En Hy het van daar af vertrek en na sy tuisdorp gegaan. Sy dissipels het Hom gevolg. Toe die Sabbat aanbreek, het Hy die mense in die •sinagoge begin leer, en baie van hulle wat Hom gehoor het, was verwonderd. Hulle het gesê: “Waar kom hy aan hierdie dinge, en watter wysheid is aan hom gegee , dat sulke kragtige dade deur sy hande plaasvind? Is hy dan nie die skrynwerker, die seun van Maria en die broer van Jakobus, Joses, Judas en Simon nie? Woon sy susters dan nie hier onder ons nie?” Hulle het aan Hom aanstoot geneem. Jesus het toe vir hulle gesê: “'n Profeet is nie sonder eer nie, behalwe in sy tuisdorp , en binne sy familiekring en in sy huis.” En Hy kon nie 'n enkele kragtige daad daar verrig nie, behalwe dat Hy 'n paar siekes gesond gemaak het deur hulle die hande op te lê. Hy was verbaas oor hulle ongeloof. Hy het by die dorpies in die omgewing rondgegaan en die mense onderrig. Hy het die twaalf nader geroep en begin om hulle twee-twee uit te stuur. Hy het vir hulle gesag oor die •onrein geeste gegee. Ook het Hy hulle beveel om niks vir die pad saam te neem nie, behalwe net 'n wandelstok – nie brood of 'n reissak of geld in die gordel nie. Hulle kon wel sandale dra, maar, het Hy gesê: “Julle moenie twee kledingstukke aantrek nie.” Hy het ook vir hulle gesê: “Waar julle in 'n huis ingaan, bly daar oor totdat julle weer daarvandaan vertrek. Maar as 'n plek julle nie verwelkom nie of die mense nie na julle luister nie, gaan daarvandaan weg en skud die stof van julle voete af as getuienis teen hulle. ” Hulle het toe uitgegaan en gepreek dat die mense hulle moet bekeer. Hulle het baie demone uitgedryf, en baie siekes met olyfolie gesalf en gesond gemaak.
Lees Markus 6
Deel
Vergelyk alle weergawes: Markus 6:1-13
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's