In hierdie stadium was dit nog net die leiers van die volk wat in die heilige stad, Jerusalem, gebly het. ’n Tiende van die mense van die omringende dorpe is deur die lot aangewys om ook daar te kom bly. Die res van die mense het in die dorpe aangebly om daar met die boerderywerksaamhede voort te gaan. Daar was mense wat bereid was om uit hulle eie in Jerusalem te gaan bly; hiervoor het die ander mense baie groot waardering gehad.
Hier volg nou ’n lys van die name van die hoofde van provinsies wat in Jerusalem gaan woon het. Die meeste van die mense, die priesters, die Leviete, die tempelwerkers en die nageslag van Salomo se amptenare het in hulle eie huise op hulle eie grond in hulle eie stad bly woon. Sommige van die mense uit Juda en Benjamin het hulle in Jerusalem gaan hervestig.
Uit die stam van Juda was dit: Ataja die seun van Ussia, die seun van Sagaria, die seun van Amarja, die seun van Sefatja, die seun van Mahalalel, almal uit die nageslag van Peres; Maäseja die seun van Baruk, die seun van Kol-Gose, die seun van Gasaja, die seun van Adaja, die seun van Jojarib, die seun van Sagaria, die seun van Siloni. Die nakomelinge van Peres wat in Jerusalem gewoon het, was altesaam 468, almal uitstaande mense.
Uit die stam van Benjamin was dit: Sallu die seun van Mesullam, die seun van Joëd, die seun van Pedaja, die seun van Kolaja, die seun van Maäseja, die seun van Itiël, die seun van Jesaja, asook Gabbai en Sallai. Daar het altesaam 928 Benjaminiete in Jerusalem gebly. Joël die seun van Sikri was hulle leier, en Juda die seun van Senua was tweede in bevel oor die stad.
Die priesters was: Jedaja die seun van Jojarib, en Jakin; Seraja die seun van Gilkija, die seun van Mesullam, die seun van Sadok, die seun van Merajot, die seun van Agitub, was die hoof van die tempel. Hulle ampsgenote, wat die dienswerk in die tempel gedoen het, was 822.
Verder was daar Adaja die seun van Jerogam, die seun van Pelalja, die seun van Amsi, die seun van Sagaria, die seun van Pasgur, die seun van Malkija. Altesaam 242 lede van hierdie familie was leiers. Daar was ook Amassai die seun van Asarel, die seun van Agsai, die seun van Mesillemot, die seun van Immer. Daar was 128 lede van hierdie familie wat uitstaande soldate was. Hulle bevelvoerder was Sabdiël die seun van Gedolim.
Die Leviete was: Semaja die seun van Gassub, die seun van Asrikam, die seun van Gasabja, die seun van Bunni; Sabbetai en Josabad was prominente figure onder die Leviete en hulle was verantwoordelik vir die werk buite die tempel; Mattanja die seun van Miga, die kleinseun van Sabdi, ’n afstammeling van Asaf, was die koorleier. Hy het hulle in die gebed van danksegging gelei. Bakbukja was Mattanja se assistent. Daar was ook Abda die seun van Sammua, die seun van Galal, die seun van Jedutun. Daar was altesaam 284 Leviete in Jerusalem, die stad wat aan God gewy is.
Die hekwagte: Akkub, Talmon en hulle assistente wat by die hekke waggehou het, was altesaam 172.
Die res van Israel en die priesters en Leviete het oral in die stede van Juda op hulle familiegrond gebly. Die tempelwerkers het op die Ofelheuwel gebly. Hulle het onder die toesig van Siga en Gispa gewerk.
Die leier van die Leviete in Jerusalem was Ussi die seun van Bani, die seun van Gasabja, die seun van Mattanja, die seun van Miga, uit die nageslag van Asaf, wie se familie verantwoordelik was vir die musiek tydens die tempeldienste. Daar was sekere koninklike reëls wat bepaal het wat hulle daagliks moes doen.
Petagja die seun van Mesesabel, uit die nageslag van Serag die seun van Juda, het die volk in die Persiese hof verteenwoordig.
Baie mense het in dorpe naby hulle plase gebly. Dié uit die stam van Juda het in Kirjat-Arba, Dimona en in Kabseël en in van die ander kleiner nedersettings in hulle omgewing gebly. Ook in Jesua, Molada en Bet-Pelet, in Gasar-Sual, en ook in Berseba en die nedersettings in daardie omgewing. Ook in Siklag en in Mekona met hulle omringende dorpies en in En-Rimmon, Sora en Jarmut. Hulle het ook in Sanoag en Adullam en die nedersettings by hulle gebly. Hulle het in Lakis en op die plase daar naby gebly, asook in Aseka met sy omringende dorpies. Hulle het dus in die gebied gebly wat strek van Berseba in die suide tot by die vallei van Hinnom in die noorde.
Die stam van Benjamin het in Geba, Mikmas, Aja en Bet-El met sy nedersettings gebly. Verder ook in Anatot, Nob, Ananeja, Gasor, Rama, Gittajim, Gadid, Seboïm, Neballat, Lod, Ono en Vakmansdal. Sommige van die Leviete in Juda is gestuur om by die stam van Benjamin te gaan bly.