NEHEMIA 11:1-36

NEHEMIA 11:1-36 NLV

In hierdie stadium het die leiers van die mense in Jerusalem gebly. ’n Tiende van die mense uit ander dorpe van Juda en Benjamin is deur die lot aangewys om ook daar te gaan bly. Die res van die mense moes bly waar hulle is. Sommige mense het vrywillig in Jerusalem gaan woon. Die mense het hulle net die beste toegewens. Hier volg nou ’n lys van die name van die leiers van die provinsies wat na Jerusalem toe gekom het. Die meeste van die mense, priesters, Leviete, tempelwerkers en van die nageslag van Salomo se dienaars, het in hulle eie huise in die verskillende dorpe van Juda bly woon. Sommige van die mense van Juda en Benjamin het egter in Jerusalem hervestig: Uit die Judastam was daar: Ataja seun van Ussia, seun van Sagaria, seun van Amarja, seun van Sefatja, seun van Mahalalel, uit die familie van Peres. Maäseja seun van Baruk, seun van Kol-Gose, seun van Gasaja, seun van Adaja, seun van Jojarib, seun van Sagaria, seun van Siloni. Die nakomelinge van Peres wat in Jerusalem gewoon het, was altesaam 468, almal dapper mans. Nou volg die Benjaminiete: Sallu seun van Mesullam, seun van Joëd, seun van Pedaja, seun van Kolaja, seun van Maäseja, seun van Itiël, seun van Jesaja, en dan ook Gabbai en Sallai. Die Benjaminiete was 928. Joël seun van Sikri het die bevel oor hulle gevoer, en Juda seun van Senua was tweede in bevel oor die stad. Priesters: Jedaja seun van Jojarib, en Jakin; Seraja seun van Gilkija, seun van Mesullam, seun van Sadok, seun van Merajot, seun van Agitub, was hoof van die tempel. Hulle ampsgenote, wat die dienswerk in die tempel gedoen het, was 822. Verder was daar Adaja seun van Jerogam, seun van Pelalja, seun van Amsi, seun van Sagaria, seun van Pasgur, seun van Malkija, met sy ampsgenote, 240 familiehoofde; en Amassai seun van Asarel, seun van Agsai, seun van Mesillemot, seun van Immer, met sy ampsgenote, 128 dapper manne. Die bevelvoerder oor hulle was Sabdiël seun van Gedolim. Leviete: Semaja seun van Gassub, seun van Asrikam, seun van Gasabja, seun van Bunni; Sabbetai en Josabad was hoofde van die Leviete. Hulle moes toesig hou oor die werk buite die tempel. Mattanja seun van Miga, seun van Sabdi, seun van Asaf, wat in beheer van die sang was, moes die lofprysing by die gebed behartig. Verder was daar Bakbukja, tweede in rang onder sy ampsgenote, en Abda seun van Sammua, seun van Galal, seun van Jedutun. Al die Leviete in die heilige stad was 284. Die poortwagte was: Akkub, Talmon en hulle ampsgenote wat by die poorte waggehou het. Hulle was 172. Die res van Israel en van die priesters en Leviete het oral in die dorpe van Juda gewoon, elkeen op hulle familiegrond. Die tempelslawe het op die Ofel gewoon. Siga en Gispa was hulle leiers. Ussi seun van Bani het toesig gehou oor die Leviete in Jerusalem. Hy was die seun van Gasabja, seun van Mattanja, seun van Miga, uit Asaf se familie wat as sangers by die tempel diens gedoen het. Daar het ’n koninklike opdrag bestaan wat aan die sangers voorgeskryf het hoe hulle daaglikse aktiwiteite moes geskied. Petagja seun van Mesesabel, uit die nageslag van Serag seun van Juda, was die verteenwoordiger van die koning vir alle sake van die volk. Sommige van die Judeërs in die landelike gebiede met hulle velde het in Kirjat-Arba en in die dorpies daar rondom gewoon. Dit was in Dibon en die omringende gebiede, in Kabseël en die dorpies daar naby, in Jesua, in Molada, in Bet-Pelet, in Gasar-Sual, in Berseba en die omringende dorpies. Verder ook in Siklag, in Mekona en omgewing, in En-Rimmon, in Sora, in Jarmut, in Sanoag en Adullam en die dorpies naby hulle, in Lakis en die omringende oop velde en in Aseka en die dorpies in die omgewing. Hulle was dus gevestig oor die gebied van Berseba af tot by Hinnomdal. Die Benjaminiete het in Geba, Mikmas, Aja, Bet-El en nabygeleë dorpies gewoon. Verder ook in Anatot, Nob, Ananeja, Gasor, Rama, Gittajim, Gadid, Seboïm, Neballat, Lod, Ono en Vakmansdal. Sommige groepe Leviete uit Juda was toegewys om in Benjamin te gaan woon.