MARKUS 7:24-30

MARKUS 7:24-30 NLV

Jesus het van Galilea noordwaarts vertrek na die omgewing van Tirus. Hy het Hom in ’n huis teruggetrek en wou dit stil hou, maar dit was onmoontlik. Sommer gou het ’n vrou in wie se dogtertjie ’n onrein gees was, van Hom gehoor en voor sy voete kom neerval. Sy was ’n Griekse vrou wat van Siro-Fenisië afkomstig was. Sy het Jesus aanhou smeek om die bose gees uit haar dogter te dryf. Jesus sê toe vir haar: “Ek moet eers my eie mense, die Jode, help. Dis glad nie mooi om die kinders se kos weg te vat en dit vir die huishondjies te gooi nie.” Waarop sy toe antwoord: “Here, die hondjies eet tog darem onder die tafel van die kinders se krummels.” “Uitstekend!” het Jesus vir haar gesê. “Omdat jy My so goed geantwoord het, kan jy maar huis toe gaan. Die bose gees het jou dogter verlaat.” Tuisgekom kry sy toe haar kind rustig op die bed lê, heeltemal gesond.