Markus 7:24-30

Markus 7:24-30 AFR20

Hy het daarvandaan weggegaan en na die gebied van Tirus vertrek. Hy het 'n huis binnegegaan en wou nie hê dat iemand dit moes weet nie; maar Hy kon nie onopgemerk bly nie. En gou het daar 'n vrou wie se dogtertjie 'n onrein gees gehad het, van Hom gehoor, en voor sy voete kom neerval. Dit was 'n Griekse vrou, van Siro-Fenisiese afkoms. Sy het Hom gevra om die demoon uit haar dogter uit te dryf. Hy het vir haar gesê: “Laat die kinders eers versadig word, want dit is nie mooi om die kinders se brood te neem en vir die hondjies te gooi nie.” Sy antwoord Hom toe: “Here, die hondjies onder die tafel eet darem van die kindertjies se krummels.” Daarop sê Hy vir haar: “Op grond van wat jy gesê het, gaan huis toe! Die demoon het reeds uit jou dogter uitgegaan.” En toe sy by haar huis kom, kry sy die kindjie op die bed lê, en die demoon was reeds uit haar uit.