Jesus het uit daardie omgewing vertrek en met sy dissipels in Nasaret aangekom waar Hy grootgeword het. Op die Sabbat het Hy in die sinagoge met onderrig begin. Baie van sy toehoorders was heeltemal uit die veld geslaan. Hulle het gevra: “Waarvandaan kry hy al hierdie dinge – hierdie besondere wysheid en die buitengewone krag om sulke wonders te verrig? Hy is tog maar net ’n blote timmerman, die seun van Maria en die broer van Jakobus, Joses, Judas en Simon! En sy susters woon dan hier onder ons!” Hulle het ernstig aanstoot geneem aan sy optrede. Toe sê Jesus vir hulle: “’n Profeet word oral geëer behalwe in sy tuisdorp en deur sy familie en sy huisgesin.” Vanweë hulle vyandigheid kon Hy daar in Nasaret geen besondere wonder verrig nie, behalwe dat Hy sy hande op ’n paar siekes gesit en hulle gesond gemaak het. Hy was absoluut verstom oor hulle ongeloof. Jesus het toe in die omliggende dorpies rondgegaan en die mense onderrig. Hy het sy twaalf dissipels nadergeroep en hulle twee-twee uitgestuur. Hy het ook aan hulle die gesag gegee om bose geeste uit te dryf. Verder het Hy aan hulle opdrag gegee om niks behalwe ’n kierie saam te neem nie – geen kos, geen rugsak, geen geld nie. Hulle kon wel sandale aantrek, maar moes klaarkom met die klere aan hulle lyf. Verder het Hy vir hulle gesê: “Wanneer julle in ’n bepaalde dorp in ’n huis ontvang word, bly in daardie huis totdat julle weer daarvandaan vertrek. Maar as ’n plek julle nie wil ontvang of na julle wil luister nie, skud sy stof van julle voete af wanneer julle weggaan. Dit sal dien as teken dat julle daardie plek aan sy lot oorlaat.” Hulle het gaan verkondig dat die mense tot inkeer moet kom. Hulle het ook baie bose geeste uitgedryf en baie siekes met olie gesalf en gesond gemaak.
Lees MARKUS 6
Luister na MARKUS 6
Deel
Vergelyk alle weergawes: MARKUS 6:1-13
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's