Mense kan planne maak,
maar die finale besluit
kom van die HERE af.
Alles wat hy doen,
kan vir die mens reg lyk.
Die HERE weet egter
waarom hy dit alles doen.
Alles wat jy doen,
moet jy opdra aan die HERE,
dan sal jou planne slaag.
Die HERE het alles gemaak
vir ’n bepaalde doel,
ook die goddelose
vir die dag van straf.
Die HERE verafsku
elke verwaande mens.
Maar wees verseker,
hulle sal nie ongestraf bly nie.
Liefde en lojaliteit
bring versoening
vir oortredings.
Kwaad word vermy
wanneer daar respek is
vir die HERE.
As die HERE gelukkig is
met die manier
waarop iemand lewe,
sal Hy selfs sy vyande
in vrede met hom laat lewe.
Dis beter om arm te wees
en regverdig,
as om ryk en oneerlik te wees.
’n Mens beplan sy koers,
maar die HERE bepaal
sy bestemming.
As die koning praat,
is dit met Goddelike gesag.
Sy uitsprake mag nooit
onregverdig wees nie.
Die HERE vereis eerlikheid
en billikheid in die handel.
Hy bepaal die maatstawwe daarvoor.
Die koning verafsku misdade.
Sy regering berus
op regverdigheid.
Die koning is tevrede
wanneer mense eerlik praat.
Hy stel dit op prys
as mense die waarheid praat.
Die koning se woede
is ’n draer van die dood.
’n Wyse mens probeer
sy woede afkoel.
As die koning glimlag,
is daar lewe.
Sy goedgesindheid is soos wolke
wat lentereëns bring.
Om wysheid te bekom,
is beter as goud,
en insig is beter as silwer.
Die regverdige se pad
stuur weg van die kwaad.
Iemand wat daardie pad volg,
beveilig sy lewe.
Hoogmoed lei tot ondergang.
Hooghartigheid
kom net voor die val.
Eerder nederig lewe
saam met armes
as om buit te deel
met hoogmoediges.
Hy wat na onderrig luister,
sal voorspoed geniet.
Dit gaan goed met elkeen
wat op die HERE vertrou.
Iemand wat wys is,
word ’n verstandige genoem.
As hy welsprekend is,
kan hy ook ander leer.
Vir iemand met insig
is dit die bron van sy lewe.
Om dwase tereg te wys
is dwaasheid.
’n Mens wat wys is,
sê verstandige dinge.
Hy kan ander mense onderrig.
Mooi woorde is soos heuning;
dit is goed vir die gees
en bevorderlik vir die lewe.
Dit kan lyk
of ’n mens reg lewe.
Agterna gesien
is dit die pad na die dood.
’n Werker se honger
motiveer hom om te werk,
sy behoefte aan kos dryf hom.
’n Nikswerd mens
stook kwaad,
wat hy sê,
is soos ’n vernietigende vuur.
Iemand wat leuens verkoop,
sit rusie aan die gang.
Iemand wat skinder,
bring verwydering
tussen vriende.
Iemand wat geweld voorstaan,
mislei sy naaste
en lei hom op ’n verkeerde pad.
Iemand wat met sy oog knik,
is besig
om slinkse planne uit te dink.
Hy pers sy lippe saam,
so vasberade is hy
oor sy boosheid.
Grys hare
is soos ’n pragtige kroon,
’n mens kry dit by persone
wat reg lewe.
Dis beter om geduldig te wees
as dapper.
Selfbeheersing is beter
as om ’n stad in te neem.
Mense kan lootjies trek,
maar die HERE sal bepaal
wat die uitkoms sal wees.