PSALMS 119:129-176

PSALMS 119:129-176 NLV

U voorwaardes is wonderlik; daarom gehoorsaam ek hulle. Begrip van u woord bring lig; dit gee insig aan die eenvoudige. My mond is oop en ek snak na asem, want ek verlang na u gebooie. Kyk tog na my in u genade, soos U doen vir almal wat u Naam liefhet. Rig my treë deur u woord sodat boosheid my nie oorval nie. Red my van menslike verdrukking sodat ek u bevele kan gehoorsaam. Laat u guns oor u dienaar skyn; leer my al u voorskrifte. Trane vloei in strome oor my wange omdat mense u gebooie minag. HERE, U is regverdig, en u oordele is reg. U vereistes is regverdig; dit is baie betroubaar. My ontsteltenis oorweldig my, want my vyande verontagsaam u woorde. U beloftes is deeglik beproef; u dienaar het dit lief. Al is ek gering en verag, ek misken nie u bevele nie. U regverdigheid duur vir altyd, en u gebooie is betroubaar. Angs en benoudheid sak op my toe, maar u gebooie is my vreugde. U vereistes is altyd regverdig; gee my insig sodat ek kan lewe. Ek roep tot U met my hele hart; antwoord my tog, HERE! U voorskrifte sal ek gehoorsaam. Ek roep na U: Red my, en ek sal u vereistes gehoorsaam. Voor dagbreek roep ek om hulp, en plaas my hoop op u woord. Die hele nag lê ek wakker om u woord te oordink. Luister na my roepstem, HERE, op grond van u troue liefde. Laat my lewe op grond van u regverdigheid. Sluwe vervolgers kom al nader, maar lewe ver van u gebooie af. Maar U is naby, HERE, en al u gebooie is betroubaar. Van lankal af het ek geweet dat u eise nooit verander nie. Kyk tog na my lyding en red my; u gebooie het ek tog nie vergeet nie. Behartig tog my saak en bevry my! Laat ek lewe soos U beloof het. Bose mense is ver van redding, want hulle steur hulle nie aan u voorskrifte nie. Groot is u barmhartigheid, HERE! Hou my lewe in stand volgens u bepalings. My vervolgers en vyande is talryk; tog wyk ek nie af van u eise nie. Ek kyk met afkeer na die ontroues, want hulle misken u woord. Sien raak dat ek u bevele liefhet, HERE. Laat my lewe op grond van u liefde. Alles wat U sê, is betroubaar; u regverdige bepalings is vir altyd. Heersers vervolg my sonder oorsaak, maar al wat ek vrees, is u woord. Ek verheug my in u woord soos iemand wat ’n groot skat ontdek. Alle valsheid haat en verafsku ek, maar u gebooie het ek lief. Ek loof U sewe keer per dag omdat al u bepalings regverdig is. Hulle wat u gebooie liefhet, het groot sekuriteit en niks sal hulle laat struikel nie. Ek sien uit na u redding, HERE; daarom voer ek u gebooie uit. Ek het u eise gehoorsaam, en het dit baie lief. Ek gehoorsaam u bevele en eise, want U weet van alles wat ek doen. HERE, luister na my geroep; gee vir my insig soos U beloof het. Luister tog na my smeekgebed; red my soos U beloof het. Laat my lippe uitbreek met lof, want U het my u voorskrifte geleer. Laat my tong sing oor u woord, want u bepalings is regverdig. Mag U gereed wees om my te help, want u bevele het ek eerste gestel. HERE, ek het verlang na u redding, en u gebooie is my vreugde. Laat my lewe sodat ek U kan prys, en mag u bepalings my ondersteun. Soos ’n verlore skaap het ek gedwaal; kom en soek my tog, want u gebooie het ek nie vergeet nie.