PSALMS 119:129-176

PSALMS 119:129-176 AFR83

U verordeninge is wonderlik, daarom kom ek hulle na. Wanneer u woord vir mense oopgaan, bring dit lig; dit gee insig aan dié wat nog onervare is. Met my hele wese smag ek na u gebooie, verlang ek daarna. Sien my in genade aan soos U altyd doen vir dié wat u Naam liefhet. Laat u woord my op die regte pad hou; moet tog nie dat enige kwaad die oorhand oor my kry nie. Bevry my van veronregting deur mense. Ek wil u bevele gehoorsaam. Verskyn tog tot my redding, leer my u voorskrifte. My trane vloei sonder ophou omdat die mense u wet nie onderhou nie. U is regverdig, Here, wat U bepaal, is reg. In groot regverdigheid en trou het U u verordeninge uitgevaardig. Ontsteltenis verteer my omdat my teëstanders u woord verontagsaam. U woord is baie suiwer, ek het dit lief. Al is ek gering en verag, u bevele verontagsaam ek nie. U is altyd getrou en regverdig, u wet staan altyd vas. Al oorval angs en benoudheid my, in u gebooie bly ek my verlustig. U verordeninge is altyd regverdig; gee my insig daarin, dat ek kan lewe. Ek roep na U met my hele hart, verhoor tog my gebed, Here, ek wil u voorskrifte nakom. Ek roep na U, red my, ek wil u verordeninge gehoorsaam. In die oggendskemer al roep ek om hulp en stel ek my vertroue in u woord. Die hele nag lê ek wakker en oorpeins ek u woord. Handel volgens u liefde, Here, luister tog na my. Laat u bepalings geld, hou my in die lewe. Dié wat my met soveel lis vervolg, kom steeds nader, maar van u wet af bly hulle ver. U is by my, Here, alles wat U gebied het, staan vas. Van lankal af weet ek van u verordeninge dat U hulle altyd vas laat staan. Aanskou tog my ellende en red my, want u wet het ek nie verontagsaam nie. Behartig tog my saak en bevry my, hou my in die lewe volgens u belofte. Vir die goddeloses is daar nie uitkoms nie, want hulle steur hulle nie aan u voorskrifte nie. U barmhartigheid is groot, Here, laat u bepalings geld, hou my in die lewe. Ek het baie vervolgers en teëstanders, maar van u verordeninge wyk ek nie af nie. Ek het die verraad van die ontroues gesien, en dit het my met walging vervul dat hulle u woord nie gehoorsaam nie. Neem tog in ag dat ek u bevele liefhet, Here, hou my in die lewe omdat U my liefhet. Op u woord kan 'n mens hom geheel en al verlaat. Al u bepalings is regverdig. Hulle staan vas. Maghebbers vervolg my sonder oorsaak, maar u woord is die enigste wat ek vrees. Oor u woord is ek so bly soos iemand wat 'n groot skat in die hande gekry het. Ek haat en verafsku leuens, maar u wet het ek lief. Ek loof U soveel keer elke dag oor u bepalings. Hulle is regverdig. Vir dié wat u wet liefhet, is daar groot sekerheid; niks kan hulle laat struikel nie. Ek vestig my hoop op hulp van U, Here, u gebooie gehoorsaam ek. Ek kom u verordeninge na, ek het hulle baie lief. U bevele en verordeninge gehoorsaam ek. My hele lewe lê oop voor U. Gee tog ag op my geroep, Here, gee my insig soos U beloof het. Luister tog na my smeekgebed, red my volgens u belofte. Die lof sal oor my lippe stroom, want U leer my u voorskrifte. Ek sal u woord besing, want al u gebooie is regverdig. Help my tog altyd, want ek stel u bevele eerste. Ek smag na u hulp, Here, in u wet vind ek my vreugde. Laat my lewe dat ek U kan loof, laat u bepalings my steun wees. As ek sou ronddwaal soos 'n skaap wat weggeraak het, soek my dan, want u gebooie het ek nie verontagsaam nie.