14-37 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“Die tyd kom wanneer julle die afskuwelike voorwerp wat verontheiliging veroorsaak op ’n ontoelaatbare plek sal sien staan” – my leser, gee nou spesiale aandag! – “dan moet die mense van Judea na die heuwels toe vlug. As jy op jou dakstoep sit, moet jy nie eers ondertoe gaan en in jou huis gaan om in te pak nie. As jy buite op die land is, moet jy nie eers omdraai om jou bo-kleed te gryp nie. Hoe erg sal dit nie in daardie tyd wees vir vroue wat verwag of wat nog hulle kinders laat drink nie! En bid dat dit nie vir julle nodig sal wees om in die winter te vlug nie. Dit sal ’n tyd van swaarkry wees, erger as enigiets wat gebeur het sedert God die wêreld gemaak het of wat hierna sal gebeur. Om die waarheid te sê, as God nie ingryp en daardie tyd van swaarkry verkort nie, sal niemand dit oorleef nie. Maar ter wille van sy uitverkore mense het Hy die tyd wel verkort. “As iemand in daardie tyd vir julle sê: ‘Kyk, hiér is die Messias,’ of: ‘Dáár is Hy,’ moenie dit glo nie. Daar sal baie vals messiasse en profete na vore kom. Hulle sal tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, selfs God se uitverkorenes te probeer mislei. Wees op julle hoede. Ek het julle vooraf oor alles gewaarsku. “In daardie tyd, wanneer die groot swaarkry verby is, sal die son donker word en die maan sal nie meer lig gee nie. Die sterre sal van die hemel val en die kragte wat die hemelruim saambind, sal geskud word. “En dan sal die mense vir My, die Seun van die Mens, in geweldige krag en heerlikheid op die wolke sien kom. Dan sal Ek my engele uitstuur om my uitverkorenes uit al vier windstreke bymekaar te maak – ja, vanaf die verste uithoeke van die aarde. “Leer van die vyeboom hierdie les. Wanneer sy lote reeds begin sag word en sy blare begin stoot, weet julle dat die somer naby is. Net so kan julle, wanneer julle hierdie dinge wat Ek beskryf het, sien gebeur, weet dat die einde naby is, voor die deur. Ek verseker julle, die mense wat vandag leef, sal nog nie uitgesterf het wanneer al hierdie dinge gebeur nie. Selfs al sou die hemel en die aarde ophou bestaan, sal my woorde nog vir altyd vas bly staan. “Tog ken niemand die presiese datum en tyd wanneer hierdie dinge sal gebeur nie – ook nie die engele in die hemel of selfs die Seun nie. Dit weet net die Vader. Omdat julle dan nie weet wanneer die tyd daar is nie, wees oplettend en voortdurend waaksaam. “Die koms van die Seun van die Mens kan vergelyk word met ’n man wat van sy huis vertrek om op reis te gaan. Hy vertrou sy eiendom aan sy werksmense toe. Vir elkeen het hy instruksies gegee oor die werk wat hy moes doen, maar vir die deurwagter het hy opdrag gegee om noulettend wag te hou. Waak julle dan voortdurend, want julle weet nie wanneer die baas van die huis terugkom nie – teen die aand of teen middernag of met hanekraai of vroegdag. Moenie dat hy julle aan die slaap kry as hy onverwags opdaag nie. Wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: ‘Bly voortdurend waaksaam!’”