Markus 13:14-37

Markus 13:14-37 CAB23

Maar wanneer julle die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan waar dit nie behoort nie, laat hy wat lees dit verstaan, dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug. En laat hom wat op die dak is, nie in die huis afgaan en daarin nie ingaan om iets uit sy huis te neem nie. En laat hom wat in die veld is, nie omdraai om sy kleed op te neem nie. Maar wee die swangeres en die wat soog in daardie dae! En bid dat julle vlug nie in die winter moet wees nie. Want in daardie dae sal verdrukking wees soos daar nie was van die begin van die skepping af wat God geskape het tot nou toe nie, en ook nie sal wees nie. En behalwe dat die Here daardie dae verkort het, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes wat Hy uitverkies het, het Hy die dae verkort. En as iemand dan vir julle sê: Kyk, hier is Christus; of kyk, hy is daar; glo hom nie: Want valse christusse en valse profete sal opstaan en tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te verlei. Maar pas op: kyk, Ek het julle alles voorspel. Maar in daardie dae, ná daardie verdrukking, sal die son verduister word, en die maan sal sy lig nie gee nie, En die sterre van die hemel sal val, en die kragte wat in die hemel is, sal geskud word. En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom op die wolke met groot krag en heerlikheid. En dan sal Hy sy engele uitstuur en sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die uiterste van die aarde af tot aan die einde van die hemel. Leer nou 'n gelykenis van die vyeboom; Wanneer haar tak nog sag is en blare uitspruit, weet julle dat die somer naby is. So weet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, dat dit naby is, ja, voor die deure. Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie. Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nie verbygaan nie. Maar van daardie dag en daardie uur weet niemand nie, ook nie die engele wat in die hemele is nie, ook nie die Seun nie, maar die Vader. Pas op, waak en bid, want julle weet nie wanneer die tyd daar is nie. Want die Seun van die mens is soos 'n man wat ver reis, wat sy huis verlaat het en aan sy diensknegte mag gegee het en aan elkeen sy werk, en die poortwagter beveel het om te waak. Waak dan, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis kom nie, in die aand of middernag of met die hanekraai of in die môre. Om nie skielik te kom vind hy jou aan die slaap nie. En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Waak.