U bepalings is wonderlik;
daarom hou ek daarby.
As u woorde oopgaan, gee dit lig;
dit gee insig aan onkundiges.
Met 'n oop mond hyg ek,
want ek hunker na u gebooie.
Draai na my en wees my genadig,
soos U gewoonlik maak
met hulle wat u Naam liefhet.
Maak my treë ferm met u woord
en laat geen onreg oor my heers nie.
Bevry my van onderdrukking
deur mense,
sodat ek u opdragte kan nakom.
Laat die lig van u aangesig
oor u dienskneg skyn,
en leer my u voorskrifte.
Strome water vloei uit my oë,
omdat mense nie u wet nakom nie.
Regverdig is U, HERE,
en u beslissings is reg.
U het in •geregtigheid
u bepalings uitgevaardig,
en in goeie trou.
My ywer verteer my
omdat my teenstanders
u woorde vergeet.
U woord is volkome gelouter
en u dienskneg het dit lief.
Ek is klein en word geminag,
maar u opdragte vergeet ek nie.
U geregtigheid is regverdig
vir ewig
en u wet is betroubaar.
Benoudheid en angs
het my oorval,
maar u gebooie is my vreugde.
U bepalings is regverdig vir ewig;
gee my insig, sodat ek kan lewe.
Ek roep met my hele hart:
“Antwoord my, HERE,
u voorskrifte wil ek onderhou!”
Ek roep na U: “Verlos my
sodat ek u bepalings kan nakom!”
Voor die oggendskemer
roep ek al om hulp;
op u woorde wag ek.
Met oop oë gaan ek
elke nagwaak in,
sodat ek oor u woord kan nadink.
Luister tog in u troue liefde
na my stem,
HERE, hou my lewend
volgens u beslissing.
Mense wat slinkse planne
najaag, kom nader;
hulle bly ver van u wet.
Maar U, HERE, is naby,
en al u gebooie is betroubaar.
Uit u bepalings weet ek lank reeds
dat U dit vir ewig gevestig het.
Sien tog my ellende raak
en red my,
want u wet vergeet ek nie.
Behartig my regsaak
en verlos my;
hou my lewend op grond van
u belofte.
Verlossing bly ver van goddeloses,
want hulle streef nie
u voorskrifte na nie.
U ontferming is groot, HERE;
hou my lewend volgens u beslissings.
My agtervolgers en teenstanders
is baie,
maar van u bepalings
wyk ek nie af nie.
Ek het ontroues gesien
en dit het my met weersin vervul
dat hulle u woord nie onderhou nie.
Sien tog raak
dat ek u opdragte liefhet,
HERE, maak my lewend
in ooreenstemming met
u troue liefde.
Die wese van u woord
is betroubaarheid,
en elkeen van u regverdige
beslissings is vir ewig.
Leiers vervolg my sonder rede,
maar net vir u woord het my hart
'n heilige vrees.
Ek verheug my oor u woord,
soos iemand wat 'n groot buit
gevind het.
Ek haat en verafsku valsheid,
maar u wet het ek lief.
Sewe keer per dag loof ek U
oor u regverdige beslissings.
Groot vrede is daar vir hulle
wat u wet liefhet;
vir hulle is daar
geen struikelblokke nie.
Ek vestig my hoop
op u verlossing, HERE,
en ek voer u bevele uit.
Ek kom u bepalings na;
ja, ek het dit baie lief.
Ek kom u opdragte
en u bepalings na,
want al my paaie lê oop voor U.
Laat my klaagroep voor U kom, HERE;
gee my insig ooreenkomstig u woord.
Laat my smeekgebed U bereik,
red my volgens u belofte.
My lippe laat lofprysing uitstroom,
want U leer my u voorskrifte.
My tong besing u woord,
want al u gebooie is regverdig.
Laat u hand my te hulp kom,
want ek verkies u opdragte.
Ek verlang na u verlossing, HERE;
u wet is my vreugde.
Hou my lewend
sodat ek U kan loof
en laat u beslissings my help.
Ek dwaal rond
soos 'n verlore skaap;
soek tog u dienskneg.
U gebooie vergeet ek immers nie.